Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Deloitte en 126 ander gryp in by Steinhoff-saak

Deloitte, die jare lange eksterne ouditeure van Steinhoff, en meer as 126 ander partye het Dinsdag ’n speek in die wiel gesteek van ’n aansoek om die likwidasie van sy Nederlandse moedermaatskappy (SIHNV).

Regter Hayley Slingers, wat die aansoek om die likwidasie van Steinhoff International Holdings N.V. (SIHNV) aanhoor. Foto: Jaco Marais

Deloitte Suid-Afrika en die ander partye het op ’n dringende grondslag aansoek gedoen om as respondente toe te tree om die likwidasie-aansoek teen te staan.

Die een party sluit in die Municipal Employees Pension Fund en ander wat as een groep deelneem aan Steinhoff se internasionale skikking deur magtiging aan ’n oorsese onderneming, Deminor Recovery Services, te gee om hul eise te hanteer.

Ook die groep beleggers en batebestuurders van Suid-Afrika wat deur die oorsese onderneming Hamilton verteenwoordig is, het aansoek gedoen om toe te tree om die likwidasie-aansoek teen te staan.

Hul aansoeke kom nadat regter Hayley Slingers twee partye, die finansiële krediteure en die administrateurs van SIHNV, se soortgelyke aansoek onlangs van die hand gewys het.

Steinhoff het Maandag in ’n verklaring aan beleggers gesê hy en die twee partye het elk by die appèlhof aansoek gedoen om verlof tot appèl teen die bevel van 6 September, wat ingesluit het dat ’n Suid-Afrikaanse hof jurisdiksie het om ’n Nederlandse maatskappy soos SIHNV te likwideer.

Edouard Fremault, ’n vennoot en direksielid van Deminor, sê in sy funderende eedsverklaring die aansoek is gebring namens die beleggers wat Deminor verteenwoordig. Dit sluit ’n groot aantal pensioenfondse in wat aandele in Steinhoff hou.

Bernard Mostert (links agter), ’n voormalige eienaar van Tekkie Town en een van die applikante, gesels met Paul Katzeff, uitvoerende hoof van C&A Friedlander, die opdraggewende prokureurs. Foto: Jaco Marais

Die beleggers bestaan uit 78 institusionele beleggers van Suid-Afrika, Europa en Amerika, plus 49 gewone beleggers wat op een na almal Suid-Afrikaners is.

Van die institusionele beleggers het in Januarie 2019 ’n hofaansoek in Amsterdam gebring om 700 miljoen van SIHNV en onder andere Markus Jooste (voormalige uitvoerende hoof), Ben la Grange (voormalige finansiële hoof) en Christo Wiese (voormalige voorsitter) te eis. Dié regsgeding is in Maart opgeskort omdat Deminor namens die partye ’n ooreenkoms onderteken het waarin hulle sê hulle sal die voorgenome skikking ondersteun.

Luidens hul regsadvies is onbetaalde voorwaardelike of voornemende krediteure van SIHNV soos hulle geregtig om aansoek te doen om in te gryp. Volgens hom is die hoofrede vir die teenkanting van die aansoek om hulle in staat te stel om ’n “baie meer voordelige resultaat vir hulself uit die skikking te kry as wat uit ’n likwidasie gaan kom”.

Hy sê in die geval van ’n likwidasiebevel gaan die beleggers niks ontvang as likwidasiedividend nie en daar gaan jare se baie duur litigasie volg, met onvoorspelbare resultate.

Aan die ander kant, as die internasionale skikking voortgaan wat SIHNV met die meerderheid krediteure bereik het, gaan die beleggers “wat meer as 90% verloor het van dit wat hul belegging op 5 Desember 2017 was, ten minste ’n nie-onbeduidende uitbetaling ontvang”.

Adv. Almero de Villiers, verteenwoordiger van Jan Lamprecht, ’n party wat as mede-applikant tussenbeide tree om die aansoek te ondersteun. Op die agtergrond is Gavin Meinking van die opdraggewende prokureurs C&A Friedlander. Foto: Jaco Marais

“Tydsduur en sekerheid is van belang vir die beleggers, asook ’n redelike en praktiese oplossing wat ’n einde bring aan honderde regsgedinge waarin niemand kan wen nie.”

Deminor sê wat van belang is, is dat die skikking nie net deur SIHNV gefinansier word nie.

Deloitte maak ook ’n bydrae en die versekeraars van die direkteure en amptenare ook. Dit beloop saam R1,85 miljard wat verlore gaan wees in ’n likwidasie.

Deminor word deur adv. Chris Eloff SC verteenwoordig.

Christoffel Johannes Kotze, regshoof van Deloitte Suid-Afrika, sê hul aansoek kom nadat die ander twee partye se aansoeke afgewys is.

Deloitte is betrek by die skikking omdat hy ingewillig het om dit te help finansier in ruil daarvoor dat verdere eise nie teen hom gebring word wat voortspruit uit die gebeure by Steinhoff nie.

Kotze sê ’n likwidasiebevel gaan daartoe lei dat die voordele van die skikking met Deloitte verloor word.

Adv. Arnold Subel SC, wat vir SIHNV optree, gedurende sy spreekbeurt op die televisieskerm in die hof. Hy neem virtueel deel. Foto: Jaco Marais

Deloitte verwys na die oorsig oor die PwC-verslag wat SIHNV in Maart 2019 uitgereik het waarin aangedui is ’n klein groep voormalige werknemers van Steinhoff het onder leiding van senior bestuur verskeie transaksies deurgevoer wat tot oordrewe wins en batewaardes oor ’n lang tydperk gelei het.

’n Paar dae daarna het Louis du Preez, nou die uitvoerende hoof van SIHNV, in die parlement die groep betrokkenes by die naam genoem, insluitend Jooste.

“Die Deloitte-firmas ontken enige aanspreeklikheid tot enige Steinhoff-onderneming of ander persone. Maar, indien Deloitte gedagvaar word, sal hy staatmaak op die feit dat sekere senior amptenare van die maatskappy by onregmatige, bedrieglike dade betrokke was as gronde om homself teen enige eise van SIHNV en Steinhoff International Holdings (Edms) Bpk. (SIHPL) te verdedig, asook as gronde om albei by te voeg in enige eis wat teen Deloitte gebring word om ’n bydrae te lewer.”

Kotze sê SIHNV se direksie het op regsadvies besluit dis in die beste belang van die groep en alle geaffekteerde persone om met Deloitte te skik.

Deloitte voer aan die likwidasie van SIHNV sal die deurvoer van die groep se internasionale skikking voorkom.

Die aansoek om as partye tot die likwidasie-aansoek ingesluit te word, gaan Woensdag voort.

Adv. Pieter van Eeden SC, wat namens die administrateurs van SIHNV optree. Hy neem ook virtueel deel. Foto: Jaco Marais
Meer oor:  Steinhoff  |  Deloitte  |  Bedrog  |  Skikkingsooreenkoms  |  Meubelhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.