Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Curro keer 1ste dividend uit

Curro het vir die eerste keer in dié privateskolegroep se bestaan ’n dividend uitgekeer.

Andries Greyling, uitvoerende hoof van Curro.

Die dividend van 12c per aandeel (9,6c nadat dividendbelasting teruggehou is), kom uit reserwes vir die jaar tot einde Desember, het die maatskappy aangekondig met die uitreiking van sy jaarresultate.

Die nuus het die aandeelprys teen omstreeks 11:00 al met 5,65% tot R26,20 opgedruk.

Dr. Chris van der Merwe, Curro se stigter en eerste uitvoerende hoof, het in vorige jare volgehou die groep gaan nie dividende uitkeer terwyl hy nog aggressief uitbrei nie.

Die dividend beteken egter nié Curro hou op met uitbreidings nie.

Andries Greyling, uitvoerende hoof, sê in 2018 het die maatskappy R1,7 miljard in die onderneming herbelê en in 2019 gaan tot R1,8 miljard bestee word.

“Ons leerlinge verdien die beste en dit gaan gepaard met die verantwoordelikheid om ons reikwydte uit te brei, ons geriewe te verbeter en ’n verskeidenheid relevante en innoverende opvoedkundige kurrikulum-opsies aan te bied.”

Die maatskappy se syfers lyk soos beleggers nou al gewoond geraak het, voortreflik – des te meer opspraakwekkend gegewe dat sommige private skole in 2018 opgemerk het dat die resessie druk plaas op ouers se vermoë om skoolgeld te betaal.

Dié tendens word wel weerspieël in die daling van 4% in die aantal leerlinge by Meridian-skole. Meridian se skoolgeld is laer en die skole is vir baie laermiddelklasouers ’n opsie om aan staatsonderrig te ontsnap. Dié ouers het bes moontlik eerste die druk ervaar toe belasting op toegevoegde waarde, petrolpryse en die rentekoers alles verlede jaar gestyg het.

Die groep se inkomste het met 19% tot byna R2,5 miljard gestyg en sy wesensverdienste, ’n aanwysing van wins, met 23% tot R248 miljoen.

Die groep se verdienste voor rente, belasting, waardeverminderinng en afskrywings (ebitda), nog ’n belangrike maatstaf, het met 33% tot R627 miljoen gestyg. Net die skole-afdeling se ebitda het met 30% tot R772 miljoen gestyg.

Die groep-ebitda is laer as die skole-ebitda weens ’n ebitda-verlies op hoofkantoorvlak.

Curro bedryf benewens skole met dieselfde naam Select- en Meridian-skole.

Meer as 57 000 leerlinge het 2019 in 164 skole begin, 12 meer skole as begin 2018.

Curro se leerling-onderwyser-verhouding het onveranderd gebly op 17:1, selfs al het die groep in Augustus met die uitreiking van sy halfjaarsyfers gesê sy mikpunt is hoër. Spesifiek is dit 20:1 vir skole wat voor 2009 geopen is, 25:11 vir nuwer Curro-skole en 35:1 vir Meridian- en Curro Academy-skole.

Die groep se bestaande skole benut steeds net 53% van hul kapasiteit, wat heelwat ruimte laat vir organiese groei.

Die groep het verlede jaar sy eerste tegnologieskool, Curro Foreshore, in Kaapstad geopen. Dié skool fokus op wiskunde, wetenskap, robotika en rekenaarprogrammering.

Hy het begin vanjaar ’n beroepsgefokusde skool, Curro Private College Rivonia in Gauteng geopen as die eerste Curro-skool wat die National Certificate Vocational (NCV) aanbied. Dis ’n alternatief tot die Nasionale Senior Sertifikaat en die skool fokus veral op inligtingstegnologie en rekenaarwetenskap.

Prestasie van matrieks

  • 99,7% van Curro se matriekleerlinge wat die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) se matriekeksamen geskryf het, het in 2018 geslaag. 88% van matrieks het graadvrystelling behaal (2017: 85%) en 11,5% van leerlinge het A’s gekry (2017: 9,8%).
  • 94,3% van matrieks wat die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen geskryf het, het geslaag en in dié skole het graadvrystelling tot 52% gestyg (2017: 42%).

Santie Botha, voorsitter van Curro se direksie, het dié leerlinge gelukgewens.

Meer oor:  Curro  |  Skole  |  Onderrig  |  Private Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.