Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Curro mik na meer leerlinge per onderwyser

Hoewel die Curro-groep steeds daarmee spog dat hy gemiddeld net 17 leerlinge per onderwyser het, gee hy in sy jongste resultate toe dis minder as sy eie mikpunt – én dat dit sy wins knou.

Die privateskolegroep het nou al die afgelope paar jaar gemiddeld 17 leerlinge per onderwyser, maar sy mikpunte is soos volg:

  • Vir skole wat voor 2009 geopen is: 20 leerlinge per onderwyser;
  • Vir nuwer Curro-skole: 25 leerlinge per onderwyser;
  • Vir Meridian- en Curro Academy-skole: 35 leerlinge per onderwyser.

Laasgenoemde mikpunt maak dié private skole soortgelyk aan die verhouding in meer gegoede staatskole, maar aansienlik beter as die verhouding van tot 45 leerlinge per onderwyser in arm gebiede.

Andries Greyling is nou net meer as ’n jaar lank Curro se uitvoerende hoof. Hy het Curro se stigter, dr. Chris van der Merwe, opgevolg.

Die aantal leerlinge per onderwyser het ’n regstreekse impak op die maatskappy se wins, volgens die maatskappy se resultateverklaring.

Die groep se skole benut nog net 53% van hul totale kapasiteit.

Volgens Netwerk24 se berekening kom byna 15% van die skoolgeld wat ouers betaal, neer op wins vir die Curro-groep as die groep se nabelaste wins as persentasie van sy inkomste bereken word.

Curro het sy 20ste verjaardag gevier met die aankondiging dat hy nou vir die eerste keer meer as 50 000 leerlinge het.

Die groep het die eerste helfte van sy boekjaar met 139 skole, 50 691 leerlinge en 2 976 onderwysers afgesluit, onderskeidelik 12 skole, 4 821 leerlinge en 198 onderwysers meer as einde 2017.

Net 1 068 van die nuwe leerlinge is die gevolg van verkrygings van nuwe skole, die res verteenwoordig groei in leerlinge by bestaande skole. Die Curro-groep sluit die Curro- en Meridian-skole, asook ’n aantal kleiner private skole in.

Die leerlingtal het met altesame 10% gestyg.

Wat sy syfers betref, gaan Curro van krag tot krag, met ’n styging van 22% tot 33,6c in sy kernwesensverdienste per aandeel; van 31% tot R335 miljoen in sy wins voor belasting, rente, waardevermindering en afskrywings (ebitda); en van 18% tot R1,242 miljard in sy inkomste.

Dié resultate sluit die resultate van Stadio, Curro se tersiêre afdeling, uit omdat Stadio in Oktober verlede jaar ontbondel en afsonderlik genoteer is.

Aan die negatiewe kant het Curro se skuldvlakke weens uitbreidings en verbeterings aansienlik gestyg – met meer as 39% tot R2,31 miljard – en finansieringskoste het met 51% tot R104 miljoen gestyg.

Die syfers het aandeelhouers nie juis beïndruk nie en Curro het in ’n stadium 1,45% laer vir die dag op R30,78 per aandeel verhandel.

Andries Greyling, uitvoerende hoof, sê hulle bly verbind daartoe om “gehalte-, onafhanklike onderrig toeganklik te maak vir meer leerlinge in Suider-Afrika”. Die groep het in die halfjaar onder meer na Botswana uitgebrei.

Curro gaan oor die volgende jaar R400 miljoen in ses nuwe Curro- en Curro Academy-skole belê, en is besig met groot uitbreidings by talle skole wat altesame R700 miljoen gaan beloop.

Curro verklaar steeds geen dividend nie.

Meer oor:  Curro  |  Stadio  |  Skole  |  Onderrig  |  Private Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.