Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Cyril was ‘te haastig’ met nuwe OBK-wet

Die staatsdiensvakbonde juig want vir die eerste keer sal drie vakbondverteenwoordigers in die direksie van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) dien.

Regter Lex Mpati, wat aan die hoof was van die kommissie van ondersoek na die OBK staan.

Die OBK bestuur meer as R2 100 miljard se bates, waarvan die meeste die aftreegeld van duisende staatsdienswerkers is.

Dit kom nadat pres. Cyril Ramaphosa die wysigings aan die Wet op die OBK vandeesweek finaal bekragtig het.

Maar daar is skerp kritiek dat Ramaphosa oorhaastig was met sy goedkeuring en dat die wet se voorskrif dat ’n adjunkminister die voorsitter van die OBK-direksie moet wees, bloot die deure vir kaderontplooiing oopmaak.

Die gewysigde wet is ’n stap in die regte rigting want dit skep groter deursigtigheid by die OBK, maar daar is verwag Ramaphosa sou dit eers terugverwys het na die parlement sodat die aanbevelings van die Mpati-kommissie ook daarin vervat kon word. Só meen Adamus Stemmet, woordvoerder vir AMAGP, ’n waghondliggaam wat hom beywer vir die belange van lede van die staatsdienspensioenfonds (GEPF).

Stemmet meen die wet plaas steeds te veel klem op die OBK terwyl dit meer op die raad van trustees van die GEPF behoort te wees. Dít is die trustees wat eintlik in beheer van die GEPF se bates behoort te wees. Hul huidige gebrek aan beheer het sterk geblyk tydens die ondersoek van die Mpati-kommissie na ongerymdhede by die OBK.

“Die OBK is bloot ’n batebestuurder, maar dit is ’n staatsbeheerde monopolie, terwyl niks die GEPF verhoed om meer en ander batebestuurders aan te stel nie,” sê Stemmet.

Voorgeskrewe bates

Art. 3 van die wet bepaal dat die OBK se beleggings so ver moontlik onder meer werk moet skep, ooreen moet stem met die land se ontwikkelingsdoelwitte, die ekonomie en samelewing moet transformeer, ’n ontwikkelingstaat moet help bou, en nywerheidsontwikkeling bevorder. Stemmet meen dit is waar die wet so na as moontlik kom aan “voorgeskrewe bates”.

Hy maan egter dat dit in stryd is met artikel 3 van die Wet oor die Staatsdienspensioenfonds van 1996, en ’n geleentheid het nou verlore gegaan om die twee wette in ooreenstemming met mekaar te bring.

Hy wys op ’n wanpersepsie dat die gewysigde wet uit die bevindings van die Mpati-kommissie spruit, maar die wetsontwerp is al in Februarie 2019 in die parlement goedgekeur, terwyl die Mpati-verslag eers in Maart 2020 gepubliseer is.

Die verslag het verskeie swakhede in die OBK se bestuur uitgewys en daar is wyd verwag dat Ramaphosa die wetsontwerp terug sou stuur na die parlement sodat die kommissie se aanbevelings in ag geneem kon word.

Die kommissie het byvoorbeeld gevoel die OBK-voorsitter behoort nie ’n politikus te wees nie, maar nou maak die wet dit ’n verpligting dat die adjunkminister van finansies of enige ander adjunkminister as voorsitter aangestel moet word.

AMAGP is bevrees dit gaan bloot beteken enige politikus in die pos sal van politieke inmenging beskuldig kan word.

Alf Lees, DA-parlementslid en lid van die staande komitee oor openbare rekeninge, waarsku ook oor dié swakheid in die wet. Volgens Lees spruit die wet uit ’n privateledewetsontwerp wat David Maynier, vorige DA-woordvoerder oor finansies, ingedien het om verantwoordbaarheid en deursigtigheid by die OBK te verbeter.

Alf Lees, DA-LP.

Maynier se oorspronklike voorstel was dat die OBK-voorsitter onafhanklik moes wees.

Lees het ’n beroep op Tito Mboweni, minister van finansies, gedoen om die wysigings so gou moontlik in te stel en sy beste oordeel te gebruik met die aanstelling van ’n voorsitter.

Abel Sithole, uitvoerende hoof van die OBK wat voorheen hoof was van die GEPF, het die wet verwelkom en bevestig dit is ’n groot stap na groter deursigtigheid oor die OBK se beleggingsprosesse.

“Die OBK is uiteindelik aan sy kliënte en hul begunstigdes en aan die regering as aandeelhouer en borg van sy kliënte verantwoordbaar. Die nuwe wetgewing bied groter toesig deur alle belanghebbers,” sê Sithole.

Die vakverbond Cosatu meen die wet sal help met die stryd teen korrupsie en kaping van die staat en private maatskappye.

Die Vereniging van Staatsamptenare (PSA), wat sowat 240 000 lede in die staatsdiens het, sê hy het al sedert 2017 vrae aan die minister gevra oor die samestelling van die OBK-direksie. Die PSA is egter soos AMAGP besorg oor die rol van die GEPF se trustees, en dat hulle nie hul fidusiêre pligte behoorlik uitoefen nie deur byvoorbeeld toe te laat dat hul bates deur die OBK gebruik word om sukkelende staatsinstellings te red, in stryd met finansiële wetgewing.

Die wet behels onder meer die volgende:

  • Die minister van finansies kan die adjunkminister van finansies of enige ander adjunkminister in die ekonomiese groepering van die kabinet as voorsitter van die OBK aanstel. (Dit is nie voorheen wetlik voorgeskryf nie, maar die tradisie tot dusver was dat die adjunkminister van finansies die OBK-voorsitter is. Onlangs het Mboweni vir dr. Reuel Khoza, ’n onafhanklike persoon, as tydelike voorsitter aangestel nadat die hele direksie van die OBK bedank het.)
  • Die OBK moet die besonderhede van enige nuwe beleggings namens sy kliënte op sy webblad publiseer;
  • Die OBK moet jaarliks aan die minister van finansies verslag doen oor die aantal en besonderhede van “beduidende” transaksies wat ingevolge die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies goedkeuring benodig;
  • Die OBK moet ’n verslag oor al sy beleggings aan die minister voorlê vir indiening in die parlement;
  • Die OBK moet sekere riglyne in ag neem wanneer hy geld namens kliënte belê.
Meer oor:  Obk  |  Staatsdiens  |  Mpati-Kommissie  |  Staatsamptenare  |  Vakbonde  |  Gepf  |  Pensioenfondse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.