Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Comair skryf SAL-skuld tydelik af

Comair maak nou voorsiening vir die verlies van die hele bedrag wat die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) hom skuld – ’n enorme bedrag van R790 miljoen.

’n Vliegtuig van die laekoste-lugdiens Kulula by die internasionale lughawe OR Tambo in Johannesburg. Foto: Getty Images

Comair, wat die lugdienste Kulula en British Airways in Suid-Afrika bedryf, sê daar hang ’n groot vraagteken daaroor of die SAL, wat in sakeredding is, sy skuld gaan betaal.

Vantevore is verliesvoorsiening van sowat ’n derde van die bedrag, R285 miljoen, op die lugdiens se boeke aangeteken vir die halfjaar tot einde Desember. Dit word nou verhoog tot die volle bedrag vir rekenkundige doeleindes.

“Ongeag die toename in die verliesvoorsiening, beoog Comair steeds om die volle uitstaande skikkingsbedrag wat die SAL skuld aggressief na te jaag, en ons sal alle beskikbare opsies ontgin om die volle uitstaande bedrag te herwin,” luidens ’n handelsverklaring wat die lugdiens op Sens uitgereik het.

Comair het verlede week gesê weens die uitstaande skuld gaan sy verdienste en wesensverdienste per aandeel met 170% tuimel. Dit word nou verhoog tot tussen 534% en 554%.

Dit gaan tot ’n verlies lei wat tussen 118c en 123c per aandeel sal beloop, teenoor die vorige jaar se verdienste van 27,2c per aandeel.

Die SAL is ná ’n jare lange hofstryd met R1,1 miljard vir teenmededingende gedrag beboet en ’n afbetalingsooreenkoms is beding.

Die afbetalings het in Februarie 2019 begin en moes tot 28 Julie 2022 duur.

Die lugdiens het egter in Desember opgehou betaal, wat kontrakbreuk is. Ingevolge die kontrak word die volle agterstallige bedrag dan onmiddellik betaalbaar.

Comair reik na verwagting op 26 Februarie sy resultate uit.

Meer oor:  British Airways  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Kulula  |  Comair  |  Aandele  |  Resultate  |  Lugdienste  |  Skuld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.