Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
D-dag vir SAL?

Vrydag kan bepalend wees vir die lotsbestemming van die staatsbeheerde lugdiens SAL.

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens kan volgens die sakeredders met nagenoeg R10,5 miljard gered word, maar die tesourie is glo teensinnig om dié geld te vind terwyl die ekonomie ná die Covid-19-krisis weer aan die brand geskop moet word.

Krediteure asook die sakereddingspraktisyns van dié lugdiens wag op hete kole om te hoor wanneer die regering nou die beloofde R10,5 miljard gaan gee om die SAL te red.

’n Krediteurevergadering wat verlede Vrydag sou plaasvind, is met ’n week uitgestel sodat daar verneem kan word of die regering sy belofte gaan hou.

Louise Brugman, woordvoerder van Les Matuson & Associates, die sakereddingspraktisyns van die lugdiens, het egter Vrydagoggend gesê sy weet nie van ’n krediteurevergadering wat Vrydag sou plaasvind nie. ’n Brief sal wel deur die loop van die dag aan die “geaffekteerde partye” uitgestuur word.

Tito Mboweni, minister van finansies, het al herhaalde kere gesê die regering het nie nog geld oor vir sukkelende staatsondernemings soos die SAL nie, en sy persoonlike mening is dat die lugdiens gesluit of verkoop moet word want dis nie die staat se werk om lugdienste te bedryf nie.

Die regering se amptelike beleid is egter dat die SAL as een of ander strategiese entiteit moet voortbestaan om Suid-Afrika se beeld as internasionale toerismebestemming uit te bou.

Die SAL het reeds voor die Covid-19-pandemie diep verliese gely, maar moes tesame met alle ander plaaslike lugdienste sy bedrywighede volledig staak tydens die inperking. Die private lugdiensgroep Comair is ook in sakeredding en die staat se kleiner streeklugdiens, SA Express, word deur likwidasie in die gesig gestaar.

Volgens bronne wat met Bloomberg gepraat het, soek amptenare van die nasionale tesourie teensinnig geld elders in die staatskas om vir die SAL te gee, as deel van herprioritisering van besteding in aanloop tot die mediumtermynbegrotingsraamwerk wat in Oktober bekend gemaak sal word.

Die meer as R10 miljard sal van ander staatsdepartemente en bestedingsprogramme weggevat moet word en kan die regering se pogings ondermyn om die krimpende ekonomie te laat herleef, het Bloomberg se bronne gewaarsku.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het verlede week beloof die regering sal vandeesweek meer duidelikheid gee oor die nuwe geld vir die SAL. Daar was Woensdag ’n kabinetsvergadering, en inligting oor enige nuwe besluite kan dalk Vrydag bekend gemaak word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.