Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Hospitale stuur nog personeel, hulp na Tuinroete
covid-19
Mediclinic het bevestig ’n sterk toename word beleef in die getal Covid-19-pasiënte in die Suid-Kaap wat sorg benodig.

Die twee groot hospitaalgroepe het ekstra toerusting en personeel na hul hospitale in die Suid-Kaap gestuur om aan die verhoogde druk weens ’n toename in Covid-19-opnames in die streek te voldoen.

Mediclinic het bevestig ’n sterk toename word beleef in die getal Covid-19-pasiënte in die streek wat sorg benodig.

“Hoewel ons intensiewe en hoësorgeenhede onder druk is, het ons planne in plek om te verseker dat genoeg kapasiteit beskikbaar bly.

“Om seker te maak dat die hospitale die nodige sorg kan verskaf, het ons besluit om ekstra verpleegpersoneel na die hospitale te stuur. Ons het ook aanvullende toerusting verskaf om bykomende kapasiteit te verseker vir die wat sorg verlang,” sê dr. Gerrit de Villiers, bestuurder van kliniese prestasie van die groep.

Mediclinic het drie hospitale in die Suid-Kaap.

Riaan Croucamp, streekbestuurder van Life Healthcare, sê in dié stadium nader Life Knysna en Life Bay View se Covid-19-sale hul maksimum kapasiteit.

Noodsaaklike dienste soos vir kraam en noodgevalle vir ander pasiënte word steeds gelewer.

“Om te verseker dat ons gereed is om die verwagte druk te hanteer, is beplande operasies en dié wat nie noodgevalle is nie, by albei hospitale beperk terwyl bykomende personeel daarheen gestuur is.”

Croucamp sê ekstra toerusting is ook van gebiede waar daar nie ’n toename in gevalle is nie, geskuif na die plekke waar ’n toename ervaar word.

“Hoewel Life Healthcare ’n dinamiese plan het om die verhoogde vraag te hanteer, is personeel en toerusting beperkte hulpbronne en dit plaas druk op die getal pasiënte wat versorg kan word.”

Mediclinic het gesê hy het tans nog genoeg plek in die algemene, intensiewesorg- en hoësorgsale en genoeg kapasiteit om Covid-19-pasiënte en ander op te neem.

Netcare het nie hospitale in die Suid-Kaap nie.

Oos-Kaap stop operasies

Netcare het vandeesweek gesê hy het ventileerders en ekstra verpleërs en dokters na die Oos-Kaap gevlieg waar gevalle skerp toegeneem het.

Mediclinic het nie hospitale in die Oos-Kaap nie.

Life Healthcare het gesê hy ervaar ook ’n toename in gevalle in die streek. Ook daarheen is ekstra personeel gestuur. 

“Ons bestuur die situasie versigtig en die kapasiteit is onder druk en daarom het ons die besluit geneem om nie-noodsaaklike operasies uit te stel,” sê Croucamp.

“Ons hospitaalbestuurspanne bly in konstante kontak met mekaar, hul dokters en verpleërs en ander private hospitale, asook die provinsiale gesondheidsowerhede om te bepaal hoeveel beddens beskikbaar is en waar.”

Jacques du Plessis, besturende direkteur van Netcare se hospitaalafdeling, sê die groep sien steeds ’n toename in opnames in sy Netcare Greenacres in Port Elizabeth en sy Netcare Cuyler Hospitaal in Uitenhage.

Behalwe vir die bykomende ventileerders en personeel, is meer beddens ook vir Covid-19-pasiënte in die hospitale opsygesit.

Hy sê hoewel dit nog vroeg is vir Kaapstad word ’n soortgelyke patroon met opnames opgemerk as met die eerste uitbraak.

Hy het ’n ernstige beroep op die publiek gedoen om maatstawwe vir die voorkoming van Covid-19 na te volg.

“Elke persoon het die verantwoordelikheid om alles moontlik te doen om dit te vermy om die virus op te doen of oor te dra sodat hierdie nuwe vlaag van gevalle afgeplat kan word.”

Hy sê daar is ’n kommerwekkende tendens dat pasiënte nie vroeg genoeg mediese behandel soek nie en eers wanneer hul toestand soveel agteruitgegaan het dat hulle komplikasies ontwikkel en gespesialiseerde sorg benodig.

“Ons moedig mense aan om vroeg met hul dokters te konsulteer sodat hul toestand op gepaste wyse bestuur kan word en komplikasies vermy word.”

Meer in Wes-Kaap, maar nie onder druk

Volgens Mediclinic word ’n toename ook beleef in die getal pasiënte wat in die Wes-Kaap sorg benodig.

“Maar ons hospitale is nie onder druk nie. Ons het steeds kapasiteit vir Covid-19-gevalle en ander pasiënte in al ons hospitale in Kaapstad.”

Life Healthcare sê ook in Kaapstad en omgewing is die hospitale nog nie onder dieselfde druk nie. “Maar ons moedig mense aan om verantwoordelik te wees en die virus se verspreiding te help stop deur te hou by die maatstawwe vir gesonde afstand, maskers en die ontsmetting van hande. Dit sal alles hospitale help om die virus te hanteer.”

Life Healthcare en Netcare het vandeesweek toe hulle finansiële resultate uitgereik het, gesê hulle is meer gereed vir ’n tweede golf omdat hulle lesse geleer het met die eerste golf en dat hul bestuurspanne geleer het om vinniger te reageer as dinge verander.

Behandeling het ook aansienlik verbeter, wat die gemiddelde tyd wat Covid-19-pasiënte in die hospitaal bestee van 22 tot sewe dae laat daal het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.