Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Curro se inkomste styg, ondanks druk op ouers

Ondanks die voortslepende ontwrigting van die Covid-19-pandemie, ook op mense se vermoë om skoolgeld te betaal, het Curro die afgelope ses maande nuwe leerlinge gewerf.

Curro sê hy het geld vir verkrygings.

Die groep se getal leerlinge het met 7% gestyg vergeleke met die eerste ses maande van 2020, volgens ’n handelsverklaring op Sens. Hoewel die groep nie die nuutste getalle bekend maak nie, het hy vroeër vanjaar aangedui meer as 66 000 leerlinge het vir 2021 ingeskryf.

Curro se inkomste het die afgelope ses maande met 12% gestyg, teenoor 2020 se eerste helfte.

Die groep se wesensverdienste per aandeel gaan met tussen 44,6% en 52,5% daal, maar dié keer is dit nie weens die pandemie nie. Dis omdat Curro in September 2020 ’n regte-uitgifte van R1,5 miljard se aandele gedoen het, wat beteken dat daar 42% méér Curro-aandele uitgereik is. Dit beteken die verdienste moet deur meer aandele gedeel word.

Curro het R1,1 miljard van die geld gebruik om skuld te verminder, waardeur op finansieringskoste bespaar is. Dit het die groep ook in staat gestel om aantreklike verkrygings te doen, soos die koop in Mei van die HeronBridge College in Fourways, Johannesburg, wat nog onderworpe is aan goedkeuring deur die Mededingingskommissie.

Curro sê sy inkomste uit aanvullende dienste, soos nasorg en buitemuurse bedrywighede, is laer as vir die eerste ses maande van 2020 (toe skole darem twee maande lank heeltemal oop was voordat die pandemie toegeslaan het) en baie laer as in 2019.

Swak skuld en afslag op skoolgeld is ook baie hoër as die vlakke voor die pandemie.

Die groep sê sy sakemodel was tot dusver “veerkragtig”.

“Die sterk groei in die leerlingtal vanjaar bevestig die geloofwaardigheid van ons sterk aanbod, insluitend ’n sterker fokus op oplossings vir digitale onderrig. Ons bly verbind daartoe om uitstekende onderrig aan al ons leerlinge te bied, waardeur ons ’n positiewe bydrae tot die groter samelewing lewer.”

Curro reik sy halfjaarsyfers op 18 Augustus uit.

Meer oor:  Curro  |  Inperking  |  Covid-19  |  Skole  |  Private Skole  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.