Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Curro: Nuwe skole steun syfers

Ondanks die druk op verbruikers het Curro nou 5 868 méér leerlinge as ’n jaar gelede, ’n styging van 13% tot 57 173 leerlinge.

Die Curro-groep besit benewens gelyknamige skole ook Meridian-, DigiEd- en Castle-skole.

Dit kom grootliks omdat die privateskolegroep die grootste aantal nuwe skole in een jaar gebou en gekoop het sedert 2015.

Andries Greyling, uitvoerende hoof, skryf die styging in leerlinge ook daaraan toe dat Curro “baie aanloklik bly vir ouers wat vir hul kinders ’n uitmuntende opvoeding wil gee”.

Die groep het die afgelope jaar 10 nuwe kampusse en 22 nuwe skole bygekry – 13 daarvan nuwe skole wat die groep ontwikkel het en nege skole wat hy gekoop het. Die groep het nou 164 skole op 68 kampusse.

Curro is ook nie van plan om briek aan te draai nie en is besig om nog vier kampusse met vyf skole landwyd te ontwikkel.

Die groep se 80@20-visie, wat nog so onlangs as 2017 aangehaal is, was om teen einde 2020 80 kampusse en 200 skole te hê. 

In syfers

Curro se syfers vir die ses maande tot Junie 2019, soos vergelyk met Junie 2018:

  • Inkomste styg met 19% tot R1,48 miljard.
  • Wesensverdienste styg met 44% tot R206 miljoen.
  • Groep-ebitda het met 21% tot R415 miljoen gestyg (ebitda is verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en afskrywings).
  • Skole-ebtida styg met 20% tot R491 miljoen.
  • Wesensverdienste per aandeel styg met 44% tot 50c.
  • Herhalende wesensverdienste per aandeel styg met 7% tot 37,1c.

Die groep benut in dié stadium slegs 52% van sy skole se totale kapasiteit, wat beteken hy het nog aansienlik speling om meer leerlinge by sy bestaande skole in te skryf. Die benutting van kapasiteit in 2018 dié tyd was 54%.

Die groep se leerling-onderwyser-verhouding is net effens hoër. Die groep het nou gemiddeld 18 leerlinge per onderwyser, teenoor 17 ’n jaar gelede. Curro se uiteindelike mikpunt is 25 leerlinge per onderwyser in sy Curro- en Select-skole en 35 per onderwyser in sy Meridian- en Academy-skole.

Die syfers is uitgereik as deel van die groep se halfjaarsyfers vir die ses maande tot einde Junie.

Curro se inkomste het met 19% tot R1,48 miljard gestyg en die ebitda-winsgrens het tot 28% gestyg (van 27% ’n jaar gelede). Ebitda staan vir verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en afskrywings, en weerspieël die wins wat die skole maak.

Die skole-afdeling se ebitda-wins het met 20% tot R453 miljoen gestyg.

Die syfers het Curro se aandeelprys vroegoggend met tot 2,1% tot R17,01 laat styg. Die groep se aandeel het egter vanjaar reeds met byna 35% geval.

Curro het geen tussentydse dividend verklaar nie. Die groep het vroeër vanjaar die eerste voljaardividend sedert sy notering in 2011 verklaar.

    Meer oor:  Meridian  |  Curro  |  Andries Greyling  |  Private Onderrig  |  Private Skole
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.