Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Deloitte sal meer as R1 mjd. vir Steinhoff-eise opdok

Die ouditeursfirma Deloitte van Nederland en sy Suid-Afrikaanse firma gaan meer as R1 mjd. opdok vir Steinhoff-eisers.

Deloitte skik met Steinhoff-eisers.

Die Nederlands geregistreerde Steinhoff International Holdings het Maandagoggend aangekondig hy het saam met die voormalige Suid-Afrikaanse beheermaatskappy van die groep, Steinhoff International Holdings (SIHPL), ’n ooreenkoms met Deloitte van Nederland en Deloitte & Touche Suid-Afrika bereik.

Ingevolge die ooreenkoms gaan Deloitte die beoogde skikking met eisers wat Steinhoff einde Julie aangekondig het, steun en bykomende vergoeding aan eisers bied.

Deloitte was vir twee dekades eers in Suid-Afrika SIHPL se eksterne ouditeur en toe in Nederland toe die maatskappy ’n moedermaatskappy daar geregistreer het en sy hoofnotering Duitsland toe verskuif het.

Deloitte gaan die bykomende vergoeding aan sekere eisers van Steinhoff verskaf, insluitende die eisers wat hul aandele in die mark gekoop het (eisers vir markaankope). Die eisers sluit in groepe wat groepsgedinge teen Steinhoff begin het ná die ineenstorting van sy aandeelprys.

Dié vergoeding kom nie verniet nie. Eisers sal sekere kwytskeldings en vrystellings moet onderteken.

Die vergoeding hang ook af daarvan dat Steinhoff die volgende stap om die skikking te bereik, suksesvol afhandel.

Deloitte is steeds in gesprek met sekere verteenwoordigers van die eisers vir markaankope oor die besonderhede van die aanbod. Dit hou verband met vergoeding vir sekere koste.

Sodra Steinhoff die volgende stap in die proses voltooi het, naamlik twee hofaansoeke wat in Nederland en Suid-Afrika gebring moet word om die skikking deur ’n hofproses te begin, gaan Deloitte 55,3 miljoen betaal om aan die eisers vir markaankope te betaal in ruil vir spesifieke kwytskelding van vervolging en verdere eise wat gebied gaan word aan die ouditfirma vir sy aandeel in wat by Steinhoff gebeur het.

Deloitte het ook ingestem om 15 miljoen te betaal aan sekere eisers wat kontrakte gesluit het om aandele in Steinhoff te bekom (kontraktuele eisers).

Deloitte het reeds in Oktober verlede jaar ’n skikking met een van die groepe wat ’n groepsgeding gebring het, bereik, naamlik met die Vereniging van Effectenbezitters (VEB).

VEB het in Junie 2018 die groepsgeding teen Deloitte gebring in Nederland namens die aandeelhouers wat aandele gehou het toe die ongerymdhede met Steinhoff se boeke in Desember 2017 aangekondig is.

VEB het aangevoer Deloitte is aanspreeklik teenoor die beleggers van Steinhoff vir sekere gebreke in die oudits wat uitgevoer is, berig Europeaninvestors.eu.

VEB het daarna sy groepsgeding teen Deloitte teruggetrek.

Dit is nie bekend of die bedrag wat Deloitte aangebied het hierbo ook die ooreenkoms met VEB insluit nie.

Deloitte sê die vergoeding wat aangebied word is nie ’n erkenning van skuld nie.

Meer oor:  Steinhoff  |  Deloitte  |  Bedrog  |  Sakeredding  |  Meubelhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.