Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
DA soek antwoorde oor geld vir SAL
Daar is nog geen nuus dat die staat R10,1 miljard gekry het vir die redding van die Suid-Afrikaanse Lugdiens nie. Foto: Twitter

Het die staat nou al geld vir die Suid-Afrikaanse Lugdiens gekry? En indien wel, waar?

Dit is vrae waarop die DA steeds nie antwoorde kan kry nie.

Alf Lees, DA-LP, het Donderdag ’n brief aan Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, gestuur om uit te vind wat die stand van sake is.

Lees het vroegaand in ’n verklaring gesê hy het waarskynlik die vinnigste antwoord tot dusver deur ’n minister gekry nadat Gordhan hom dieselfde dag reeds geantwoord het.

Gordhan het egter geen besonderhede gegee oor die meer as R10 miljard waaroor al die vrae handel nie, maar Lees daarop gewys dat hy die korrekte prosedure moet volg wanneer hy vrae wil vra.

Lees sê hy sal nou ’n amptelike parlementêre vraag aan Gordhan rig, waarin hy dieselfde vrae sal vra.

Lees sê daar sal nog gesien moet word of Gordhan dan die vrae na behore sal beantwoord.

Les Matuson en Siviwe Dongwana, die sakeredders wat by die lugdiens aangestel is, het vroeër in Augustus aan Netwerk24 bevestig hulle het dringend R3,8 miljard nodig om met die reddingsplan van die lugdiens voort te gaan.

Die geld sal hoofsaaklik gebruik word om krediteure (R800 miljoen) en vrywillige skeidings- en afleggingspakkette (R2 miljard) te betaal. Sowat R1 miljard is nodig om bedrywighede te hervat.

Luidens die reddingsplan wat die krediteure van die lugdiens op 14 Julie aanvaar het, is daar altesaam sowat R10,1 miljard nodig om die plan deur te voer.

Die sakeredders het ook reeds bevestig dat 3 110 van die SAL se 4 661 werknemers aansoek gedoen het om vrywillige skeidingspakkette. Net 1 000 van die lugdiens se werknemers sal hul werk behou.

Hoewel daar nog geen teken van die geld vir die SAL is nie, het die departement van openbare ondernemings op 13 Augustus gesê dat hy Rand Merchant Bank as raadgewer aangestel het om aanbiedinge vir ’n belang in die SAL te help hersien.

Die aankondiging dat die departement duidelik op soek is na ’n vennoot en/of belegger in die SAL, is ’n afwyking van die reddingsplan waarin geen melding gemaak word dat die staat bereid sal wees om ’n belang in die lugdiens te verkoop nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.