Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Covid-19: Long4Life base gee salarisse én R1 m.

Die direksie van Long4Life, wat 'n belang in onder meer RocoMamas en Spur het, gaan óók 'n derde van hul salarisse vir drie maande lank prysgee.

Die maatskappy sê Donderdag in 'n verklaring op Sens dat hy ook 'n addisionele R1 miljoen aan die Solidariteitsfonds skenk. Die maatskappy het ook via sy filiale Inhle Beverages en Chill Beverages gebottelde water en koeldrank ter waarde van R2,5 miljoen aan liefdadigheidsorganisasies geskenk wat haweloses help.

Long4Life se aankondiging volg kort op die hakke van dié van Massmart.

Die grootbase van Massmart gaan saam met hul moedermaatskappy, Walmart, 1,85 miljoen maaltye aan die liefdadigheidsorganisasie Food Forward SA skenk om die behoeftigste mense in die samelewing tydens die Covid-19-pandemie gevoed te hou.

LEES OOK: Massmart se base skenk 460 ton kos

Die ganse bestuurslui van Discovery het Woensdag aangekondig dat hulle elk ’n derde van hul salaris skenk aan die Solidariteitsfonds om Covid-19 in die land te beveg.

Discovery
Discovery se hoofkantoor in Sandton, Johannesburg. Foto: Elvira Wood

Die maatskappy sê in 'n verklaring dat sy uitvoerende hoof, voorsitter en alle uitvoerende en nie-uitvoerende direkteure eerbiedig die beroep van pres. Cyril Ramaphosa om tot die fonds by te dra, en daarom sal hulle ’n derde van hul salaris of direkteursgelde daarvoor skenk.

“Ons het ’n lang pad voor ons as ’n land met baie werk om te doen,” sê Adrian Gore, uitvoerende hoof van Discovery. “En dit vereis leierskap en aanspreeklikheid van elke deel van die samelewing. In antwoord op die president se beroep om saam te staan as ’n nasie en ons heel beste poging aan te wend, is ons trots om ons rol te speel om lewens en ons bestaanswyse te red.”

Die grootbase van Clicks het ook Woensdag aangekondig dat hulle ’n derde van hul salaris aan die fonds gaan skenk.

Dié maatskappy se Vikesh Ramsunder, sy uitvoerende hoof, Michael Fleming, finansiële hoof, en Bertina Engelbrecht, sy direkteur vir mensehulpbronne, sal ook ’n derde van hul salaris aan die Solidariteitsfonds skenk. So ook die voorsitter van die direksie en ander direkteure wat van hul direkteursgelde sal skenk.

Die aankondigings is deel van ’n rits soortgelyke aankondigings wat grootbase gedoen het sedert Ramaphosa, sy kabinet en die land se nege premiers gesê het dat ’n derde van hul salaris aan die fonds geskenk sal word. 

Ramaphosa het Donderdagaand aangekondig dat hy en die ander politici ’n derde van hul salarisse oor die volgende drie maande aan die Solidariteitsfonds sal skenk.

Die Solidariteitsfonds, wat veral gebruik word om beskermende toerusting vir gesondheidswerkers aan die voorste linie van die stryd teen Covid-19 te koop is reeds sowat R2,2 miljard sterk.

LEES OOK: Só lyk die salaris wat Cyril, ander vir 3 maande prysgee

Mike Brown, uitvoerende hoof van Nedbank, was die eerste sakeleier wat Vrydag aangekondig het dat ook hy die volgende maand ’n derde van sy salaris aan die Solidariteitsfonds sal skenk.

Luidens Nedbank se geïntegreerde jaarverslag vir 2018 het Brown twee jaar gelede reeds ’n gewaarborgde salaris van R8,575 miljoen per jaar verdien. Dit is voordat enige kort- en/of langtermynbonusse ingereken is.

Jacques Celliers, uitvoerende hoof van FNB.Foto: Elvira Wood

Gegrond op dié bedrag, beteken dit dat Brown meer as R700 000 aan die Solidariteitsfonds sal skenk. Die jongste geïntegreerde verslag vir dié en ander banke vir 2019 is nog nie beskikbaar nie.

Die FirstRand-groep, waarvan FNB, Rand Merchant Bank en WesBank deel vorm, het Saterdag ’n soortgelyke aankondiging gemaak. Dié groep se grootbase, onder wie Alan Pullinger van FirstRand en Jacques Celliers van FNB, gaan die geld aan die groep se Spire-projek skenk.

FirstRand het R100 miljoen deur middel van die Spire-projek beskikbaar gestel om die mediese bedryf in die land gedurende die Covid-19-pandemie te steun.

LEES OOK: Bankgroep koop 100 000 Covid-19-toetsstelle vir SA

Luidens FirstRand se jaarverslag vir 2019 het Pullinger tóé reeds ’n basiese salaris van R8,87 miljoen verdien. Hy sal dus ook meer as R700 000 skenk.

Celliers sal ook waarskynlik sowat R700 000 aan die Spire-projek skenk met sy basiese salaris wat ’n jaar gelede reeds R7,7 miljoen per jaar beloop het.

Sim Tshabalala, uitvoerende hoof van Standard Bank.Foto: Argief

Standard Bank sê Sondag in ’n verklaring op sy webtuiste dat hy sy uitvoerende hoofde gaan aanmoedig om self te besluit hoeveel hulle van hul salarisse wil skenk om die pandemie te help beveg.

“Ons glo sterk dat filantropie inherent uit die hart kom en diep persoonlik is. Bydraes moet vrywillig gemaak word en daar moet voorsiening vir vertroulikheid gemaak word,” sê Lungisa Fuzile, uitvoerende hoof van die groep, in die verklaring.

Die bank sê wel hy sal ’n “spesiale meganisme” skep om sy direkteure te help om oor die volgende drie maande geld te skenk.

Luidens Standard Bank se jaarverslag vir 2018 het Sim Tshabalala, dié bank se uitvoerende hoof, toe reeds ’n basiese salaris van R9,98 miljoen per jaar verdien. Sou hy dus besluit om ’n derde van sy salaris vir drie maande te skenk sal hy ’n bydrae van meer as R800 000 kan maak.

Daniel Mminele, uitvoerende hoof van Absa.Foto: Elvira Wood

Absa het Sondag aangekondig dat sy grootbase ook soortgelyke dele van hul salarisse aan die Solidariteitsfonds sal skenk.

Hoewel daar geen besonderhede is oor hoeveel Daniel Mminele, die nuwe uitvoerende hoof van dié bank verdien nie, het sy voorganger, Maria Ramos, ’n basiese salaris van R13,8 miljoen verdien voordat sy aan die begin van 2019 afgetree het. As Mminele ’n soorgelyke salaris verdien, beteken dit hy sal meer as R1,1 miljoen bydra.

Buiten vir die bankbase, het Shameel Joosub, uitvoerende hoof van Vodacom, ook Sondag aangekondig dat hy vir die volgende drie maande ’n derde van sy salaris aan die Solidariteitsfonds sal betaal.

Joosub het in 2018 reeds ’n basiese salaris van R11,2 miljoen per jaar verdien. Hy sal dus waarskynlik meer as R900 000 van sy salaris afstaan.

Die totale bedrag wat net hierdie grootbase onderneem het om te skenk beloop dus minstens R4,2 miljoen.

Fin24 berig dat direkteure van Old Mutual reeds op Woensdag 8 April aangekondig het dat hulle ook ’n deel van hul salarisse aan die Solidariteitsfonds sal skenk.

Die mynmaatskappy Sibanye-Stillwater, sê Maandag in 'n verklaring dat sy direkteure sal óók 'n derde van hul salarisse aan die Solidariteitsfonds skenk.

Dié bedrag is egter waarskynlik veel meer, aangesien baie ander direkteure, wat veral by die banke werk, ook onderneem het om soortgelyke bydraes te lewer.

Die banke en Vodacom het nóg nie hul jongste geïntegreerde jaarverslae gepubliseer waarin direkteure se salarisse vir 2019 uiteengesit word nie.

Remgro het Dinsdag aangekondig dat sy bestuursdireksie van ses lede drie maande lank ’n derde van hul salaris aan die Sukuma-fonds vir kleiner ondernemings skenk. Dit kom neer op nagenoeg R3,2 miljoen.

Kevin Wakeford, uitvoerende hoof, en ander topbestuurders van die farmaseutiese firma Adcock Ingram het Dinsdag gesê dat hulle  óók oor die volgende drie maande ’n deel van hul salaris aan die Solidariteitsfonds skenk. Dis onbekend hoeveel geld of watter persentasie van hul salaris hulle skenk.

Meer oor:  Nedbank  |  Fnb  |  Clicks  |  Vodacom  |  Standard Bank  |  Absa  |  Discovery  |  Old Mutual  |  Daniel Mminele  |  Cyril Ramaphosa  |  Sim Tshabalala  |  Jacques Celliers  |  Mike Brown  |  Adrian Gore  |  Salarisse  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.