Die krediteure van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) moet waarborge oproep vir hul lenings aan die lugdiens en ’n einde bring aan die “doodstryd” om die SAL aan die gang te probeer hou.

Die SAL se skuld beloop R16,4 miljard. Foto: Twitter
Dis die beroep van Alf Lees, DA-LP, nadat krediteure die staat nóg uitstel gegee het om met banke tot ’n vergelyk te kom oor lenings wat verlede jaar toegestaan is. Die staat waarborg dié lenings. Lees se argument blyk te wees as die waarborge opgeroep word, sal dit die lugdiens se likwidasie meebring.
Die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika en Suid-Afrikaanse handelsbanke het verlede jaar R5,5 miljard aan die SAL geleen, maar altesame skuld die SAL R16,4 miljard aan leners.
Die tesourie en die departement van openbare ondernemings moes teen 22 Julie ’n brief by die sakeredders indien waarin hy onderneem om die waarborge in plek te hou vir die lenings.
Nadat dit nie gebeur het nie, het die sakeredders Vrydag weer met die krediteure vergader om die staat tot 27 Julie tyd te gee om die brief te stuur.
95% van die krediteure het die voorstel aanvaar.
Sou die staat nie teen 27 Julie die brief stuur nie, sal die sakeredders op 30 Julie weer met die krediteure vergader. Die reddingsplan sal dan gesien word as onuitvoerbaar, en likwidasie sal as die logiese volgende stap beskou word.
Lees sê Vrydag in ’n verklaring dit lyk vir hom asof Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, sukkel om Tito Mboweni, minister van finansies, te oortuig om ’n ooreenkoms te teken.
Lees sê verder gegewe dat daar geen kans “nou of in die toekoms” is dat die SAL sy skuld van R16,4 miljard gaan terugbetaal nie, maak dit nie sin dat die krediteure nie reeds staatswaarborge opgeroep het nie.
“Deur dit nie te doen nie, verleng hulle die pyn vir arm Suid-Afrikaners omdat meer en meer reddingsboeie deur die ANC-regering na hul ‘vlagdraer’-lugdiensprojek gegooi word.
“Daar is absoluut geen nasionale belang wat die voortgesette en immorele finansiering regverdig van die SAL-albatros wat om die nek hang van reeds oorbelaste Suid-Afrikaners nie,” sê Lees.
Siviwe Dongwana, een van die sakeredders wat by die SAL aangestel is, het gedurende die vergadering met die krediteure verduidelik sover hulle verstaan, het die regering en krediteure laat Woensdagaand wel ’n ooreenkoms bereik. Dis nou bloot ’n kwessie van tyd voordat hulle die brief sal ontvang.
Daar is reeds aan al die ander voorwaardes voldoen om die reddingsplan te laat realiseer.