Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Comair kry uitstel vir reddingsplan

Die sakeredders van Comair, Richard Ferguson en Shaun Collyer, kon krediteure oortuig dat die uitreiking van die sakereddingsplan vir ’n derde keer uitgestel moet word.

Comair besit Kulula en bedryf British Airways in Suid-Afrika. Foto: Comair

Krediteure het tot 12:00 gehad om beswaar teen die uitstel tot 28 Julie aan te teken.

In ’n verklaring sê die sakeredders die nodige meerderheid van krediteure het óf ingestem óf versuim om nee te sê teen die spertyd.

Ferguson beklemtoon egter dat die uitstel bloot is om ’n moontlike bron van finansiering vir die sakereddingsproses te verkry, en nie vir enige ander rede nie.

“Ons was van die begin af duidelik dat finansiering nodig sal wees om hierdie onderneming te red. Ons het aansienlike vordering gemaak met die ondersoek van ’n uitdrukking van belangstelling en nou moet die beleggersgroep die wetlike aspekte oorweeg,” sê Ferguson.

Die aanbod vir finansiering is ter elfder uur op 21 Junie ontvang, slegs twee dae voordat die plan veronderstel was om gepubliseer te word ná die eerste uitstel vanaf 9 Junie.

Volgens die sakeredders is die niebindende aanbod moontlik genoeg om die hele sakereddingsproses te finansier in ruil vir ekwiteit in die maatskappy, maar ook deur skuld aan te gaan.

Aanvanklik het die sakeredders gedink die maatskappy sal herkapitaliseer moet word deur middel van onder meer die uitreik van nuwe aandele, maar dit sou die huidige aandeelhouers se belange wesenlik verwater.

Die nuwe aanbod is dus oënskynlik ’n baie beter opsie, maar sal nou vier weke verg om te vorder tot ’n punt waar dit by die sakereddingsplan ingesluit kan word.

“Daar is geen ander rede om krediteure vir die uitstel te vra nie. Finansiering is fundamenteel tot hierdie plan en ons kan nie redelikerwys verwag dat die betrokke partye daaroor sal stem totdat ons ’n bindende aanbod het nie,” sê Ferguson.

Die maatskappy is op 5 Mei in sakeredding geplaas en alle vlugte bly ondanks die verslapping van die reisbeperkings op vlak 3 van die staat van inperking opgeskort.

Meer oor:  British Airways  |  Kulula  |  Comair  |  Covid-19  |  Inperking  |  Staat Van Inperking  |  Lugdienste  |  Koronavirus  |  Sakeredding  |  Vlak 3
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.