Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Corona vaar goed in China - ondanks koronavirus

Die Covid-19-virus het die wêreld se grootste bierbrouery al verlore inkomste van $285 miljoen gekos en wins van $170 miljoen, net in die eerste twee maande van die jaar.

Toe die koronavirus Covid-19 uitgebreek het, was daar heelwat internetgrappe oor die Mexikaanse bier Corona, wat deur AB InBev vervaardig word. Foto: Bloomberg

Anheuser-Busch InBev (AB InBev) sê die uitbreking het tot ’n groot daling in die vraag na bier in China gelei – nie net in restaurante en kroeë nie, mense het selfs tuis minder bier gedrink. Die Chinese Nuwejaar het saamgeval met die beginfases van die uitbreking, wat ’n belangrike partytjietyd in China beïnvloed het.

Ondanks internetgrappies oor Corona en die koronavirus, is Corona juis een van die sterkste handelsname in China, met “sterk dubbelsyfergroei” in verkope. Corona is volgens AB InBev waarskynlik die markleier vir superpremie-bier in die land. Budweiser se verkope in die jaar gedaal, maar dit bly die land se markleier in premie-bier. 

AB InBev, wat ook in Suid-Afrika genoteer is, het Donderdag sy resultate vir die boekjaar tot einde Desember uitgereik. Dit toon ’n styging van 4,3% in die groep se inkomste en van 1,1% in die volume bier en koeldrank wat wêreldwyd verkoop is.

AB InBev beskryf die jaar se prestasie as “benede ons verwagtinge, en ons is nie tevrede met die resultate nie”.

Druk op verbruikers in verskeie lande knou bierverkope.

Dit sluit in Suid-Afrika, waar AB InBev vir SAB besit. Die Mexikaanse bier Corona, die vrugtedrankie Brutal Fruit en die gegeurde bier Flying Fish was die sterre in sy kroon.

AB InBev gee nie spesifieke syfers vir Suid-Afrika aan nie, maar raam dat sy markaandeel van alle alkoholverkope in die land met twee persentasiepunte gestyg het.

Verkope van AB InBev se premie-biere, Budweiser, Corona en Stella Artois, groei vinniger as die res van die drankbedryf en die maatskappy sê hy het nou die hoogste markaandeel tot dusver in dié kategorie.

AB InBev gee wel toe dat hy sy pryse besnoei het “in die lig van die uitdagende makro-ekonomiese omgewing”. Dit het sy verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en afskrywings (ebitda) in Suid-Afrika laat daal, en sy ebitda-winsgrens het met ses persentasiepunte getuimel.

Die strategie om wins prys te gee ten einde steeds volumeverkope te groei, het AB InBev se wins wêreldwyd geknou. Die maatskappy se bruto wins het met 3,4% tot nagenoeg $32 miljard gedaal en sy bruto winsgrens is 1,13 persentasiepunte laer op 61,1%.

AB InBev sê hy het die verwagte besparing van $3,2 miljard weens die samesmelting met SABMiller in 2016 in die derde kwartaal van 2019 bereik.

AB InBev keer ’n finale dividend van €1 per aandeel uit. Dit bring die totale dividend op €1,80 te staan.

Meer oor:  Ab Inbev  |  Sab  |  Sabmiller  |  Drankbedryf  |  Covid-19  |  Drank  |  Bier  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.