Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Comair vra wéér uitstel vir reddingsplan

Comair se sakeredders vra nou vir die derde keer uitstel vir die lugdiens se sakereddingsplan in ’n poging om finansiering te bekom.

Comair, wat British Airways en Kulula.com in Suid-Afrika bedryf, is al sedert 5 Mei in sakeredding. Foto: Comair

In ’n verklaring op Sens, die JSE se nuusdiens, vra die sakeredders, Shaun Collyer en Richard Ferguson, nog vier weke uitstel, tot 28 Julie.

Die sakeredders het op 21 Junie ’n niebindende aanbod vir finansiering ontvang van ’n belangstellende party wat ’n reddingsboei vir die maatskappy kon wees.

Die sakeredders het op 23 Junie, toe die plan laas verwag was, aansoek gedoen vir ’n week uitstel tot 30 Junie om oor die aanbod te onderhandel.

Volgens Collyer en Ferguson is die onderhandelinge nog nie afgehandel nie. Die deurslaggewende belang van die aanbod vereis dat nog tyd toegestaan word sodat dit hopelik ’n bindende aanbod kan word.

Collyer en Ferguson sê die jongste aanbod sal finansiering vir die sakereddingsproses verskaf en uit ’n mengsel van skuld en ekwiteit bestaan.

Aanvanklik het die sakeredders gedink die maatskappy sal herkapitaliseer moet word deur middel van onder meer die uitreik van nuwe aandele, maar dit sou die huidige aandeelhouers se belange wesenlik verwater.

Die nuwe aanbod is dus oënskynlik ’n baie beter opsie, maar sal nou vier weke verg om te vorder tot ’n punt waar dit by die sakereddingsplan ingesluit kan word.

Die maatskappy is op 5 Mei in sakeredding geplaas en alle vlugte bly ondanks die verslapping van die reisbeperkings op vlak 3 van die staat van inperking opgeskort.

Die sakereddingsplan sou op 9 Junie uitgereik word, tien dae ná die aanvanklike datum, maar die sakeredders het toe uitstel tot 23 Junie gevra. Dit was omdat Comair nog besig was om sy finansiële state vir April af te handel en dié inligting nodig was sodat die sakeredders krediteure se eise met die maatskappystate kon laat klop.

Comair se aandeelverhandeling op die JSE is vir eers opgeskort. Die aandeelprys staan tans op R1.

Krediteure moes Dinsdag oor die versoek om uitstel stem.

Die sakeredders het krediteure net tot 12:00 gegee om skriftelik te weier. Enige krediteure wat teen die spertyd nog nie geantwoord het nie, sal as ’n ja-stem vir die versoek getel word.

Comair besit Kulula en bedryf British Airways in Suid-Afrika.

Meer oor:  British Airways  |  Kulula  |  Comair  |  Covid-19  |  Inperking  |  Staat Van Inperking  |  Lugdienste  |  Koronavirus  |  Sakeredding  |  Vlak 4
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.