Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
DA vra IMF om by geld vir SAL in te gryp
Die DA het ’n beroep op die IMF gedoen om ondersoek in te stel na hoe die regering beplan om geld aan die Suid-Afrikaanse Lugdiens beskikbaar te stel. Foto: Bloomberg

Die DA wil keer dat die staat enige geld wat hy as lening van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) ontvang het, kan gebruik om die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) mee te red.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het egter reeds in Julie onderneem dat geen van dié geld vir die SAL aangewend sal word nie.

“Die IMF-geld gaan nie vir die SAL aangewend word nie. Ek dink die minister van finansies het dit duidelik gemaak,” het Gordhan in ’n sitting van die Nasionale Vergadering gesê nadat opposisielede van die parlement ’n bespotting gemaak het van die pogings om ’n nuwe lugdiens tydens die Covid-19-pandemie te begin.

LEES OOK: IMF-geld sal nie vir SAL gebruik word, sê Pravin

Die IMF het in Julie ’n lening van $4,3 miljard aan Suid-Afrika toegestaan.

Daar is geen uitdruklike voorwaardes aan die lening gekoppel soos gebruiklik by die IMF-reddingsboeie is nie, omdat dit ingevolge die IMF se snelle finansieringsinstrument geleen word.

Daily Maverick het onlangs berig dat ministers gevra gaan word om hul begrotings te hersien, juis om op dié manier geld vir die SAL in die hande te kry.

Die sakereddingsplan wat die krediteure reeds in Julie aanvaar het, vereis R10,3 miljard om die lugdiens te red.

Daar is tot nou toe geen teken van dié geld nie. Dit is ondanks die departement van openbare ondernemings wat herhaaldelik gesê het dat hy besig is om te kyk hoe om die geld te “mobiliseer” en dat hy met verskeie moontlike beleggers in gesprek is.

In Junie is groot besnoeiings reeds gemaak aan die begrotings wat die bou van skole, paaie en ander projekte benadeel.

Die DA stem saam dat enige planne deur die tesourie om ’n reddingsboei aan die SAL te gee slegs gedoen kan word deur geld – wat voorheen aan projekte toegeken is vir die verligting van die effek van die pandemie op die land se ekonomie – nou aan die lugdiens te gee óf om meer skuld aan te gaan.

Die DA sê enige van dié twee stappe is teenstrydig met die onderneming wat Tito Mboweni, minister van finansies, aan die IMF gegee het toe die land aansoek om die lening gedoen het.

“Die minister het dit duidelik gestel dat die geld gebruik sal word om gesondheids- en frontliniedienste te ondersteun, weerloses te beskerm, ekonomiese hervorming te steun, werkgeleenthede te skep en staatskuld te stabiliseer,” sê Geordin Hill-Lewis, DA-LP, in die brief.

Hy sê só ’n stap is duidelik strydig met die land se onderneming om die ekonomie te hervorm en sy skuld te verminder.

Dit is ook strydig met wat Geoffrey Okamoto, adjunk-besturende direkteur van die IMF, gesê het toe die lening aan Suid-Afrika toegeken is, naamlik dat daar “’n dringende behoefte is om skuldvolhoubaarheid te verseker deur fiskale konsolidasie uit te voer”.

“Ons versoek die IMF om sy finansieringsvereiste vir ‘volle deursigtigheid en aanspreeklikheid’ op die lening te aktiveer, en dat hy moet vra dat die Suid-Afrikaanse regering verslag moet doen oor hoe die geld bestee is,” skryf Hill-Lewis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.