Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Corona en Heineken jaag vir ‘groen punte’

Corona-bier is eerste uit die blokke om die status te kry as ’n drankhandelsnaam wat geen plastiek-voetspoor agterlaat nie.

Die plastiek wat Corona saam met vrywilligers op strande opgeruim het, kan meer as 44 miljoen vierkante meter op ’n strand dek. Foto: Unsplash

Volgens riglyne wat maatskappye se plastiek-voetspoor meet, het Corona dit regkry om meer plastiek uit die omgewing te haal as wat dit die wêreld instuur.

Die 3RI Corporate Plastic Stewardship-riglyne word ingespan om handelsname se plastiek-voetspoor oor die aardbol heen te meet. Die riglyne is ingestel deur South Pole, ’n maatskappy wat hom beywer om maatskappy te help met oplossings oor klimaatsake en volhoubaarheid.

Handelsname se verbruik van plastiekprodukte word ondersoek, tesame met plastiek wat tydens verspreiding gebruik word.

Die Verra Plastic Waste Reduction-standaard word dan gebruik om die impak van Corona se aktiwiteite op die omgewing te meet. Dit neem ook in ag hoe die handelsnaam plastiek herwin.

Corona word besit deur AnheuserBusch InBev (AB InBev), wat ook die Suid-Afrikaanse Brouery (SAB) besit.

Die Mexikaanse bier is onlangs aangewys as die gewildste bier wêreldwyd, volgens Brand Finance se lys van die 15 gewildste biere vir 2021. Dis ondanks ’n inkrimping van 28% in sy handelsnaamwaarde die afgelope jaar.

Die bier se waarde staan volgens Brand Finance tans op $5,82 miljard.

Tot op hede het Corona meer 1 400 keer strande help skoonmaak en só 68 000 vrywilligers byeengebring om plastiek op te tel.

Corona wil ook nou verbruikers help om hul persoonlike plastiek-voetspoor te meet en raad te gee oor hoe om dit te verminder met sy Plastic Reality-app. Verbruikers meet hul jaarlikse plastiek-voetspoor deur eenvoudige vrae oor verbruikersgedrag te beantwoord.

Wat doen Heineken?

Die Nederlandse biermaatskappy Heineken het vroeër die week op Bloomberg aangekondig sy bestuurders se salarisse en bonusse gaan binnekort bepaal word deur hul bereidwilligheid om deel te neem aan die geveg teen klimaatsverandering.

Heineken wil teen 2024 geen besoedeling in die lug vrystel nie.

“Ons kyk nou na hoe ons bestuurders se vergoeding hiermee kan inskakel,” sê Dolf van den Brink, Heineken se uitvoerende hoof in ’n onderhoud op Bloomberg TV.

Volgens hom besef Heineken hoe belangrik dit die afgelope jaar geword het om te voldoen aan die verwagtinge van maatskappye se belanghebbendes wat betref aksies wat geneem word om klimaatsverandering te beveg.

Omtrent 90% van Heineken se uitlaatgasse kom vanaf verskaffers, verpakking en die logistiek vir die berging en vervoer van sy bier.

Die ander 10% word afgegee wanneer bier vervaardig word.

Dit gaan volgens Van den Brink moeilik wees om emissie vanaf sy verskaffingskant te verminder. Hy het bygevoeg in die toekoms kan dit beteken Heineken sal bande met van sy verskaffers moet breek as hulle nie bereid is om hul deel by te dra tot die bekamping van klimaatsverandering nie.

Meer oor:  Drank  |  Bier  |  Drankverbod  |  Drankbedryf  |  Drankwinkels  |  Bierbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.