
’n T6-52-kanon van Denel. Solidariteit sê hy sal Denel tot verantwoording roep oor sy verpligtinge teenoor sy werknemers. Foto: Denel
Denel het Vrydag tot die einde van die dag om honderdmiljoene rande in agterstallige salarisse en voordele aan sy werknemers uit te betaal, of sy direksie kan skuldig wees aan minagting van die hof.
Volgens Solidariteit het “die dag van afrekening aangebreek”.
Solidariteit en die vakbond Uasa het Dinsdag ’n hofsaak gewen teen die staat se wapentuigvervaardiger. Dit dwing hom om binne drie dae die agterstallige salarisse aan al sy werknemers wat lid van Solidariteit en Uasa is, te betaal. Sowat 3 800 werknemers is al sedert Mei nog net gedeeltelik betaal.
Denel se salarisrekening beloop tussen R140 miljoen en R150 miljoen per maand. Op 25 Mei het werknemers slegs tussen 20% en 40% van hul salarisse gekry, en in Junie sowat 60%.
Julie se salarisse is in twee sarsies betaal, maar ook nie ten volle nie.
Daarby moet persoonlike inkomstebelasting en bydraes aan die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF), pensioenfondse en mediese skemas, wat sedert April van werknemers se salarisse afgetrek is maar nie aan die betrokkenes oorbetaal is nie, ook nou betaal word.
Solidariteit het 937 lede by Denel en Uasa 431 – saam is dit bykans die helfte van Denel se werkmag.
Die hofbevel is egter net van toepassing op die lede van hierdie twee vakbonde en dwing nie die staatsonderneming om ander werkers se salarisse te betaal nie.
Solidariteit bevestig egter dat indien Denel nie die betalings Vrydag maak nie, hy met stappe sal begin om hom aanspreeklik te hou – dit behels ook dat die lede van die direksie in hul persoonlike hoedanigheid verantwoordelik gehou kan word.
Die ander opsie is dat Solidariteit beslag lê op die platsak staatsonderneming se oorblywende bates.
Die vakbond bevestig indien hy nie agter die direksielede aangaan nie, hy beslis dié opsie sal volg.
Volgens Helgard Cronjé, sektorkoördineerder vir verdediging en lugvaart by Solidariteit, sal hulle nie skroom om tot hierdie optrede oor te gaan nie, en Solidariteit sal albei roetes volg om Solidariteit se lede te beskerm.
“Solidariteit is vasbeslote om Denel tot verantwoording te roep.”