Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Consol ‘ly groot verliese weens alkohol-verbod’

Die alkoholbedryf het ’n wesenlike effek op verskeie sektore – van restaurante en kleinhandelaars tot glasvervaardigers soos Consol.

Michael Arnold, uitvoerende hoof van Consol, is die jongste applikant in die saak waarin die Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) die regering oor die voortslepende verbod op alkoholverkope voor die hof daag.

Ook die Restaurantvereniging van Suid-Afrika (Rasa) het sy gewig agter dié saak ingegooi in die stryd om die alkoholverbod gelig te kry.

Die SAB het op 19 Januarie aanvullende verklarings in sy saak by die hooggeregshof in Kaapstad ingedien.

Rasa, Consol en twee sjefs se verklarings is bygevoeg.

Pres. Cyril Ramaphosa en dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, word as respondente gelys.

Ramaphosa het die algehele verbod op die verkoop van alkohol op Maandag 28 Desember as deel van die aangepaste vlak 3-inperkingsregulasies afgekondig.

Indien die verbod aanhou, sal die bedryf nie weer sulke massiewe verliese kan absorbeer nie.

Volgens die SAB maak die heersende derde drankverbod inbreuk op heelparty menseregte, onder meer die reg om vryelik handel te dryf en die reg op privaatheid en menswaardigheid.

Arnold sê sowat 82% van hul sake hou met die alkoholbedryf verband.

In 2019 het dié maatskappy sowat R11,8 miljard tot die staatskas bygedra en sowat 26 000 werkgeleenthede onderhou. “Sonder die alkoholbedryf kan die glasbedryf nie voortbestaan nie,” sê hy.

Arnold sê die vorige twee kere toe ’n verbod op alkoholverkope geplaas is, het Consol ’n verlies van R1,1 miljard gely.

Hy sê dit kos R6,7 miljoen per dag om die smeltoonde aan te hou. Die oonde kan nie bloot aan- en afgeskakel word nie.

Boonop moes Consol weens die onsekerheid die bou van ’n nuwe vervaardigingsaanleg in Ekurhuleni van R1,5 miljard opskort.

“Indien die verbod aanhou, sal die bedryf nie weer sulke massiewe verliese kan absorbeer nie,” sê hy.

Wendy Alberts, Rasa-voorsitter, verwys in haar verklaring na ’n nasionale peiling wat onder restauranteienaars gedoen is. Tot 18 Januarie het 268 restaurante daaraan deelgeneem. Altesaam 91% het gesê alkohol speel ’n belangrike rol in hul volhoubaarheid, en 71% het gesê hulle moes al werknemers aflê.

Steven Maresch en William Tomlin, twee restauranteienaars, het ook verklarings ingedien.

Maresch is die eienaar van die Local Grill in Parktown, Johannesburg, en Tomlin besit nege restaurante in die Kaap.

Albei is bekommerd oor hul restaurante se voortbestaan.

Maresch sê die kanse is groot dat hy die Local Grill ná 18 jaar sal moet sluit. Dit beteken dat 34 mense hul werk sal verloor en die verskaffers van produkte aan die restaurant sal ook negatief geraak word.

Tomlin het reeds een van sy restaurante gesluit en 24 personneellede afgelê.

Dit is duidelik dat alkoholverkope ’n beduidende bydra tot restaurante se wins lewer. Tomlin sê in sy restaurante maak dit sowat 35% van die totale wins uit.

Richard Temple Rivett-Carnac, direkteur van die SAB, het in sy aanvullende verklaring gesê die maatskappy word verhoed om ingevoerde bier en ander produkte, wat van oorsee bestel is voordat die nuwe verbod ingestel is, van die hawe na sy pakhuise te vervoer. In een geval is ’n bestuurder van ’n afleweringsmaatskappy in hegtenis geneem en die polisie het die bier in ’n pakhuis toegesluit.

Die bier was afkomstig van Mexiko, en Rivett-Carnac sê elke dag dat die skeepsvraghouers op die hawe staan, kos dit die SAB baie geld.

Die staat moet Maandag sy repliek indien voordat ’n datum vir die aanhoor van die saak bevestig kan word.

Meer oor:  Koronavirus  |  Consol  |  Drankverbod  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.