Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Covid-19: Watter bank gaan koning kraai?

Tegnologie, laer bankkoste en minder kontant is waarskynlik die sleutel tot banke se sukses gedurende die Covid-19-pandemie.

Digitale dienste is die sleutel tot sukses vir banke gedurende die Covid-19-pandemie. Foto: Pixabay

Marius van den Berg, EY se raadgewende hoof van bankdienste, sê in ’n verklaring: “Banke wat reeds digitaal is, is baie beter toegerus vir die toekoms. Hulle het reeds die rol van outomatisering begryp en hoe dit beter kliëntediens en beter bedryfsdoeltreffendheid meebring.”

Volgens hom is die pandemie die ideale geleentheid vir banke om weer te kyk na wat hulle as die kern van hul bedrywighede beskou en om verder te digitaliseer.

“Baie bankkliënte het die laaste paar weke slegs digitale dienste gebruik om met die banke en handelaars te kommunikeer.”

Van den Berg sê soos wat die staat van inperking gelig word, is die groot hindernis wat nou oorkom moet word om die interaksie van kliënte op digitale kanale te behou.

Victor Mupunga, navorsingsontleder by Old Mutual Wealth Private Client Securities, stem saam.

Hy sê in ’n verklaring dat die Covid-19-pandemie alle banke gaan aanspoor om hul digitale aanbod so aantreklik as moontlik te maak.

Tegnologie

Mupunga sê hy verwag veral die vier groot banke – FNB, Standard Bank, Absa en Nedbank – sal beduidende beleggings in tegnologie doen.

Hy sê die uitdaging vir dié banke gaan wees om by nuwe banke kers vas te hou, wat van die begin af op digitale bankdienste gefokus het. Dit sluit TymeBank en Discovery Bank in.

“Nuwe banke is bekend vir hul skraal sakemodelle en die vaardigheid om aan die behoeftes van die kliënt te voldoen,” sê Mupunga.

“Hoewel dié banke in die algemeen nie die volledige reeks komplekse produkte bied wat deur tradisionele banke aangebied word nie, het hulle die vermoë om die presiese kwessies wat verbruikers pla te takel. Dit het daartoe gelei dat hulle vinnig kliënte gelok het.”

Mupunga waarsku dat – ondanks die “prysenswaardige” poging van ouer banke om hul IT-stelsels by te werk – daar ’n beperking gaan wees op hoeveel hulle sal kan doen in vergelyking met nuwe banke. Dit is omdat die kern-IT-infrastruktuur van dié banke dikwels dekades gelede reeds gebou is en nié so vinnig verander kan word om nuwe dienste te lewer nie.

“Ouer banke sal dus tevrede moet wees met geleidelike verbeteringe aan hul kliënte se digitale ervaring,” sê hy.

Mupunga waarsku verder dat die groot getal nuwe mededingers ook ’n uitdaging vir die sektor is.

“Ek sou sê dat daar wêreldwyd waarskynlik te veel nuwe banke in die mark kom en dat daar nie genoeg ruimte vir almal is nie, nog voordat die pandemie ontvou het.”

Kontant

Van den Berg sê nog ’n aspek waaraan banke aandag moet gee, is dat kontant al hoe minder gebruik gaan word. Dis juis omdat kliënte nou al hoe meer van digitale bankdienste gebruik maak.

Hy wys daarop dat die Covid-19-pandemie dié tendens ’n enorme hupstoot gegee het.

“Wat ons regtig nodig het, is toegang tot betaal- en bankstelsels, nie banke en takke nie,” sê hy.

Nuwe tegnologie en kliënte wat nie takke besoek nie, gaan volgens Van den Berg druk op banke plaas om te kyk hoe doeltreffend hul bedrywighede is.

“In die komende maande sal die druk op bedryfsdoeltreffendheid meedoënloos wees. Daar sal vrae gevra word oor hoe banke koste kan verminder en hoe hulle die maatskaplike impak van sulke besluite kan navigeer.”

Meer oor:  Fnb  |  Tymebank  |  Discovery Bank  |  Absa  |  Standard Bank  |  Nedbank  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Bankbedryf  |  Inperking  |  Covid-19  |  Banke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.