Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Dawie Roodt: Die eerste skote klap by SAL
drug smuggling
'n Staking woed tans by die Suid-Afrikaanse Ligdiens.

Met die skryf van hierdie rubriek het die SAL-staking pas begin, en teen die tyd dat Libertyn Sondag gepubliseer word, kan die staking dalk tot die verlede behoort.

Ek hoop nie so nie!

Dit klink dalk of ek ongevoelig staan teenoor bykans 1 000 mense wat hul werk kan verloor. Dit is allermins die geval, maar die SAL-debakel bied 'n geleentheid om die lewensbedreigende sweer in die ekonomie oop te steek.

Ek hoop die kans word benut.

Ek het al voorheen geskryf dat daar 'n onvermydelike botsing tussen die regering en georganiseerde arbeid op pad is. Georganiseerde arbeid het die stert geword wat die hond rondswaai en tot op hede het die ANC-regering hulle op elke terrein tegemoet gekom.

Die omvang van die finansiële verval by die staatsbeheerde ondernemings (SBO’s), asook die staat se finansies self, het egter nou 'n kritieke punt bereik waar daar eenvoudig nie meer aan die buitensporige eise van arbeid gehoor gegee kan word nie.

Die skuld vir die gemors moet voor die deur van die regering, en veral voor die deur van Pravin Gordhan, gelê word. Ek stem saam met georganiseerde arbeid dat swak bestuur 'n rede is vir die toestand waarin die SBO’s hulle bevind – maar dit is net een rede.

Vir eers is georganiseerde arbeid heeltemal te groot vir hul skoene. (Laat ek dadelik byvoeg daar is staatsamptenare wat onderbetaal en oorwerk is, maar dis nie die meerderheid nie!)

Georganiseerde arbeid is “deel” van die regering – Cosatu is 'n alliansievennoot wat voortdurend druk op die regering plaas om al hoe meer staatsamptenare in diens te neem teen al hoe hoër salarisse.

Tweedens word die staatsdiens en die SBO’s beskou as 'n voertuig om kaders te “bemagtig” en die patronaat van die ANC en die res van die kripvreters te voed.

Derdens is die ANC-alliansie ideologies daartoe verbind om werk te “skep” – en die staatsdiens en SBO’s het die geleentheid gebied om dié kommunistiese ideologie uit te leef.

Laastens was die ANC-regering tot nou toe doodeenvoudig te bang om georganiseerde arbeid te konfronteer.

Dawie Roodt

En as daar een mens is wat die meeste tot die gemors bygedra het, is dit Gordhan. Dit was in sy tyd as minister van finansies dat die staat se salarisrekening handuit geruk en daartoe gelei het dat die staat se finansies in duie stort. Verder was dit die einste Gordhan wat druk op die direksies van die SBO’s geplaas het om nie die nodige veranderings aan te bring nie.

Onthou verlede jaar?

Die nuwe Eskom-direksie het, korrek, die proses begin om die personeelprobleme – te veel mense wat te veel betaal word – by die instelling te pak deur onder meer te weier om salarisse verder te verhoog.

Georganiseerde arbeid het begin staak en geweld en sabotasie het daartoe gelei dat die ekonomie ernstig skade aangedoen is weens kragonderbrekings. Gordhan en kie het so groot geskrik dat hulle druk op die Eskom-direksie geplaas het om weer eens onrealistiese en buitensporige salarisverhogings toe te staan.

Die uiteinde was dat Phakamani Hadebe, die nuwe baas van Eskom, bedank het.

Ook Vuyani Jarana, die SAL se baas, het hieroor bedank. Dis goeie ouens wat deur Gordhan verhoed is om hul werk te doen.

En dis nou waar ons nou is.

Die staat en SBO’s se finansies is 'n gemors, en georganiseerde arbeid het al herhaaldelik bewys dat hulle vernietigend kan wees as daar nie aan hul eise voldoen word nie. Die regering het al in die verlede gewys dat hy vrek bang is vir dié alliansievennoot – iets moet meegee!

Die opsies is die volgende: Privatisering is nie werklik meer 'n opsie nie, want die SBO’s is in so 'n mate verwoes dat hulle in sekere gevalle nie eens weggegee kan word nie, die SAL is so 'n voorbeeld.

Die staat (belastingbetaler) kan voortgaan om die SBO’s te finansier, maar die belastinglas en die staat se beroerde finansies maak dit onmoontlik. Al wat nou oorbly, is dat die buitensporige salarisrekening van die SBO’s (en ook die staat self) verminder word. Die konfrontasie met georganiseerde arbeid is op pad.

En daarom is die SAL-staking so belangrik.

Dit is maar net die eerste skote in 'n oorlog wat voorlê. As die ANC-regering en Gordhan weer bes gee soos in die verlede, is dit sonder twyfel neusie verby met die land se ekonomie. Hier is nou 'n kans vir die regering om te bewys dat hy ernstig is om die ekonomie reg te ruk. Wen die SAL-oorlog en daarna volg Eskom en dan die staat self!

  • Dawie Roodt is die hoofekonoom van die Efficient Groep. dawieroodt@efgroup.co.z

Meer oor:  Sal  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Dawie Roodt  |  Staatsondernemings  |  Vlieg  |  Staking  |  Reis  |  Lugdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.