Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Covid-19: Santam fynkam polis-bewoording
Santam se hoofkantoor in Bellville, Kaapstad.Foto: Bam Architects

Santam is “dringend” besig om die bewoording van sy polisse na te gaan om te kyk hoe blootgestel hy is aan eise wat met die Covid-19-pandemie verband hou.

Die versekeraar het Maandag in ’n verklaring op die JSE se nuusdiens, Sens, gesê die pandemie en staat van inperking gaan beslis ’n impak hê op sy finansiële prestasie vir die jaar.

Hy is druk besig om te raam wat die impak van die pandemie op sy versekeringsdienste gaan wees “en om vas te stel hoe Santam se polisse kan reageer op eise”, lui die verklaring.

“Ons beskou dit as baie dringend om te bepaal wat die omvang van Santam se potensiële blootstelling is.”

Santam se filiaal, Saham, is potensieel ook blootgestel aan staatsinmenging. Santam het Saham, wat in Noord-, Oos- en Wes-Afrika sake doen, in 2018 gekoop.

“Sommige regerings oorweeg dit om van versekeraars te vereis om mediese koste te dek, selfs al is dit nie deel van die poliskontrak nie, of om vrywillig by te dra tot hulpfondse.

“Ten spyte van beperkte kontraktuele blootstelling in baie gevalle, kan die stappe wat deur regerings ingestel word, dus steeds ’n impak hê.”

Santam sê die opbrengs op versekeringsgeld wat in algemene versekeringsportefeuljes lê, word ook negatief geraak gegewe die blootstelling aan aandele in die bate-mengsel.

Sanlam, wat ’n beherende belang in Santam het, het vroeër in Maart gesê hy is eintlik meer bekommerd oor die uitwerking wat sukkelende wêreldmarkte op sy bedrywighede kan hê as die regstreekse invloed van die Covid-19-pandemie op eise.

Anton Gildenhuys, risikohoof van Sanlam, het gesê hul beleggings is baie meer kwesbaar vir die beduidende onstuimigheid op wêreldmarkte as vir hul versekeringsblootstelling.

Santam sê in sy verklaring Maandag hy is voldoende gekapitaliseer om die buitensporige markwisselvalligheid te kan hanteer en het wesenlike likiede bates.

“Ons sal dus in staat wees om ons huidige finansiële verpligtinge na te kan kom soos en wanneer dit betaal moet word.”

Santam sê ook beduidende stappe word gedoen om bedryfskoste binne perke te hou in die huidige uitdagende ekonomiese omgewing.

“Aandeelhouers word daaraan herinner dat die situasie vloeibaar en onseker bly.

“Die volle finansiële impak van die Covid-19-pandemie op die maatskappy sal uiteraard eers bepaal kan word nadat die staat van inperking opgehef word,” lui die verklaring.

Meer oor:  Sanlam  |  Polis  |  Versekering  |  Covid-19  |  Lewensversekering  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.