Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Coronation: Krisis gaan spaarpot verder laat krimp

Die poel aftreegeld in pensioenfondse in Suid-Afrika gaan in die komende maande te midde van die Covid-19-verwante ekonomiese krisis verder krimp, sê Coronation.

business, savings, annuity insurance, age and peop
Afleggings beteken meer mense onttrek geld uit hul pensioenfonds. Foto: iStock

Die batebestuursfirma het Dinsdag sy resultate vir die halfjaar tot einde Maart uitgereik. Dit toon die bates wat hy bestuur, het met 11% of met R63 miljard van R571 miljard einde September tot R508 miljard einde Maart gedaal.

Die grootste gedeelte van die daling in die bates onder bestuur hou verband met die skerp daling van finansiële markte wêreldwyd in reaksie op die Covid-19-pandemie, volgens Anton Pillay, uitvoerende hoof.

In die ses maande het die JSE se indeks van alle aandele met amper 18% gedaal.

“Die pandemie het die finansiële markte met ’n snelheid en felheid getref wat normaalweg net in ’n tipiese finansiële krisis beleef word, en het die wêreldekonomie in ’n resessie gedompel. Internasionale aandeelindekse het binne weke van rekordhoogtes na beermarkte geval.

“Hoewel die aanvanklike reaksie in Suid-Afrika om die virus te beheer, geprys moet word, is dit duidelik dat die enorme ekonomiese koste van die inperking reeds ’n baie groot tol geëis het op ons land,” het Pillay en Shams Pather, voorsitter van Coronation se direksie, in ’n verklaring aan beleggers gesê.

’n Gedeelte van die daling in bates onder bestuur is as gevolg van ’n netto uitvloei van geld (meer is onttrek as wat belê is). Dit het 3,8% beloop van die bates onder bestuur waarmee die halfjaar begin is, dus sowat R21,6 miljard.

k

Pensioenfondse

Einde Maart het Coronation R292 miljard se institusionele bates bestuur vergeleke met R331 miljard einde September.

Die gedeelte daarvan van Suid-Afrikaanse instellings beloop R224 miljard. Die bates onder bestuur vir Suid-Afrikaanse pensioenfondse het met R41 miljard van einde September se R265 miljard gedaal.

Die netto uitvloei het 5,8% van die bates aan die begin van die tydperk beloop, dus sowat R15,3 miljard.

Coronation het al voorheen verwys na die tendens in Suid-Afrika dat die poel geld wat vir aftrede gespaar word, krimp omdat so min mense werk en meer mense hul werk verloor en uittree.

Die huidige ekonomiese krisis gaan dit vererger.

“Ons verwag ’n deurlopende uitvloei wat die krimping van die plaaslike spaarpot gaan vererger weens werkgewers wat onder finansiële druk is en personeel moet aflê of hul inkomste moet verminder.”

Boonop gaan die bydraes tot pensioenfondse ook op kort termyn negatief geraak word deur die premievakansies van drie tot ses maande wat aftreefondse aan lede bied midde-in die Covid-19-krisis.

“Dit gaan ook ’n daling in bydraes tot pensioenfondse meebring.”

Dit sal afhang hoe pensioenfondslede op die inisiatief van die bedryf reageer.

Hy sê dis nog te vroeg om ’n invloed op aftreefondse in April en Mei te kon sien. “Ek glo ons gaan dit eers in die komende ses tot 12 maande begin sien.”

Gewone beleggers

Die bates wat in effektetrustsfondse bestuur word wat gewone beleggers belê het, het met R24 miljard van R240 miljard einde September tot R216 miljard afgeneem.

Dit is ook gedeeltelik weens ’n netto uitvloei van geld.

“Ons verwag dat kliënte se kontantvloei onder toenemende druk gaan wees, want huishoudings wat reeds sukkel se inkomste gaan verder geknou word deur die ekonomiese skok van Covid-19.”

Dividend verklaar

Pillay sê Coronation se inkomste het ten spyte van die ongekende omgewing met 8% tot R1,8 miljard gestyg.

Die wins vir die halfjaar het ook met 8% tot R624 miljoen gestyg.

Volgens hom kan dit toegeskryf word aan die prestasie in beleggingsportefeuljes op kort termyn vergeleke met hul maatstawwe wat prestasiegelde verhoog het.

Koste is ook streng beheer.

’n Tussentydse dividend is verklaar van 178c per aandeel – 8% hoër as in die ooreenstemmende tyd.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.