Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Coronation se wins val skerpste sedert 2008
NANJING, CHINA - MAY 30: (CHINA OUT)  An investor
Gewone beleggers het in die ses maande bykans R7 miljard meer onttrek as wat belê is in die effektetrustsfondse wat Coronation bestuur. Foto: Getty Images

Die fondsbestuurder Coronation se wins het in die afgelope halfjaar tot einde Maart die skerpste sedert die internasionale finansiële krisis van 2008 gedaal.

Dit volg nadat swak ekonomiese toestande beleggers meer geld laat onttrek het as wat gespaar is.

Gewone beleggers het in die ses maande bykans R7 miljard meer onttrek as wat belê is in die effektetrustsfondse wat Coronation bestuur.

Anton Pillay, uitvoerende hoof, skryf dit toe aan die swak ekonomiese toestande wat veroorsaak dat mense minder spaar.

Terselfdertyd beleef die pensioenfondsbedryf steeds meer onttrekkings as wat maandeliks bygedra word, en ook hier uit die fondse wat Coronation bestuur, is weer ’n netto uitvloei van geld beleef. Dit duur al sedert 2015.

In geheel het Coronation ’n groter netto uitvloei van R21 miljard in die afgelope ses maande ondervind as in die ooreenstemmende tydperk in 2018. Dit sluit in ’n netto uitvloei van internasionale geld.

Coronation bestuur R586 miljard se bates namens pensioenfondse en gewone beleggers. Die gedeelte van pensioenfondse van Suid-Afrika is R278 miljard en gewone beleggers s’n R240 miljard, met die res van oorsese beleggers.

“Coronation se resultate vir die ses maande tot einde Maart weerspieël die uiters moeilike toestande in die finansiële markte tot einde Desember, wat effens verbeter is deur ’n sterk herstel in die eerste kwartaal,” sê Pillay.

Die JSE het in die eerste kwartaal met 8% gestyg, maar oor die ses maande ’n opbrengs van net 2,7% gelewer.

coronation

Volgens Pillay is ’n betekenisvolle verbetering in die prestasie van sy fondsbestuurstrategieë op kort termyn gesien. Dit het waarskynlik gehelp dat die netto uitvloei nie sy bates skerper afgetrek het nie. Oor die ses maande het sy bates onder bestuur net R1 miljard of 0,1% gedaal van die begin van die tydperk af.

Die gemiddelde bates onder bestuur oor die tydperk gemeet per maand vergeleke met wat dit in die ooreenstemmende tydperk was, het egter skerper met 8% gedaal.

Dit het daartoe bygedra dat sy inkomste én wins die skerpste sedert 2008 se internasionale finansiële krisis gedaal het, toon inligting wat Netwerk24 ingesamel het.

Coronation se inkomste het met 22% tot R1,6 miljard gedaal.

Sy wins het nog skerper met 26% tot R578 miljoen geval tot die laagste vlak in ses jaar.

Die tussentydse dividend per aandeel het dienooreenkomstig gedaal tot 165,1c per aandeel.

Pensioenfondse

Coronation het einde Maart R278 miljard se bates vir pensioenfondse bestuur.

Dit was R7 miljard minder as aan die begin van die tydperk nadat ’n netto uitvloei van R12 miljard beleef is wat ooreenstem met wat in die ooreenstemmende tydperk beleef is.

Pillay sê die bedryf beleef steeds ’n netto uitvloei van geld uit pensioenfondse.

“Dit word veroorsaak deur jare se lae ekonomiese groei en ’n swak spaardissipline onder Suid-Afrikaners.”

Ook internasionale geld van instellings was ongeveer R7 miljard minder ná ’n netto uitvloei. Hy meen dit is ’n “redelike gevolg gegewe die voortgesette wesenlike verskuiwing van aktief na passiewe batebestuurstrategieë”.

Gewone beleggers

Einde Maart het Coronation R240 miljard vir gewone beleggers in effektetrustsfondse bestuur.

“Die netto invloei vir die hele bedryf was weer eens onderdruk weens die swak ekonomiese toestande wat ’n impak op spaar het.”

Netto uitvloei van R6,9 miljard is beleef wat baie meer as in die ooreenstemmende tydperk is. Dit is hoeveel meer geld deur kliënte onttrek is as wat deur ander kliënte belê is.

Meer oor:  Coronation  |  Resultate  |  Effektetrustfondse  |  Beleggers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.