Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
DA boos oor ‘afpers’-nota van SAL-redders
Daar is steeds geen teken van die R10,3 miljard wat die SAL nodig het om weer in bedryf te kom nie. Foto: Twitter

Dit is duidelik dat die bewerings van aanbiedinge deur private beleggers om in die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) te belê glad nie ernstig is nie.

Dit was duidelik net om belastingbetalers te paai wat waarskynlik R10,3 miljard sal moet opdok om dié lugdiens te red.

Dit is wat Alf Lees, DA LP, dink van die brief Vrydag van Les Matuson en Siviwe Dongwana, sakeredders wat by die lugdiens aangestel is, aan belanghebbendes.

Hulle sê in dié brief dat as hulle nié teen einde dié week die beloofde geld kry nie, sal hulle Vrydag met belanghebbendes moet vergader om die uitvoerbaarheid van die reddingsplan te bespreek.

Die departement van openbare ondernemings het in Julie – as deel van die voorwaardes vir die aanvaarding van die reddingsplan – skriftelik bevestig dat hy dié geld sal voorsien.

LEES OOK: Staat bevestig: Hy gáán geld gee vir SAL

Daar is egter nog geen teken van dié geld nie.

Die departement het wel Vrydag gesê dat hy hoop om “binnekort” ’n aankondiging hieroor te maak.

Hy het voorheen gesê dat daar minstens tien beleggers en/of finansiers is wat aangedui het dat hulle belangstel om in die sukkelende lugdiens te belê.

Lees sê in ’n verklaring dat die jongste kennisgewing niks minder is nie as om die spreekwoordelike mes teen die keel van belastingbetalers te hou en op die geld aan te dring nie.

Hy het gesê gegewe dat Statistieke Suid-Afrika onlangs bekend gemaak het dat die land die ergste ekonomiese inkrimping in sy geskiedenis gedurende die tweede kwartaal van die jaar ervaar het, kan die land dit bloot nie bekostig om die lugdiens te red nie.

Hy het gesê die DA sal nie skroom om hom weer op die hof te beroep indien die regering sou poog om belastinggeld aan die SAL toe te ken nie.

Die DA het in Julie ’n dringende aansoek by die hooggeregshof in Pretoria ingedien om te keer dat die staat enige uitbetalings ingevolge art. 16 van die Wet op Openbare Finansiële Steun maak.

Dr. Cecile Duvenhage, dosent by die departement ekonomie en finansies aan die Universiteit van die Vrystaat, verduidelik in ’n nota dat die minister van finansies ingevolge dié artikel “die gebruik van geld, insluitend die Nasionale Inkomstefonds (NRF), kan magtig om uitgawes van ’n ‘buitengewone aard’ te finansier waarvoor tans nie voorsiening gemaak word nie”.

Sy sê dat gegewe dat die herkapitalisering van die SAL al sedert Februarie 2017 op die regering se agenda is, is daar niks “buitengewoons” hieraan nie.

“Hoe uitsonderlik is ondoeltreffendheid en swak bestuur oor ’n tydperk van tien jaar, en hoe bevooroordeeld sou so ’n oordragbesluit teenoor openbare belang wees?” vra sy.

Die regering het voorheen onderneem om nié dié artikel te gebruik om geld vir die SAL te gee nie.

Meer oor:  Da  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Les Matuson  |  Pravin Gordhan  |  Siviwe Dongwana  |  Alf Lees  |  Vlugte  |  Lugdiens  |  Sakeredding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.