Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Covid knak busse en treine

Busdienste soos Greyhound, Citiliner en Putco wat die afgelope week aangekondig het hulle gaan hul bedrywighede sluit of afskaal weens lae aanvraag, kan die eerste tekens wees van kenners se voorspelling dat die Covid-19-pandemie rampspoedig kan wees vir openbare vervoer.

Die Gautrein-stasie in Rosebank, Johannesburg. Foto: Nelius Rademan

Prof. Stephan Krygsman, ’n dosent in vervoerekonomie aan die Universiteit Stellenbosch (US), sê al hoe meer mense gebruik om gesondheidsredes hul eie motors of minibustaxi’s wat hulle vinniger by hul bestemmings bring, pleks van busse en treine.

As openbare vervoerdienste weens verminderde vraag onvolhoubaar raak, kan vervoerkoste in die volgende drie jaar die hoogte inskiet, waarsku hy.

Navorsing deur Rudi Kriel, een van Krygsman se nagraadse studente, wys die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) se getal treinritte het van sowat 15 000 in Oktober 2019 tot net 488 getuimel in Oktober 2020.

Voor die uitbreek van die Covid-19-pandemie het kenners verwag private eienaarskap van motors sou afneem omdat mense al hoe meer ritdeeldienste soos Uber gebruik.

Dit pandemie het dié neiging blykbaar op sy kop gekeer omdat die nuwe middelklas wat dit kan bekostig nou verkies om hul eie vervoer te gebruik.

Volgens Krygsman het busse ’n skedule en moet op spitstye ry. Met buigsame ure vir mense wat van die huis af werk en wat nie op spitstyd op kantoor hoef te wees nie, het die vraag na busdienste gedaal.

k

Verder was baie dienste nie beskikbaar nie, of treine kon weens diefstal en vandalisme nie loop nie.

Veral laerinkomsteverdieners kan in die toekoms geen keuse hê nie as om duurder maniere van vervoer soos minibustaxi’s te gebruik, sê Krygsman.

Treine is die goedkoopste openbarevervoermiddel. Taxi’s is die duurste.

Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) bestee twee derdes van laagbesoldigde huishoudings meer as 20% van hul maandelikse inkomste aan openbare vervoer.

Ons gebruik brandstof en dit voeg bitter min by tot die ekonomie. ’n Mens sou wou hê huishoudings moet eerder geld bestee aan artikels wat werkskepping en welvaart bevorder.
Prof. Stephan Krygsman

Gedurende die land se inperkings is busdienste slegs toegelaat om 50% vol te wees, wat beteken hulle ly ’n verlies met elke rit.

Die busoperateur Putco, wat tot 210 000 passasiers per dag in Gauteng, Mpumalanga en Limpopo vervoer het, het meer as 200 werkers afgelê weens minder ritte, berig Business Day.

Unitrans, wat onder meer Greyhound, Magic Transfers en Megabus besit, het die afgelope week ook kennisgewings van afleggings aan werkers gegee.

Greyhound en Citiliner staak op 14 Februarie hul dienste in Suid-Afrika.

Greyhound
Greyhound en Citiliner behoort aan Unitrans, wat al in 2019 aangekondig het hy wil sy passasiersbusdienste verkoop. Die busdienste word op 14 Februarie gestaak.

Kaapstad se private Golden Arrow-busdiens het gedurende die strengste inperkings in 2020 slegs 10% van sy normale passasiersgetalle vervoer, sê Bronwen Dyke-Beyer, woordvoerder.

“Getalle het geleidelik herstel tot tussen 60% en 70% soos regulasies verslap is, maar (gedurende die jongste vlak 3-inperking) weer geval tot ongeveer 55% van normale volumes.”

Felicity Purchase, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir vervoer, sê passasiersgetalle vir die munisipale busdiens MyCiti het tussen Maart en Desember 2020 met 45,6% afgeneem. Inkomste het dienooreenkomstig gedaal.

Purchase verwag egter teen Julie vanjaar kan passasiersgetalle tot sowat 85% van die vlakke voor Covid-19 herstel.

Gautrein

Ook die Gautrein is swaar getref, berig Moneyweb.

Volgens die Gautrein-bestuursagentskap was die vraag na die Gautrein-diens einde Januarie 2021 80% laer as in Januarie 2020. Gevolglik het die Gautrein ’n beplande belegging van R2 miljard vir nuwe treine en uitbreiding aan sy depot op die lange baan geskuif.

Krygsman sê benewens die terugslag vir openbare vervoerdienste, beteken die verandering in beweeglikheidspatrone ook verkeersdruk op paaie gaan vererger.

LEES OOK: Covid-19 stuit Gautrein se uitbreiding in sy spore

“Ons praat van massas meer mense wat met hul karre ry, verkeersknope wat tydrowend is, meer ongelukke én dis negatief vir die omgewing met ’n toename in lug- en geraasbesoedeling.”

Boonop laat dit verbruikers met minder besteebare inkomste en vervoer is ’n relatief onproduktiewe uitgawe.

“Ons gebruik brandstof en dit voeg bitter min by tot die ekonomie. ’n Mens sou wou hê huishoudings moet eerder geld bestee aan artikels wat werkskepping en welvaart bevorder,” sê Krygsman.

Volumes verkeer wissel baie

Verkeersvolumes op die land se paaie was gedurende die verskillende vlakke van inperkings in 2020 gemiddeld tot 78% laer op ’n jaargrondslag.

Op die N4-tolroete tussen die Solomon Mahlangu-afrit in Pretoria en die Maputo-hawe in Mosambiek was verkeersvolumes in April 2020 78% laer, en in Augustus sowat 27% laer, sê TransAfrican Concessions (Trac), wat die roete bestuur.

Met die aangepaste vlak 3-inperkings wat einde Desember ingestel is, is totale Januarie-volumes 19% laer as in Januarie 2020, sê ’n woordvoerder.

Dit stem ooreen met volumes op die N3 Toll Concession (N3TC), wat 415 km van die N3-tolpad vanaf die Heidelberg-Suid-afrit (Gauteng) tot by Cedara in KwaZulu-Natal bestuur.

Volgens Miles le Roux, vervoeringenieur van N3TC, was volumes wat in April 2020 deur die vier tolhekke op die roete gery het gemiddeld 74,2% laer as ’n jaar tevore.

Die volume ligte voertuie (wat meestal passasiersvoertuie is) was in April gemiddeld 88% laer op ’n jaargrondslag en in Augustus gemiddeld 17% laer.

Volgens Louw Kannemeyer, direkteur van ingenieurswese by Sanral, het volumes van handelsvoertuie vinniger herstel namate inperkingsmaatreëls verslap is.

Verkeersvolumes in die meeste landelike gebiede het onder vlak 1 herstel na wat dit voor die inperkings was, maar in stedelike gebiede het dit nog net herstel tot 85% tot 90% van voor die inperkings.

Google se jongste Community Mobility-verslag oor hoe Suid-Afrikaners rondbeweeg, wys reise (ry of stap) na openbarevervoer-nodusse is 44% laer as einde Januarie 2020. Reise na werkplekke was 10% laer as in die ooreenstemmende tydperk ’n jaar gelede.

Die verslag wys ook ritte na restaurante, winkels en vermaakplekke was 19% laer as in 2020, maar reise in residensiële gebiede was 11% hoër.

Google se mobiliteitsverslag is verteenwoordigend van mense met nuwer Android-selfone – die middel- en hoërinkomstegroepe. Dit sluit laer inkomstegroepe en die ouer en jong bevolking uit.

k
Meer oor:  Golden Arrow  |  Prasa  |  Greyhound  |  Citiliner  |  Putco  |  Spoorweë  |  Vervoer  |  Verkeer  |  Treine  |  Gautrein  |  Busse  |  Openbare Vervoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.