Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Dawie Roodt: Nes van leuens oor SAL

Verlede week kondig die departement van openbare ondernemings (DOO) aan hy “verwelkom” dit dat die tesourie die sakereddingsplan van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) “ondersteun”, en dat die tesourie die regering daartoe verbind om die nodige geld te vind om die plan te finansier.

Dawie Roodt, hoofekonoom van Efficient Groep.

Die plan stel onder meer baie gunstige afleggingspakkette aan sommige SAL-werkers voor, en sal ook lei tot die totstandkoming van ’n nuwe, “lewensvatbare, selfonderhoudende en mededingende lugdiens”.

Noudat die tesourie blykbaar namens die regering ingestem het, kan die plan in werking gestel word en die SAL moet ’n groot deel van die geld, wat R10,1 miljard sal beloop, dadelik kry.

Maar daar is ’n paar probleme.

Niemand weet of die tesourie regtig die plan ondersteun nie.

Die DOO sê wel so op sy webblad, maar die tesourie verwys navrae terug na die DOO.

Die brief wat die regering tot die redding van die SAL verbind, is wel deur albei ministers – Tito Mboweni en Pravin Gordhan – onderteken. Sedertdien het Mboweni egter getwiet daar is geen reddingsboei nie.

Dit is belangrik om sekerheid hieroor te kry.

Indien dit wel die plan is om weer vir die SAL ’n reddingsboei te gooi, moet die geld binne dae van êrens kom. Die begroting is natuurlik die voor die hand liggende plek.

Die probleem is dat die SAL die afgelope sowat ses maande reeds onder sakeredding is en dat ons in daardie tyd twee begrotings gehad het – die normale Februarie-begroting en die “noodbegroting” (amptelike bekend as ’n aanvullende begroting) verlede maand.

In nie een van dié begrotings is melding gemaak van die verdere R10 miljard wat benodig word nie.

Hou in gedagte dat die begroting ’n wet is soos enige ander wet wat deur die parlement goedgekeur moet word.

Hou in gedagte dat die begroting ’n wet is soos enige ander wet wat deur die parlement goedgekeur moet word. Indien nog meer geld op die SAL-mislukking vermors gaan word, moet dit by wyse van ’n aangepaste begroting met parlementêre goedkeuring en al gedoen word – wat alles tyd neem.

Die “noodbegroting” het ook geen bedrae opsygesit vir die SAL nie en het selfs so ver gegaan as om te se dat sommige staatsbeheerde instellings nie gaan oorleef nie. Behalwe dit, het Mboweni al op verskeie geleenthede gesê dat hy nie meer geld vir die SAL beskikbaar gaan stel nie.

Die minister het wel sekere magte om in ’n noodgeval geld te bestee sonder voorafgaande parlementêre goedkeuring. Maar niemand kan argumenteer dat die SAL ’n noodgeval is nie – die sakeredding is reeds maande aan die gang en vir baie jare voor dit het die SAL gereeld geld van die belastingbetaler ontvang en vermors.

Intussen, soos almal weet, is die staat se finansies hoofsaaklik weens wanbestuur in ’n haglike toestand en die meeste ontleders, ekonome en instellings, soos die onderskeie graderingsagentskappe, twyfel of Mboweni die noodbegroting se optimistiese doelwitte gaan bereik. Mboweni se plan bestaan hoofsaaklik daaruit om die staat se uitgawes dramaties in te kort, iets waaroor Cosatu en die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party natuurlik vuriglik verskil.

Verder was die minister van finansies, onder andere, ook genoop om die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) te nader vir ’n lening. Hoewel die fasiliteit waarvoor Suid-Afrika aansoek doen, die sogenaamde Rapid Financing Instrument, met min voorwaardes gepaardgaan benewens dat dit op Covid-19-verwante ingrypings bestee moet word, was dit nogtans nodig vir Mboweni om teenoor die IMF te onderneem om die staat se finansies onder beheer te bring.

Tito Mboweni het sy woord gegee dat hy nie meer geld op die Suid-Afrikaanse Lugdiens gaan mors nie.

Die lewe is besig om baie warm te word vir Tito Mboweni. Die kabinet ondersteun ’n “nuwe” SAL en dat geld daarop bestee moet word. Die res van die koalisie is ook gekant teen enige terugsnoei van enige staatsbesteding, maar hy mag volgens wet nie ongemagtig geld op die SAL spandeer nie, en hy het sy woord gegee dat hy nie meer geld op die lugdiens gaan mors nie.

En die ergste van alles is dat pres. Cyril Ramaphosa nêrens te sien is nie...

Een van twee goed gaan gebeur: Tito gaan die geld op die SAL spandeer, of hy gaan nié. Indien wel, sal beleggers die regering nog minder vertrou en sal die onderneming teenoor die IMF nie nagekom word nie.

Indien hy nie die geld op die SAL spandeer nie, is die hele sakereddingsplan in sy kanon en Gordhan en baie ander comrades en aanhangers gaan baie kwaad vir Tito wees. Dit sal waarskynlik die einde van Tito beteken – wat seker die beste opsie vir hom is.

Maar die ergste vir Tito sal wees indien hy wel onder die druk swig en die geld aan die SAL oorbetaal. Indien hy dit doen, sal hy en almal weet dat hy nie sy woord gestand kon doen nie. Ons sal dan weet dat Tito ook ’n leuenaar is en nie vertrou kan word nie.

Soos die res...

  • Dawie Roodt is die hoofekonoom van die Efficient Groep en ’n voormalige wenner van Netwerk24, Beeld, Die Burger, Volksblad en Rapport se Ekonoom van die Jaar-kompetisie.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.