Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Coronation se wins spring 44% ná markte herstel

Die fondsbestuurder Coronation se wins het die afgelope halfjaar met 44% gestyg danksy die feit dat die pandemie baie geleenthede vir aktiewe beleggers geskep het.

Baie van Coronation se fondse het beter as hul maatstawwe presteer. Foto: iStock

Die ongekende stimulus wat deur sentrale banke wêreldwyd in ekonomieë gepomp is, het nie net tot rekordopbrengste op kort termyn in die markte gelei nie, dit het ook gelei tot uitstekende resultate vir Coronation.

Die meeste groot internasionale aandele-indekse was einde Maart vanjaar meer as 50% hoër as die laagtepunt wat in Mei 2020 bereik is toe paniek onder beleggers geheers het oor die impak van die pandemie op die ekonomie.

“Die afgelope jaar was ’n uitsonderlike jaar vir Coronation se kliënte en aandeelhouers. Die resultate vir die ses maande tot einde Maart is uitstekend, met die inkomste en die wins uit fondsbestuur wat onderskeidelik 23% en 36% hoër is as in die ooreenstemmende verslagtyd,” sê Anton Pillay, uitvoerende hoof.

Die wins in die ses maande het met 44% tot R895 miljoen gestyg.

“Dit was danksy die skerp herstel in die markte sedert Maart 2020 en die feit dat ons in ons belangrike beleggingsmandate sterk beter as ons maatstawwe gepresteer het.”

Volgens hom het die mark se reaksie op die koronaviruspandemie geleenthede vir aktiewe beleggers soos Coronation geskep wat selde gesien word.

Dié siening is ook verlede week deur Hendrik du Toit, Ninety One se uitvoerende hoof, gehuldig.

“Ons het dit in sterk opbrengste in ons kliënte se portefeuljes omgeskep, wat ’n positiewe impak op ons inkomste gehad het,” sê Pillay.

Hy maan egter dat dié prestasie onwaarskynlik herhaal gaan word en dat opbrengste vorentoe laer gaan wees as wat die afgelope jaar behaal is.

Geld vloei uit, maar bates styg

Coronation ervaar steeds ’n netto uitvloei – meer geld word dus onttrek as belê.

Dit word toegeskryf aan tendense wat die hele bedryf wat van spaargeld afhanklik is, beleef.

Desnieteenstaande het die bates onder bestuur met 11% tot R629 miljard (teenoor R569 miljard einde September) gestyg.

Coronation bestuur ’n wesenlike deel van die aftreefondsgeld in die plaaslike mark. Dit verteenwoordig R287 miljard van sy bates onder bestuur (vergeleke met R224 miljard in Maart 2020).

Pillay sê die netto uitvloei van aftreegeld uit Coronation se fondse stem ooreen met wat geraam is die hele aftreefondsbedryf die afgelope jaar ondervind het.

“As gevolg van die moeilike ekonomiese omstandighede glo ons dat die vloei van geld in die bedryf in die afsienbare toekoms onder druk gaan bly.”

Dit hou verband met min werkskepping en werkverliese, terwyl daar ook aftreefondslede is wat aftree.

Die geld wat vir gewone beleggers bestuur word, het einde Maart R262 miljard beloop (Maart 2020: R216 miljard).

Die kontantuitvloei uit langtermynfondse stem grootliks ooreen met wat die res van die bedryf ondervind het.

“Ons verwag dat die kontantvloei van kliënte af onder druk gaan bly gegewe die beperkte geleenthede vir groei in die ekonomie en die gebrek aan beleggersvertroue wat oor die algemeen in die mark heers.”

’n Tussentydse dividend van 224c per aandeel is verklaar.

Meer oor:  Coronation  |  Aandele  |  Batebestuursfirma  |  Beleggings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.