Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
CPS gaan meer verdien uit laaste Sassa-kontrak

Cash Paymaster Services (CPS) gaan vir oulaas munt slaan uit die uitbetaling van maatskaplike toelaes.

Cash Paymaster Services wil terugwerkend ’n verhoging vir die laaste ses maande van sy kontrak hê.

Dié maatskappy se tarief vir die laaste ses maande waarin hy toelaes namens die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) uitbetaal het, gaan verhoog word, na verwagting tot R44,35 per kontantuitbetaling en tot R16,94 per betaling wat deur biometriese verifiëring (vingerafdrukke) gedoen word. Die tariewe sluit belasting op toegevoegde waarde uit.

Die verhoging in die tariewe is van toepassing op die laaste ses maande waarin CPS die uitbetalings behartig het.

CPS se vorige kontrak is in die grondwetlike hof ongeldig verklaar weens probleme met die tenderproses toe dit hernu is, maar omdat die departement van maatskaplike ontwikkeling gesloer het om ’n nuwe tender uit te skryf, het die hof toegelaat dat dit van April tot September vanjaar verleng word.

CPS het nou altesame ses en ’n half jaar lank Sassa-uitbetalings gedoen. Dis in Oktober deur die Poskantoor oorgeneem.

Net1 UEPS, CPS se moedermaatskappy, het Vrydag op Sens aangekondig hy het uitsluitsel oor die verhoging by die hof gekry.

Sassa was onder die indruk dat die hofbevel van 23 Maart, wat die verlenging van die kontrak magtig, ook bepaal dat net die hof enige verhoging in tariewe mag toestaan.

CPS het einde Augustus ’n dringende hofaansoek gebring dat Sassa die verhoogde tarief wat reeds deur die tesourie goedgekeur is, terugwerkend van krag maak.

Die hof het egter geweier om die aansoek aan te hoor en terugverwys na sy oorspronklike bevel, naamlik dat CPS die tesourie mag nader vir ’n verhoging.

Herman Kotzé, uitvoerende hoof van Net1, het die hofbesluit verwelkom: “Ons sien daarna uit om regstreeks met Sassa in gesprek te tree om ons vergoeding in ooreenstemming met die tesourie se aanbevelings te finaliseer vir die ses maande tot 30 September, wat die ses en ’n half jaar lange kontrak ten einde sal bring.”

CPS was voorheen in die spervuur oor sy tariewe, maar ook omdat aftrekkings van Sassa-toelaes glo Net1-filiale bevoordeel het.

Meer oor:  Cps  |  Net1 Ueps  |  Sassa  |  Maatskaplike Toelaes  |  Staatstoelaes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.