Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Daghospitale byt die spit af weens Covid-19
daghospitaal
Is daghospitale die antwoord op duur mediese kostes? Foto: Unsplash

Daghospitale word die afgelope jare voorgehou as ’n baie beter alternatief vir kleiner prosedures en operasies – goedkoper vir mediese fondse, pasiënte en dokters.

Maar die Covid-19-pandemie was vir dié hospitale ’n enorme terugslag omdat pasiënte verkies het om daardie gastroskopie of operasie vir ’n afgewykte septum liefs uit of af te stel en anders as akute hospitale behartig hulle nie noodgevalle nie.

Vir die genoteerde daghospitaalgroep Advanced Health was die pandemie ’n krisis wat die groep tot die rand van ineenstorting gedruk het ná jare waarin hy al sukkel om teen veel groter hospitaalgroepe markaandeel te wen.

Die groep se aantal pasiënte in Suid-Afrika, waar hy 12 daghospitale besit, het in die laaste kwartaal van sy boekjaar – van April tot Junie, dus juis die tyd met die hoogste infeksiekoerse in Suid-Afrika en die strengste inperking – met 43% geval vergeleke met die derde kwartaal. Sy inkomste het met 26% gedaal.

In Australië, waar die groep Advanced Health Presmed vyf spesialis-daghospitale besit, het die aantal pasiënte met 40% geval en die inkomste met 47%.

Die groep sê veral oor-neus-en-keeloperasies en oogoperasies is afgestel weens die hoër risiko van infeksie deur die lugweë en oë. Sommige operasies wat gewoonlik in akute hospitale gedoen word, is wel na sy daghospitale geskuif omdat akute hospitale strenger was oor watter operasies hulle sou toelaat ten einde kapasiteit vir Covid-19-pasiënte beskikbaar te laat.

Advanced Health raam hy het R66,4 miljoen se inkomste in die laaste kwartaal van sy boekjaar verloor.

In Australië is die groep vanaf Mei toegelaat om tot 50% van sy kapasiteit te benut en in Junie tot 75%. Vanaf Julie mag hy sy volle kapasiteit benut.

Advanced Health se inkomste vir die voljaar tot Junie het met net 0,2% tot R476,2 miljoen gedaal, maar sy verlies vir die jaar het vyf keer meer geword tot R133,8 miljoen. Die groep se basiese verlies per aandeel uit alle bedrywighede het ook byna vyfvoudig tot 51,08c gestyg en sy wesensverlies per aandeel tot 49,42c.

Veral oor-neus-en-keeloperasies en oogoperasies is afgestel weens die hoër risiko van infeksie deur die lugweë en oë.

Die groep waarsku in die resultate dat hy dringend finansiering moet bekom anders sal hy nie as lopende saak kan bly voortbestaan nie. Vier van die groep se Suid-Afrikaanse hospitale is in die mark en ’n aanbod van R170 miljoen is wel op die tafel.

In die lig van sy probleme het die groep nie ’n dividend uitgekeer nie.

Ondanks sy Covid-19-verwante probleme glo Advanced Health dat mediese fondse in Suid-Afrika al hoe meer ten gunste is daarvan dat kleiner prosedures in daghospitale gedoen word.

Die groep sê ook dit lyk asof sy inkomste in die eerste kwartaal van sy nuwe boekjaar, wat in Julie begin het, besig is om te verbeter. Geen beperkings geld meer op hospitale in Suid-Afrika of Australië nie.

Gerhard van Emmenis, voorheen hoofbeampte van die mediese fonds Bonitas, is sedert Augustus 2019 aan die stuur van Advanced Health.

Meer oor:  Resultate  |  Mediese Sorg  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.