Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Debat oor entstof-patente laat aandele val

Beleggers in groot farmaseutiese maatskappye hou nie van die rigting wat ’n omstrede internasionale debat oor entstofpatente tans inslaan nie.

Farmaseutiese maatskappye is ongelukkig met die voorstel dat patente op Covid-19-entstowwe opgehef word. Foto: Reuters

Groot farmaseutiese maatskappye se aandeelpryse het Donderdag skerp geval nadat Joe Biden, president van Amerika, aangekondig het sy land gaan die plan ondersteun om die beskerming van intellektuele eiendomsregte op die entstowwe teen Covid-19 op te hef.

Die aandeelpryse van Amerikaanse farmaseutiese maatskappye het Woensdag reeds ná die aankondiging gedaal en Donderdag het Europese en Asiese groepe s’n ook geval.

Dit is die uitvloeisel van ’n voorstel wat Suid-Afrika en Indië al sewe maande gelede na die Wêreldhandelsorganisasie (WTO) geneem het. Dit is ’n ommekeer van Amerika se vorige posisie oor die aangeleentheid en kom glo ná weke se interne beraadslaging daaroor.

So ’n beleid sal die intellektuele eiendomsregte van entstofvervaardigers ophef sodat ander vervaardigers in ontwikkelende lande in staat sal wees om hul eie weergawes daarvan te vervaardig.

Volgens The Wall Street Journal sê Katherine Tai, handelsverteenwoordiger van Amerika, die Amerikaanse regering “glo sterk in die beskerming van intellektuele eiendomsreg, maar sal dit ondersteun dat afstand gedoen word van die beskerming op Covid-19-entstowwe om die einde van die pandemie te bewerkstellig”.

“Dit is ’n internasionale gesondheidskrisis en die buitengewone omstandighede van die Covid-19-pandemie verg buitengewone maatstawwe,” sê Tai in ’n verklaring.

Europa ook bereid

Al 164 WTO-lande moet konsensus bereik vir ’n besluit om deurgevoer te word.

Die WTO vergadering weer Donderdag.

Die Europese Unie en China het volgens Bloomberg ook intussen hul bereidwilligheid aangedui om deel van die onderhandelinge te wees.

“Die Europese Unie is gereed om enige voorstel te bespreek om die krisis op doeltreffende en pragmatiese wyse aan te spreek,” het Ursula von der Leyen, president van die Europese Kommissie, Donderdag op ’n aanlyn konferensie gesê. “En dit is hoekom ons gereed is om te bespreek hoe Amerika se voorstel vir die opheffing van die patentregte op entstowwe kan help om dié doelwit te bereik.”

Nog maande lank

Handelskenners dink egter die onderhandelinge by die WTO gaan maande duur en die uiteindelike ooreenkoms sal ’n afgewaterde weergawe wees van wat Indië en Suid-Afrika voorgestel het, berig Reuters.

Clete Willems, voormalige handelsamptenaar in die Trump-administrasie, glo dit gaan op die kortste ’n maand of twee neem. Hy sê die meer realistiese doelstelling is dat ’n ooreenkoms bereik word teen die tyd dat die WTO se volgende ministeriële konferensie einde November plaasvind.

Voor Amerika se aankondiging het Indië en Suid-Afrika Woensdag op ’n vergadering van die algemene raad van die WTO hul voorneme bevestig om ’n nuwe voorstel op te stel.

Dit het daartoe gelei dat Ngozi Okonjo-Iweala, nuwe direkteur-generaal van die WTO, die hoop uitgespreek het dat ’n “pragmatiese oplossing” bereik kan word.

Tien vergaderings die afgelope sewe maande het misluk om lede van die WTO sover te kry om konsensus oor die voorstel te bereik.

Die besluit om die opheffing van die patentregte te ondersteun, is glo Dinsdag ná weke van interne besprekings op ’n vergadering by die Withuis gefinaliseer, berig The Washington Post.

Verwoestende impak

Tedros Adhanom Ghebreyesus, hoof van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), het dit ’n “monumentale oomblik in die stryd teen Covid-19” genoem toe Amerika sy ondersteuning aan die voorstel beloof het, berig Reuters.

Die farmaseutiese bedryf het egter gewaarsku dat dit ’n verwoestende impak op die vervaardiging van entstof kan hê.

“So ’n plan kom neer op die onteiening van die eiendom van farmaseutiese maatskappye wie se innovering en finansiële beleggings in die eerste plek die ontwikkeling van die Covid-19-entstowwe ’n moontlikheid gemaak het,” het dr. Amesh Adalja van die Johns Hopkins-sentrum vir gesondheidsekerheid, aan Reuters gesê.

Die grootste drukgroep in die bedryf, die Pharmaceutical Research and Manufacturers of America, voorspel as meer vervaardigers toegelaat gaan word om entstowwe te maak, gaan dit nuwe mededinging vir beperkte bestanddele skep en dit gaan produksie laat verlangsaam en selfs tot vervalste entstof lei, berig The Washington Post.

Die International Federation of Pharmaceutical Manufacturers & Associations sê die stap is teleurstellend. “ ’n Opheffing van die regte is eenvoudig die verkeerde antwoord vir ’n komplekse probleem.”

Die bRNS-entstowwe wat Pfizer, BioNTech en Moderna vervaardig, vereis spesiale tegnologie waartoe die meeste lande nie toegang het nie. Dit laat vrae ontstaan oor watter lande die tegnologiese vermoë het om dié komplekse entstof te vervaardig.

Kritici sê ook die farmaseutiese maatskappye van ryk lande en ontwikkelende lande het reeds 200 ooreenkomste vir die oordrag van tegnologie gesluit, wat toon die huidige stelsel werk.

Aandeelpryse val

Die aandeelpryse van farmaseutiese maatskappye wat die entstowwe vervaardig, insluitende Moderna, BioNTech en Pfizer, het Woensdag aanvanklik ná die nuus geval.

Pfizer het die dag uiteindelik onveranderd gesluit terwyl Moderna 6,1% verloor het en Johnson & Johnson net 0,4%.

BioNTech het Donderdag met soveel as 19% in Duitsland geval.

CureVac van Duitsland, wat besig is met die ontwikkeling van nog ’n bRNS-entstof, het tot soveel as 17% geval, terwyl Shanghai Fosun Pharmaseutical Group met 14% in Hongkong geval het ná die nuus. Voorheen is berig dié onderneming beplan om BioNTech se entstof te vervaardig.

CanSino Biologics, wat een van China se plaaslike entstowwe maak, het met 15% gedaal, Walvax Biotechnology met 11% en Chongqing Zhifei Biological Products met 8,7%.

In Japan het JCR Pharmaseuticals, ’n vennoot van AstraZeneca, met 1,4% gedaal.

Meer oor:  Astrazeneca  |  Moderna  |  Biontech  |  Pfizer  |  Koronavirus  |  Farmaseutiese Maatskappye  |  Covid-19  |  Entstowwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.