Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Dagga-firma se verlies byna 280 000% meer
Cannabis oil
Labat Africa, wat ook met dagga boer, se bedryfsverlies beloop byna R64 miljoen.

Die logistiek-en-tegnologiefirma, wat deesdae ook met dagga boer, Labat Africa het ter elfder ure sy voorlopige resultate vir die jaar tot einde Augustus uitgereik.

Daarvolgens het sy bedryfsverlies met ’n massiewe 277 665% toegeneem.

Die piepklein wins van Labat, onder leiding van die voormalige rugbybaas Brian van Rooyen, van R23 000 in die vorige boekjaar is uitgewis en met ’n verlies van bykans R64 miljoen vervang.

Sy inkomste is egter ’n stewige 737% meer en beloop nou meer as R614 miljoen, vergelyke met R73,3 miljoen die vorige jaar.

Dit is nie bekend waarom die maatskappy se bedryfsverlies so skerp geval het nie; hy het wel verskeie verkrygings in die laaste jaar gedoen.

Die Sens-verklaring bevat geen verduideliking vir die syfers nie, maar maak melding van ’n “volledige aankondiging” op Labat se webwerf.

Dit is egter nêrens te vinde nie.

Kernverdienste per aandeel is 256% minder terwyl verdienste per aandeel 608% laer is.

Labat was verlede jaar ook laat met die uitreiking van sy resultate. Die JSE het toe gedreig om sy verhandeling op te skort.

Die aandelebeurs het ’n soortgelyke waarskuwing aan Labat en twee ander firmas in Desember uitgereik.

Die ander twee maatskappye is albei onder die vlerk van dr. Iqbal Survé se Sekunjalo-groep.

African Equity Empowerment Investments (AEEI), voorheen bekend as Sekunjalo Investments, en Ayo Technology Solutions het steeds nie hul resultate uitgereik nie.

Die JSE het die maatskappye tot 31 Desember kans gegee om dit te doen. Daar is egter nog geen aankondiging gedoen oor of AEEI of Ayo se notering nou tydelik opgeskort gaan word nie.

Ayo is die inligtingstegnologiemaatskappy waarin die Openbare Beleggingskorporasie R4,3 miljard belê het.

Dié belegging het onder skerp kritiek deurgeloop omdat Ayo met sy notering in Desember 2017 op R45 verhandel het, maar die aandeelprys het sedertdien tot R3,60 gedaal.

Labat het in September ’n meerderheidsaandeel in ’n groot daggaplaas in Lesotho bekom.

LEES OOK: Vorige rugbybaas koop daggaplaas in Lesotho

Die maatskappy het rondom dieselfde tyd ’n filiaal vir daggaproduksie, Labat Cannabis, gestig en nog verkrygings gedoen, waaronder ’n onderneming wat daggasaad en genetiese materiaal vir medisinale doeleindes vervaardig.

Labat se aandeelprys het kort ná die uitreiking van sy voorlopige syfers met bykans 11% tot R0,41 geval.

Kragtens die JSE se noteringsvereistes het maatskappye drie maande ná hul jaar- of halfjaareinde tyd om hul voorlopige state in te dien.

Labat se resultate was dus reeds ’n maand laat.

Meer oor:  Ayo  |  Dagga  |  Resultate  |  Maatskappy  |  Verlies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.