Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Covid-19: Banke tob oor bonusse, dividende
Banke is ook gevra om die uitkeer van dividende op te skort. Foto: Brendan Croft

Selfs bankbase gaan waarskynlik vanjaar ’n tjek of twee prysgee – en dít juis terwyl hul stresvlakke juis op hul hoogste in tien jaar is.

Die Omsigtigheidsowerheid (Prudential Authority, PA), die afdeling van die Reserwebank wat banke reguleer, het banke dié week aangeraai om kontantbonusse aan topbestuurders tydelik op te skort ten einde hul kapitaalreserwes te beskerm.

Banke is ook gevra om die uitkeer van dividende op te skort, maar drie groot banke het reeds hul finale dividend verklaar en nog een het sy tussentydse dividend reeds voor die PA se versoek aan aandeelhouers betaal.

Die PA se versoek kom in die lig van die finansiële stres wat die staat van inperking weens die Covid-19-pandemie vir huishoudings en maatskappye, veral kleinsakeondernemings, veroorsaak. Die reguleerder wil dit juis vir banke makliker maak om dié kliënte wat geraak word, by te staan sonder om self in die sop te beland.

Suid-Afrika se banke het ’n kollektiewe wins van tot R80 miljard per jaar, waarvan byna die helfte gewoonlik as dividende uitgekeer word. Deur nie dividende uit te keer nie, kan banke hul kapitaalbuffers beskerm, selfs al styg swak skuld.

Die PA het banke geloof vir die aankondigings dat kliënte met lenings sal bystaan as hulle weens die inperking hul inkomste verloor of dit verminder is.

“’n Veilige, gesonde en robuuste bankstelsel is ’n belangrike deel van Suid-Afrika se skokbrekers in dié tye.”

Verskeie banke het aangekondig sekere mense sal outomaties gehelp word, terwyl ander aansoek kan doen om hulp.

Die reguleerder het dit ook vir banke goedkoper gemaak om lenings te herstruktureer.

Die PA gaan tydelik die kapitaalkoste van herstruktureerde lenings dieselfde hou as dié van ander lenings. Dit is slegs as lenings herstruktureer word weens die impak van die Covid-19-krisis en geld ook net vir die duur van die krisis.

Ander maatreëls wat die PA ingestel het om banke by te staan, is om die hoeveelheid likiede bates soos kontant wat hulle ingevolge wetgewing beskikbaar moet hê, te verlaag.

’n Veilige, gesonde en robuuste bankstelsel is ’n belangrike deel van Suid-Afrika se skokbrekers in dié tye.

Die verlaging van dié vereistes kan as omstrede beskou word wanneer skuld hoogty vier – dis juis verhoog ná die 2008-’09- wêreldwye finansiële krisis, wat deels ontstaan het omdat banke te veel swak skuld op hul boeke gehad het.

Die verslapping van vereistes om krediet toe te staan, word egter ook beskou as ’n manier om die ekonomie te ondersteun, en die PA is vol vertroue dat Suid-Afrikaanse banke nie sal ondergaan as gevolg daarvan nie. Die meeste banke het ieder geval hoër kapitaalreserwes as wat wetgewing streng gesproke vereis.

“Suid-Afrika het ’n sterk en veerkragtige bankstelsel met voldoende vlakke van kapitaal en stewige likiditeitsbuffers om dié stres te behartig. Die Basel-raamwerk, waarom die bankregulasies gestruktureer is, het ingeboude buffers sowel wat kapitaal- as likiditeitselemente betref, wat banke kan inspan in tye van finansiële stres.”

Die PA beklemtoon ieder geval die toegewings is alles net tydelik. Die PA gaan later ’n skedule uitreik waarvolgens banke weer hul buffers moet herstel “as die Covid-19-krisis eers bedaar het”.

“Die skedule sal sensitief wees vir die behoefte om ’n balans te handhaaf tussen die heropbou van buffers ten einde ’n veerkragtige bankstelsel te verseker, en die negatiewe uitwerking wat dit kan hê op kredietverlening en ekonomiese groei.”

Onder die maatreëls wat die PA verslap, is die volgende:

  • Die sogenaamde likiede kapitaalkoers word van 100% tot 80% verlaag.
  • Die pilaar 2A-kapitaalbuffer, wat tans 1% van risikogeweegde bates moet wees, word tot 0% verlaag.
  • Onder bepaalde omstandighede mag banke ook nou geld uit hul kapitaalbewaringsbuffer, wat tans 2,5% van risikogeweegde bates moet wees, mag gebruik.

Dis alles om die impak van Covid-19 en die staat van inperking te versag, wat die PA sê “waarskynlik ’n blywende en negatiewe uitwerking op die ekonomie sal hê”.

Die owerheid sê daar is reeds tekens dat huishoudings en maatskappye sukkel, en veral kleinsakeondernemings wek kommer.

Waar staan banke oor dividende?

Standard Bank het reeds Maandag op die PA se versoek gereageer deur te sê hy gaan nie “besin” oor die gewone dividend wat hy in Maart aangekondig het, naamlik R9,94 per aandeel. ’n Finale besluit is nog nie aangekondig nie.

Absa het egter Dinsdag gesê hy gaan voort om sy dividend van R6,20 per aandeel uit te keer en Nedbank het Woensdag gesê hy gaan voort om R6,95 per aandeel uit te keer.

Absa beskou dit as ’n regsvraagstuk. “Hoewel die direksie saamstem met die noodsaaklikheid om in die huidige omgewing kapitaal te beskerm, bevestig regsadvies dat ’n dividend betaal moet word nadat dit verklaar en gekommunikeer is. Ons besef ook daar is pensioentrekkers en ander beleggers wat op ons dividenduitkering staatmaak.”

Standard, Absa en Nedbank se jaareinde is almal Desember.

FirstRand, moedermaatskappy van FNB, het nog nie iets oor die onderwerp gesê nie, maar dié bank het reeds Maandag sy tussentydse dividend uitgekeer. FirstRand se jaareinde is in Junie en hy sal dus teen daardie tyd ’n meer ingeligte besluit oor sy finale dividend kan neem.

Capitec, wie se jaareinde Februarie is, reik volgende week sy jaarsyfers uit en sal dan ’n aankondiging oor sy dividend doen.

Meer oor:  Maatskappye  |  Banke  |  Dividend  |  Bankbedryf  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.