Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
DA eis strafregtelike ondersoek na Denel

Denel, die staat se finansieel beleërde wapentuigvervaardiger, is in die DA se visier.

FILE PHOTO: Denel company logo is seen at the entr
FILE PHOTO: Denel company logo is seen at the entrance of their business divisions in Pretoria, South Africa, December 4, 2018 Picture taken December 4, 2018. REUTERS/Siphiwe Sibeko/File Photo8BIM

Dit kom nadat die maatskappy sy jaarverslag maande laat ingedien het en in November by die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping bespreek is.

Die DA eis dat die spesiale ondersoekeenheid ’n ondersoek van stapel stuur oor Denel se finansiële state.

Die party het reeds forensiese verslae oor Denel se finansiële resultate aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens oorhandig.

Dit kom nadat Denel sy jaarverslag maande laat ingedien het aan parlementêre oorsigkomitees en ook nog nie sy jaarvergadering gehou het nie. Sy laaste jaarvergadering was 15 maande gelede.

Die DA sê Denel se direksie sal ook voor die staande komitee oor openbare rekeninge en die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings moet getuig.

Michéle Clarke, DA-LP, sê Denel se finansiële lewensvatbaarheid kwyn van jaar tot jaar. ’n Verlies van R2,72 miljard is in die 2018-’19-boekjaar gely en van R3,41 miljard in 2019-’20.

“Denel het net nie die vermoë sy sake te bestuur nie. Die onderbreking van produksie, kontantvloeiprobleme en swak bestuur van programme is aan die orde van die dag,” sê Clarke.

Denel het verlede jaar ’n reddingsboei van R1,8 miljard van die regering gekry. Die DA het ’n volledige verslag oor Denel se sakeplan en omkeerstrategie vir dié geld aangevra.

Onlangs tydens die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping is die parlement daarvan beskuldig dat dit bloot ’n rubberstempel was wat die staatskaping aangehelp het.

“Hoewel sowel pres. Cyril Ramaphosa as Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, talle beloftes gemaak het om staatsondernemings te hervorm, het so ’n plan nie gerealiseer nie.

“Trouens, hul aandrang op die redding van mislukte staatsondernemings (’n verwysing na Denel en ook die Suid-Afrikaanse Lugdiens) het die land in finansiële nood geplaas en kan direk gekoppel word aan die ekonomiese inploffing wat Suid-Afrika tans ervaar.

“Alle bewerings wat by die Zondo-kommissie gemaak word, moet deeglik ondersoek word. Die skuldiges moet afgedank word en dan onverwyld vervolg word.”

Clarke sê die geld sou die land se inentingsprogram kon finansier, of sou gebruik kon word vir stimuluspakkette om klein, medium- en mikro-ondernemings in verskillende sektore te red of om die heropening van skole te finansier.

“Staatsondernemings is die grawe wat gebruik word om die land se graf te grawe. Dit kan nie meer ontken of geïgnoreer word nie. Die enigste oplossing is privatisering.”

Enkele bewerings teen Denel by die Zondo-kommissie sluit in:

  • Die kommissie het getuienis gehoor dat Duduzane Zuma, seun van oudpres. Jacob Zuma, en Salim Essa, ’n Gupta-sakevennoot, die meerderheid aandeelhouers was van VR Laser, wat drie omstrede kontrakte by Denel gekry het en waarskynlik dié staatsentiteit laat sneuwel het.
  • Monhla Hlahla, wat in April 2018 deur Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, as nuwe voorsitter van die Denel-direksie aangestel is, het getuig dat Denel se reputasie onherstelbaar geskaad is nadat die Guptas klaarblyklik die staatsentiteit binnegedring en ’n nuwe maatskappy, Denel Asia, geskep het in ’n poging om rolspelers in die hoogs vertroulike internasionale mark vir verdedigingstoerusting te word. Maar al wat die Guptas en hul meeloper Salim Essa uiteindelik bereik het, is om Denel byna te vernietig.
Meer oor:  Denel  |  Wapenvervaardiger  |  Guptas  |  Staatskaping  |  Staatsondernemings  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.