Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
DA dringend hof toe oor SAL-miljarde

Die DA het Vrydag ’n dringende aansoek by die hooggeregshof in Pretoria ingedien om te keer dat die staat enige geld aan die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) gee.

Die DA het ’n dringende aansoek by die hooggeregshof in Pretoria ingedien om te keer dat enige staatsgeld aan die SAL gegee word.

Geordin Hill-Lewis, DA-LP, sê in ’n verklaring aangesien Tito Mboweni, minister van finansies, nie op sy brief van Donderdag gereageer het nie, het hy nou sy aansoek by die hof ingedien.

Die DA wil ’n interdik bekom om die staat te keer om enige geld aan die SAL te betaal, en as daar reeds enige geld oorbetaal is, dit nie gebruik mag word nie.

Die DA se aansoek kom nadat Mboweni en Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, Woensdagaand in ’n brief aan die sakeredders van die SAL bevestig het dat die staat geld sal gee om die SAL van likwidasie te red.

Volgens die sakereddingsplan wat vir die lugdiens aanvaar is, is ’n bykomende R10,1 miljard nodig om die reddingsplan tot uitvoering te bring.

Finansiële steun deur die “aandeelhouer” van die SAL – dus die staat – was een van die voorvereistes van die reddingsplan vir die lugdiens.

Die staat het bevestig hy gaan die geld gee, maar gee geen besonderhede oor waarvandaan die geld gaan kom of wanneer dit betaal gaan word nie.

Hy sê wel dat dit in dele betaal sal word.

LEES OOK: Staat bevestig: Hy gáán geld gee vir SAL

Hill-Lewis sê hulle sal enige uitbetaling van staatsgeld wat Mboweni kragtens sy noodmagte ingevolge art. 16 van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur doen, teenstaan.

Hy sê enige verdere reddingsboei “voldoen nie aan die definisie van ’n onvoorsiene noodtoestand nie. Om dit as voorwendsel te gebruik om die SAL weer te red, sou onwettig wees.”

Die R10,1 miljard waartoe die staat hom in die brief aan die sakeredders verbind het, is bo en behalwe die R16,4 miljard wat die tesourie reeds in die Februarie-begroting aan die lugdiens toegeken het. Dit is oor ’n tydperk van drie jaar toegeken met die doel dat die lugdiens sy skuld hiermee moet betaal.

Luidens die sakereddingsplan het die SAL egter dringend R5 miljard nodig om weer op dreef te kom.

Dit kan as volg opgedeel word:

  • R2 miljard om die SAL op dreef te kry;
  • R800 miljoen se skuld wat betaal moet word; en
  • R2,2 miljard vir skeidingspakkette aan werknemers.

Die res van die R10,1 miljard bestaan uit:

  • Aanspreeklikheid van R3 miljard vir kaartjies wat verkoop is;
  • R600 miljoen aan krediteure; en
  • R1,7 miljard vir huur.

Op die vraag oor waarvandaan die geld gaan kom en wanneer dit betaal gaan word, is daar tans geen duidelikheid nie.

Waar kom die geld vandaan?

Die departement van openbare ondernemings sê Donderdag in ’n verklaring die brief wat aan die sakeredders gestuur is, wys die staat “ondersteun die voorstel vir ’n nuwe lugdiens en die gesamentlike poging om finansiering uit verskillende bronne te mobiliseer, insluitend van potensiële vennote vir die nuwe lugdiens”.

Derek Mans, Solidariteit se lugvaartverteenwoordiger, sê hy dink die geld gaan bloot uit die belastingbetaler se sak kom en nie van enige ander “beleggers” of “vennote” nie.

“Met dié dat die reddingsplan dit duidelik stel dat die staat die enigste aandeelhouer in die lugdiens gaan wees, kan ek nie sien hoe private beleggers gelok kan word nie. Watter belegger sal geld in ’n onderneming stort as hy geen sê het in hoe dit bestuur word nie?” vra hy.

Die SAL-vlieëniersvereniging (Saapa) sê ook reguit in ’n verklaring Donderdag “die belegging van belastingbetalers se geld” in die SAL is ’n “opoffering wat ons nie ligtelik opneem nie”.

Dawie Klopper, beleggingsekonoom by PSG Wealth, het al in Mei aan Netwerk24 verduidelik as die SAL in staatsbesit is, “moet die geld van die fiskus afkom. Dit beteken dit kom van die belastingbetaler.”

LEES OOK: ’n Nuwe SAL? Jy gaan moet betaal!

  

Wanneer is die geld nodig?

Van die geld om die SAL reg te ruk, gaan waarskynlik binnekort betaal moet word.

Die R2,2 miljard vir skeidingspakkette is moontlik een van die bedrae wat eerste betaal sal moet word, aangesien Les Matuson en Siviwe Dongwana, die sakeredders wat by die SAL aangestel is, in ’n verklaring sê werknemers en die vakbonde wat hulle verteenwoordig, moet Vrydag (17 Julie) aandui of hulle die vrywillige skeidingspakkette wat aangebied is, aanvaar. Die art. 189-proses ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge begin op 22 Julie indien nie genoeg mense vrywillig uittree nie.

Die meeste van die vakbonde het reeds voordat daar oor die reddingsplan gestem is, aangedui dat hulle die pakkette sal aanvaar soos dit in die hersiene reddingsplan uiteengesit is.

As die SAL vanjaar nog binnelandse vlugte wil hervat, gaan die sakeredders waarskynlik ook baie binnekort die R2 miljard nodig het wat hy sê nodig is om die lugdiens op dreef te kry.

Mboweni, Gordhan en die sakeredders, wat almal respondente in die DA se aansoek is, het tot 21:00 op Sondag 19 Julie om aan te dui of hulle die DA se aansoek gaan teenstaan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.