Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Dan Matjila: ‘Dis OBK se plig om Eskom te help’

Dit bly in die belang van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) én die land se ekonomie dat die korporasie Eskom finansieel steun.

Eskom se Duvha-kragstasie buite Witbank in Mpumalanga.Foto: Eskom

Dis steeds dr. Dan Matjila, voormalige uitvoerende hoof van die OBK, se siening oor die verhouding tussen die korporasie, wat die pensioenfondsgeld van staatsamptenare bestuur, en Eskom.

Matjila het dié rede ook gebruik om ’n oorbruggingslening van R5 miljard in Februarie 2018 aan Eskom te regverdig.

Die OBK het die geld namens die staatspensioenfonds (GEPF) aan Eskom geleen.

LEES OOK: Eskom ‘te belangrik’ om te misluk, sê OBK

Eskom het op 1 Maart 2018 bevestig hy het die R5 miljard met rente terugbetaal.

Matjila het Donderdag vir die vierde agtereenvolgende dag getuienis gelewer voor die kommissie van ondersoek na gebeure by die OBK.

Matjila sê sover hy weet, en behalwe dié lening, het die OBK nie sy blootstelling aan Eskom enigsins die afgelope tyd vergroot nie.

Die OBK het dus steeds ’n belegging van R90 miljard in Eskom. Dit is meestal in die vorm van effekte.

R70 miljard hiervan word deur die staat gewaarborg. Daar is ander voorwaardes wat die ander R20 miljard betref.

Matjila het getuig hoewel dit bekend is dat Eskom onder geweldige finansiële druk is, het die OBK nooit probleme met Eskom gehad dat hy nie sy skuld terugbetaal nie.

Toekomstige beleggings

Matjila sê die OBK het wel, toe Malusi Gigaba minister van finansies was, voorstelle gedoen oor hoe sy blootstelling aan Eskom herstruktureer kon word om moontlik meer beweegruimte op Eskom se balansstaat én vir die fiskus te bewerkstellig.

Een voorstel was om die staatswaarborge op die R70 miljard prys te gee.

“Die GEPF word in elk geval deur die staat gewaarborg. As die staat die effekte ook nog waarborg, beteken dit in werklikheid ’n dubbele waarborg,” sê hy.

Matjila sê die OBK sal nie sommer die waarborge prysgee nie, maar sal definitief voorwaardes stel.

Volgens hom was een voorstel dat die OBK dan minstens ’n inset in die bestuur van Eskom moet kry.

Matjila sê sover hy weet, is die moontlikhede nie met Nhanhla Nene of Tito Mboweni bespreek nie. Nene het Gigaba in Februarie 2018 as minister vervang. Mboweni is in November 2018 in dié pos aangestel nadat Nene bedank het.

Op die vraag of die OBK sy belegging in Eskom heroorweeg afhangende van sy kredietgradering, het hy geantwoord dit word nie gedoen nie.

“Daar is nie veel wat ons kan doen as die kredietgradering daal nie.”

Eskom het ’n korporatiewe kredietgradering van CCC+ by die kredietgraderingsagentskap Standard & Poor’s Global Ratings en B2 by Moody’s Investors Service.

Dit is albei onder beleggingsgraad, oftewel rommel.

Meer oor:  Obk  |  Eskom  |  Dan Matjila  |  Daniel Matjila  |  Staatsondernemings  |  Krag  |  Obk-Ondersoek  |  Gepf  |  Staatsamptenare  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.