Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Curro tuimel ná nuus oor ‘swak’ winsgroei

Curro se aandeelprys het Dinsdagmiddag skerp geval nadat die maatskappy ’n handelsverklaring uitgereik het wat ooglopend nie aan markverwagtinge voldoen het nie.

Curro reik volgende week sy halfjaarsyfers uit.

Die aandeel het summier met 13% tot R18,01 per aandeel geval ná ’n Sens-verklaring oor die groep se tussentydse resultate vir die ses maande tot einde Junie.

Die aandeel het wel kort daarna effens herstel, maar was teen 13:00 steeds byna 9% laer.

Die syfers self verteenwoordig steeds dubbelsyfergroei in die privateskolegroep se verdienste en wesensverdienste per aandeel.

’n Eenmalige aanpassing in uitgestelde belasting – die voorsiening wat ’n maatskappy in sy boeke doen vir sy verwagte belastingaanspreeklikheid – gaan Curro se halfjaarsyfers om die waarheid te sê buitengewoon gesond laat lyk.

Die privateskolegroep het aangekondig sy wesensverdienste per aandeel gaan tussen 41% en 47% hoër wees in die halfjaar tot einde Junie as in dieselfde tydperk van 2018.

Sy verdienste per aandeel gaan ook tussen 61% en 67% hoër wees.

Die syfers vir die eerste helfte van die 2018-boekjaar is heraangegee om voorsiening te maak vir nuwe rekenkundige standaarde wat alle maatskappye vanjaar begin toepas het, die sogenaamde IFRS 9 en IFRS 15.

Die tussentydse resultate vir 2019 word aangehelp deur ’n eenmalige aanpassing in die voorsiening wat vir belasting gemaak is. Dit beloop R53 miljoen en dra 12,9c per aandeel tot die styging in die wesensverdienste en verdienste per aandeel by.

Sonder dié belastingvoordeel sou Currro se wesensverdienste per aandeel ieder geval sterk, met tussen 23,9% en 29,6% gestyg het. Sy verdienste per aandeel sou egter met net tussen 3,7% en 9,5% gestyg het.

Curro sê in dié Sens-verklaring ondanks die “uitdagende handelstoestande” kon hy sy inkomste laat styg en sy winsgrense stabiel hou gemeet aan verdienste voor rente en belasting (ebit) en verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en afskrywings (ebidta).

Curro het vroeër vanjaar sy eerste dividend in sy 21-jarige bestaan uitgekeer.

Die styging in die groep se wesensverdienste vir die afgelope boekjare was onderskeidelik 51% in 2015, 79% in 2016, 69% in 2017 en 23% in 2018.

Die resultate word op 13 Augustus uitgereik.

Meer oor:  Curro  |  Private Skole  |  Private Onderrig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.