
Chris van der Merwe
Dr. Chris van der Merwe, oudbaas van die privateskolegroep Curro, gaan eersdaags uittree as die uitvoerende hoof van Stadio, het die maatskappy aangekondig.
Stadio, wat fokus op die uitbreiding en ontwikkeling in die tersiêre onderwyssektor, het in 2017 van Curro ontknoop.
Luidens ’n verklaring op die JSE se nuusdiens, Sens, gaan Van der Merwe op 1 April aanstaande jaar as hoof van Stadio uittree.
Stadio se instellings bedien tans meer as 31 000 studente nadat dit tydens sy ontknoping net 840 gehad het.
Van der Merwe is die stigter en eerste uitvoerende hoof van Curro en sedert die afsonderlike notering van Stadio die hoof daarvan.
Hy gaan na sy uittrede aanbly as ’n nie-uitvoerende direkteur van Stadio se direksie en steeds in ’n raadgewende kapasiteit by die maatskappy betrokke wees.
Chris Vorster, stigter en uitvoerende hoof van Southern Business School (SBS), neem op 1 April aanstaande jaar by Van der Merwe oor.
Stadio besit SBS asook die bekende rolprentskool Afda sowel as ander tersiêre instellings.
Stadio hoop om eendag meer as 100 000 studente by sy verskillende instellings te bedien.
Die maatskappy se aandeelprys het Maandag meer as 6% tot R2,05 gedaal met die nuus van Van der Merwe se uittrede.