Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Shoprite: Groot debat woed oor Wiese-transaksie
A customers carries a Shoprite-branded shopping ba
Christo Wiese is tans die grootste aandeelhouer in die Shoprite-groep. Foto: Getty Images

Die Shoprite-groep se aankondiging oor ’n beoogde transaksie om die spesiale aandele met net stemreg in ruil vir R3,3 miljard se gewone aandele van die voorsitter, Christo Wiese, terug te koop het tot ’n groot debat onder batebestuurders gelei

Wiese, wat die grootste aandeelhouer van die Shoprite-groep met ’n wesenlike invloed is, het Donderdag gesê die R3,3 miljard se gewone aandele is wat hy bereid was om te aanvaar vir die feit dat hy die beherende aandele en beheer-stem in die groep prysgee.

Hy het by navraag gesê hy is “genader deur ’n onafhanklike komitee van die direksie nadat hulle deur aandeelhouers versoek is om die aandeelhouerstruktuur te normaliseer”.

“Op ander beurse is dit algemeen, maar nie hier nie. Ek het gedink as aandeelhouers so voel, is ek bereid om ’n transaksie aan te gaan.”

Hy het gesê aandeelhouers sal nou moet besluit oor die transaksie en “of dit die maatskappy gaan verbeter”.

“Ek is steeds die grootste aandeelhouer en ek gaan ook beïnvloed word hierdeur.”

Luidens die aankondiging het die Titan-groep van Wiese aan Shoprite te kenne gegee dat hy die grootste aandeelhouer wil bly en dat hy van voorneme is om as voorsitter aan te bly.

Shoprite het einde Februarie aangekondig dat hy in gesprekke getree het oor die aandele wat net stemreg het, wat alles deur die Titan-groep se Thibault Square Financial Services besit word en 32,3% se stemreg in die groep hou.

Die besonderhede van die voorgestelde transaksie is Donderdag bekend gemaak na 'n driesydige ooreenkoms glo dieselfde dag met Thibault en Titan gesluit is.

Op ander beurse is dit algemeen, maar nie hier nie. Ek het gedink as aandeelhouers so voel, is ek bereid om ’n transaksie aan te gaan.
Christo Wiese

Die aandeelhouers van die Shoprite-groep moet die voorgestelde transaksie goedkeur, maar die Titan-groep mag nie stem nie.

Ná die transaksie gaan die gewone aandeelhouers se stemreg van 57,7% tot 82,2% styg.

Die stemreg van die Titan-groep van Wiese gaan van 42,3% tot 17,8% daal.

Sy ekonomiese belang sal van 14,8% tot 17,8% verhoog.

Wiese het in 2000 die beherende aandeelhouer met spesiale stemreg geword toe Pepkor in drie maatskappye ontknoop is: Pepkor, Tradehold en Shoprite.

Toe die aankondiging in Februarie gemaak is, het aandeelhouers gunstig op die nuus gereageer en Shoprite se aandeelprys het byna 5% hoër gesluit.  In stil verhandeling Donderdag het die aandeelprys skaars beweeg.

Groot debat

’n Reuse-debat woed glo onder beleggers of Wiese enigsins vir die aandele betaal moet word. Die nominale waarde van die stemaandele is 0,1c per aandeel. 

Die voorgestelde transaksie is om 20 miljoen nuwe Shoprite-aandele aan Titan uit te reik. Dit is in ruil vir die verkryging van die stemaandele sodat dit gekanselleer kan word.

Aandeelhouers se aandeelhouding gaan met 3,5% verwater word.

Casparus Treurnicht, ’n portefeuljebestuurder van Gryphon Batebestuur, het gesê hy sal baie graag die verslag van die onafhanklike kundige wil sien oor hoe die prys bereken is.

Die direksie het ’n onafhanklike komitee aangestel om te onderhandel oor die transaksie en te bepaal wat die voordele vir die groep en sy aandeelhouers is.

Ernst & Young Advisory Services is as die onafhanklike kundiges aangestel.

’n Konsep-mening is aan die direksie verskaf dat die beoogde transaksie billik en redelik is. ’n Finale mening moet nog verskaf word.

Edward Kieswetter, wat onlangs as die nuwe hoof van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) aangewys is en hoof- onafhanklike direkteur van Shoprite is, kon nie vir kommentaar bereik word nie, want hy is glo oorsee.

’n Omsendbrief oor die voorgestelde transaksie gaan rondom 27 Mei uitgestuur word.

Graham York van Standard Bank Sekuriteite het in ’n nota wat Donderdag uitgereik is, verwys na die verskille wat bestaan onder beleggers oor wat die gepaste prys is wat Shoprite vir die aandele moet betaal.

Hy het daarna verwys dat sommige plaaslike beleggers glo “geen waarde” is eintlik die regte prys. Boonop sê hy sekere buitelandse beleggers deel hierdie sentiment.

“Oor die algemeen lyk dit of beleggers ’n skoner struktuur verkies en afstand van Wiese se entiteite . . .”

Die feit dat Wiese aanbly as voorsitter, gaan die geesdrif ’n bietjie demp, volgens hom.

Daily Maverick het onlangs vir Evan Walker van 36One aangehaal, wat meen dat Wiese niks vir die aandele moet kry nie. Terselfdertyd is Karl Leinberger, beleggingshoof van Coronation, aangehaal, wat gesê het hy sal die aandele ’n lae waardasie gee.

York het weer gesê hoewel die meriete van hoe die waardasies gedoen is, gedebatteer kan word, verkies hulle die skoner struktuur.

Francois van Wyk van PSG Wealth in Stellenbosch het gesê die 3,5% se verwatering is nie ’n groot prys om te betaal vir die verhoogde stemreg wat gewone aandeelhouers gaan kry nie. Hy glo dit verwyder ook baie onsekerhede.

Shoprite het dit in sy verklaring duidelik gemaak dat die direksie weet van die belangebotsing wat kan bestaan tussen Thibault, Titan en Shoprite ten opsigte van die transaksie en dat die gepaste sorg getref is om die direksie se onafhanklikheid te verseker.

Meer oor:  Shoprite  |  Christo Wiese  |  Aandele  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.