Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Dis finaal: Daniel Mminele bedank by Absa

Daniel Mminele tree op 30 April uit as uitvoerende hoof van Absa.

Daniel Mminele, uitvoerende hoof van Absa.

Die bankgroep het net voor 13:00 Dinsdag die gerugte oor Mminele se bedanking bevestig.

Hy sal ook nie meer in enige van Absa se direksies dien nie, het die direksie in ’n Sens-verklaring gesê.

“Dit het aan die partye duidelik geword dat daar nie ooreenstemming is oor sake van strategie en kultuurtransformasie nie.”

Jason Quinn, finansiële hoof, is as tussentydse uitvoerende hoof aangewys. Hy is sedert 2008 by Absa en was voorheen by die ouditfirma EY.

Binne dae sal aangekondig word wie as finansiële hoof gaan waarneem totdat finale aanstellings gedoen is.

Die direksie bedank Mminele vir sy “diens en bydrae in ’n baie uitdagende tyd vir die groep en samelewing tydens die Covid-19-pandemie. Ons wens hom alles van die beste toe met sy toekomsplanne.”

Mminele se bedanking kom net meer as 15 maande nadat hy aangestel is.

Wendy Lucas-Bull, voorsitter van Absa se direksie, het later in ’n nuusverklaring uitgewei: “Die direksie was baie opgewonde oor Mminele se aanstelling en die positiewe rol wat hy by Absa sou speel. Dis vir ons diep teleurstellend dat ons dié punt bereik het.

“Die skeiding van ons weë weerspieël bloot uiteenlopende professionele sienings en benaderings en is op die grondslag van geen fout wat begaan is nie.

“Die direksie het aan Mminele hoë agting vir sy vaardigheid en integriteit oorgedra.

“Die maatskappye glo dié besluit is in die beste belang van die maatskappy en Mminele. Dit was ’n moeilike besluit wat nie ligtelik geneem is nie.”

Lucas-Bull het nie uitgewei oor Mminele se skeidingspakket nie, maar het dit as “toepaslik” beskryf.

Mminele het luidens die verklaring gesê dis “inderdaad betreurenswaardig dat ons so gou op ons reis moet skei”.

“Dis egter belangrik dat die uitvoerende hoof ten volle in ooreenstemming met die direksie is oor kritieke vraagstukke soos strategie en kultuur.”

Mminele sê hy is beïndruk deur die “dapper, passievolle en bereidwillige mense van Absa”. Hy wens die groep sterkte toe vir die toekoms.

Business Day het Dinsdagoggend berig hy gaan waarskynlik bedank. Absa het vroegoggend bevestig dat die bepalings van ’n “geskikte skeidingsooreenkoms” met Mminele onderhandel word.

Mminele (56) was die eerste swart uitvoerende hoof van Absa. 

Sy bedanking volg kort op die uittrede van Basani Maluleke as uitvoerende hoof van African Bank. Sy is intussen deur Kenneth Bungane vervang.

LEES OOK: Wie is African Bank se nuwe baas?

Mminele was voorheen vir meer as 20 jaar by die Reserwebank, waar hy gevorder het tot die posisie van adjunkpresident en lid van die monetêrebeleidskomitee. Hy het in Junie 2019 daar uitgetree.

Mminele het vir Maria Ramos by Absa opgevolg nadat die bankgroep reeds deur groot veranderings is. Absa is in 2007 deur die Britse bankgroep Barclays oorgeneem, en die beheergroep se naam is verander na Barclays Africa. In Maart 2018 is besluit dit word weer Absa, nadat Barclays sy belang in die groep verklein het.

Mminele het in Januarie verlede jaar nog aan die media gesê hy sal nie skroom om enige veranderinge by die bank te maak indien nodig nie. Hy het wel ook toegegee hy is gemaklik met die strategiese besluite wat Absa tot in daardie stadium geneem het, maar dat hy die volle mandaat het om enige veranderinge te maak, indien nodig.

Absa moes die afgelope jare veg om markaandeel te behou teen opkomende digitale banke soos Capitec en TymeBank, asook aggressiewe nuwe veldtogte deur mededingers soos FNB om meer gebruikersvriendelik en digitaal te word.

Meer oor:  Absa  |  Daniel Mminele  |  Banke  |  Bankbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.