Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
‘Dan Matjila moet nóú waai by OBK’

Dis onaanvaarbaar dat dr. Daniel Matjila, uitvoerende hoof van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), nog vyf maande lank in sy pos kan bly, reken die Vereniging vir die Monitering en Voorspraak van Staatspensioene (AMAGP).

Adamus Stemmet, woordvoerder van dié organisasie, wat afgetrede staatsamptenare verteenwoordig, sê: “Met soveel wolke om sy kop is dit uiters ongewens dat dr. Matjila in sy pos aanbly tot ná al die ondersoeke.

Dr. Dan Matjila, uitvoerende hoof van die Openbare Beleggingskorporasie. Foto: Elizabeth Sejake

“Dit sal in sy eie belang en in die belang van almal wat by die saak betrokke is, wees as hy onmiddellik geskors kan word. Ons beweer nie dat hy die getuienis aan die kommissie van ondersoek sal probeer beïnvloed nie, hoewel dit moontlik is, maar die agterdog dat hy dit doen, sal altyd daar wees.”

Die reaksie kom nadat Matjila glo aangebied het om te bedank, maar eers oor vyf maande. Jabulani Sikhakhane, woordvoerder van Tito Mboweni, minister van finansies, het aan Netwerk24 bevestig hulle is bewus hiervan, maar die proses is nou in die hande van die OBK. Die OBK het nie op navrae gereageer nie.

Stemmet verwys na die kommissie van ondersoek na die OBK se beleggingsbesluite wat pres. Cyril Ramaphosa middel Oktober aangewys het. Regter Lex Mpati, voorheen regterpresident van die appèlhof, sal die kommissie lei. Gill Marcus, voormalige president van die Reserwebank, en die batebestuurder Emmanuel Lediga sal Mpati bystaan.

Die OBK belê die geld van die pensioenfonds van staatsamptenare, die GEPF.

Matjila was reeds self die onderwerp van verskeie ondersoeke. Op 21 Oktober is ’n forensiese verslag deur adv. Geoff Budlender oor Matjila en die OBK se finansiële hoof, Matshepo More, aan die OBK oorhandig. Dis nog nie bekend wat in die verslag staan nie.

Stemmet sê die feit dat Matjila hoegenaamd verdink is daarvan dat hy omkoopgeld van R5 miljoen van VBS Mutual Bank ontvang het om OBK-geld in dié mislukte bank te belê, is ’n verdere rede waarom hy geskors moet word.

“Buiten die bespiegeling in adv. Terry Motau se verslag, is daar nog geen bewyse dat dr. Dan by die VBS-aangeleentheid betrokke was nie. Dit is egter ondenkbaar dat die OBK nie bewus was of vermoed het dat daar ernstige probleme by die bank was nie.

“Dan moes hy as uitvoerende hoof sekerlik ook geweet het en kom art. 34 van die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Korrupsie ter sprake – selfs al is daar net korrupsie en bedrog vermoed. Dieselfde geld natuurlik die GEPF en dié se raad van trustees.

“Dis interessant dat niemand nog ooit ingevolge dié wet aangekla is nie en dít in ’n land wat vrot is van korrupsie.”

Art. 34 gaan daaroor dat uitvoerende bestuurders, direkteure, staatsamptenare en ouditkomiteelede almal verplig is om “werklike of vermoedelike misdade” aan die Valke aan te meld.

“Sou sowel die OBK as die raad van trustees (van die GEPF) onkunde pleit, kom die moontlikheid van siviele eise teen hulle in hul persoonlike hoedanigheid natuurlik as gevolg van hul gebrek aan behoorlike monitering van beleggings natuurlik ter sprake.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.