Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Curro verloor R300 miljoen weens pandemie

Curro het in 2020 nagenoeg R300 miljoen se inkomste verloor omdat leerlinge hulle aan die groep se skole onttrek het.

Curro
Curro trek swaar onder die pandemie.

Die groep het altesame 2 211 kinders verloor wat hulle deur die loop van die pandemiejaar aan die groep se skole onttrek het.

Nóg sowat 3 200 leerlinge is in Januarie vanjaar toelating geweier weens erg agterstallige rekeninge – selfs nadat die privateskolegroep vir meer mense afslag op skoolgeld aangebied het en ook baie geduldiger as in vorige jare was met agterstallige leerlinge.

Die meeste van die “verlore” leerlinge was babas en kleuters tot drie jaar oud in die Castle-kleuterskole, wat nie tydens die strengste inperking kon sake doen nie. Ouers het ooglopend alternatiewe versorging gevind, selfs nadat kleuterskole heropen het.

Ondanks die kinders wat onttrek het, het Curro die jaar afgesluit met meer leerlinge as in 2019. 2021 het ook weggespring met ’n rekordstyging van 10% in inskrywings. In Februarie was 66 153 leerlinge by die skool ingeskryf.

In syfers
  • Inkomste styg met 4% tot R3,1 miljard.
  • Wesensverdienste per aandeel daal met 39,2% tot 36,4c. Wesensverdienste word as ’n goeie maatstaf van wins uit bedrywighede beskou.
  • Verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en afskrywings daal met 1% tot R686 miljoen.
  • Geen dividend word uitgekeer nie weens die onsekerheid oor die voortslepende pandemie.

Ondanks die verlore inkomste – nie net uit skoolgeld nie, maar ook uit busgeld, koshuisgeld en nasorg – het Curro se inkomste met 5% tot R3,1 miljard gestyg. Die groep se wins het egter gedaal omdat baie van sy koste, soos huur en salarisse, vaste koste is wat hy nie kan besnoei nie.

Die groep het die jaar met 113 minder personeellede afgesluit, wat afleggings ingesluit het. Die groep verseker dat hy so ver as moontlik nie onderwysers afgelê het nie; inteendeel, die hele groep het 195 meer onderwysers as in 2019 gehad.

Curro Online is te midde van die pandemie bekend gestel – ’n suiwer aanlyn skool vir leerlinge van gr. 4 tot gr. 10. Net meer as 600 leerlinge is nou in dié skool ingeskryf.

Andries Greyling, uitvoerende hoof, is veral trots op Curro se slaagsyfer van 95,5% vir die leerlinge wat die Onafhanklike Eksamineringsraad se eksamen geskryf het, en van 95% vir leerlinge van die Nasionale Senior Sertifikaat geskryf het. Alle leerlinge wat geslaag het, kwalifiseer vir tersiêre onderrig.

Regstelling: In ’n vorige weergawe van die berig het die woord “minder” weggeval in die sin Die groep het die jaar met 113 minder personeellede afgesluit. Curro het altesame 5 963 personeellede.

    Meer oor:  Curro  |  Covid-19  |  Skole  |  Onderrig  |  Staat Van Inperking  |  Resultate
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.