Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Covid-19 knou Media24 – oorweeg sluitings

Media24 oorweeg dit om vyf tydskrifte en twee koerante te sluit, sy oorblywende maandelikse tydskrifte uit te kontrakteer en hul frekwensie te verminder, twee koerante net digitaal uit te gee en personeel in steundienste-afdelings te verminder.

Dié planne vir herstrukturering is vanoggend deur die uitvoerende hoof, Ishmet Davidson, aangekondig. Volksblad en Die Burger Oos-Kaap is die koerante wat dan in die nuwe bedeling net digitaal op Netwerk24 sal verskyn, met Son op Sondag en Sunday Sun die twee koerante wat sal sluit.

Die dagblaaie Die Burger en Beeld en die Sondagkoerant Rapport word steeds gedruk, met geen frekwensieveranderings nie. Die vlagskip-weektydskrifte Huisgenoot en Landbouweekblad sal ook steeds intern deur Media24 saamgestel en soos gewoonlik uitgegee word.

Afrikaanse maandelikse tydskrifte wat deur die planne vir uitkontraktering geraak word, sluit in Sarie, Tuis, Weg!, Weg!Ry & Sleep, asook die tweeweeklikse Kuier. Die tydskrifte sal dus steeds gedruk word, maar op kontrak deur redaksionele spanne saamgestel word. Die huidige maandelikse tydskrifte sal dan ses keer per jaar verskyn, benewens Tuis, wat agt uitgawes sal hê.

“Van die begindae van die pandemie in Suid-Afrika het ons met alles wat ons doen op twee prioriteite gefokus: die gesondheid en veiligheid van ons mense en om ons besigheid aan die gang te hou – by implikasie ook om vir so lank as moontlik poste te beskerm,” sê Davidson.

“Die pandemie het egter die vooraf bestaande strukturele langtermyn-inkrimping van drukmedia verhaas, met ’n vernietigende uitwerking op ons reeds kwesbare drukmediabedrywighede.

“Ons sirkulasie- en advertensie-inkomste het sedert April skerp gedaal. Terselfdertyd baat baie van ons druktitels nie meer by vorige ingrypings om strukturele dalings teen te werk en hulle vir langer op die rak te hou nie.”

Davidson sê voorts selfs al sou die ekonomie herstel tot die vlakke voor Covid-19, sal Media24 se drukmediabesigheid nie van die pandemie se impak daarop kan herstel nie.

“Ons het ongelukkig geen ander keuse nie as om ons besigheid nou te herstruktureer ten einde die verliese by ons drukmediaportefeulje te beperk. Dit sal ons ook in staat stel om op die haalbaarheid van die titels wat behoue bly te fokus en om hulle vir so lank as moontlik in druk te hou.”

Terselfdertyd pas Media24 vinniger as ooit by ’n toenemend digitale omgewing aan. “In ’n baie mededingende mark, wat groot internasionale handelsname insluit, verkies Suid-Afrikaners News24 en Netwerk24 as hul bestemmings vir digitale nuus,” sê Davidson. Vir die jaar tot datum handhaaf News24 daagliks gemiddeld 1.6 m unieke gebruikers, 63% meer as die gemiddeld vir 2019. Netwerk24 se intekenare het einde Junie op nagenoeg 67 000 gestaan, groei van 36.5% teenoor Junie 2019.

Die beplande ingrypings raak na verwagting bykans 510 personeellede (met ’n voorgestelde vermindering van nagenoeg 660 poste), oorwegend in die drukmedia- en verspreidingsdivisies. Media24 het tans ’n personeeltal van 2 971. Die maatskappy begin vandag met personeel konsulteer.

Die volledige planne behels:

Tydskrifportefeulje:

  • Sluit Move! en die Hearst-titels (Men’s Health, Women’s Health, Bicycling, Runner’s World).
  • Gee Drum net in digitale formaat uit.
  • ’n Uitgewersooreenkoms met redakteur Helen Schöer om die ouerskaptitels (Baba & Kleuter en Your Pregnancy) onafhanklik uit te gee.
  • Uitkontrakteer die redaksionele produksie van die oorblywende maandelikse tydskrifte (Fairlady, Sarie, SA Hunter/Jagter, True Love, Tuis/Home, Weg!/Go! en Weg! Ry & Sleep/go! Drive & Camp) asook die tweeweeklikse Kuier.
  • Verminder die frekwensie van die maandblaaie tot ses uitgawes per jaar, en agt uitgawes vir Tuis/Home, SA Hunter/Jagter en Man Magnum.

Benewens Huisgenoot en Landbouweekblad sal YOU steeds intern saamgestel en uitgegee word.

TVPlus word nie tans geraak nie en Finweek se Afrikaanse uitgawe verskyn reeds net digitaal.

Koerantportefeulje:

  • Sluit Son op Sondag en Sunday Sun.
  • Sluit die Oos-Kaapse uitgawe van Son.
  • Gee Volksblad en Die Burger Oos-Kaap net digitaal uit op weeksdae – volledig in PDF-formaat beskikbaar op Netwerk24.
  • Sluit vier gemeenskapskoerante in KwaZulu-Natal: Amanzimtoti Fever, East Griqualand Fever, Hillcrest Fever en Maritzburg Fever.
  • Voeg die volgende titels saam: Noordkaap en Kalahari Bulletin word Noordkaap Bulletin, en Kroonnuus en Vrystaat Nuus word Vrystaat Kroonnuus. Theewaterskloof Gazette word by Hermanus Times ingelyf.
  • Versnel die digitale oorgang van The Witness.

Ander:

  • Verminder personeel in die mediaverspreidingsbesigheid en in divisionele en korporatiewe steundienste-afdelings wat deur die voorgestelde verskraalde drukmediabedrywighede geraak word.

Davidson sê die maatskappy is ten volle daartoe verbind om hierdie hoogs sensitiewe konsultasies met deernis te bestuur, terwyl hy ook die wetlik voorgeskrewe proses volg. “Ons kan ongelukkig geen verdere inligting bekend maak alvorens die proses afgehandel is nie.”

  • Netwerk24 is deel van Media24.

Meer oor:  Ishmet Davidson  |  Netwerk24  |  Media24
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.