Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
African Bank: Ouditeur skuldig aan 5 klagtes

Die twee ouditeure van Deloitte wat voor die tugkomitee van die Onafhanklike Beheerraad vir Ouditeure (Irba) gedaag is oor die oudits op African Bank voor sy ineenstorting in 2014, is nie daaraan skuldig bevind dat hulle op ’n oneerlike wyse ouditbewyse onderdruk het nie.

deloitte
Twee van Deloitte se ouditeurs is onskuldig bevind dat hulle ouditbewyse doelbewus versteek het rakende African Bank se oudit in 2013. Maar een van hulle is wel op 5 ander klagte skuldig bevind in 'n tugverhoor van Irba. Foto: Reuters

Mgcinisihlalo Jordan, die ouditvennoot wat afgeteken het op die oudits van African Bank en sy genoteerde moedermaatskappy, African Bank Investments Beperk (Abil), is wel op vyf van die tien klagte teen hom skuldig bevind.

Daniël Francois Crowther, wat Jordan in die 2013-oudit bygestaan het, het net die een klag teen hom gehad wat met die onderdrukking van inligting op oneerlike wyse verband hou.

Aanloop tot die ondersoek

African Bank is in Augustus 2014 onder kuratele geplaas weens kommer dat hy ineen gaan stort.

Dit was nadat Abil beleggers geskok het met ’n handelsverslag waarin aangedui is dat ’n verlies van minstens R7,6 miljard in die boekjaar tot einde September gely gaan word en dat die groep kapitaal van R8,5 miljard van beleggers sal moet insamel om staande te bly.

Op dieselfde dag is aangekondig dat Leon Kirkinis, die uitvoerende hoof, onmiddellik bedank.

Die meubelhandelaar Ellerine Furnishers, wat deur Abil besit is, het ’n dag later aangekondig hy gaan in sakeredding.

African Bank het mikrolenings aan verbruikers verskaf om meubels by Ellerines te koop.

Tom Winterboer, wat as die kurator aangestel is, moes die finansiële jaarstate vir 2014 van African Bank opstel. Hy het in dié finansiële state die jaarstate vir 2012 en 2013 weens beweerde foute heraangegee.

African Bank het reeds ’n verlies gely weens die Covid-19-pandemie. Foto: Argief

Dit het tot ’n ondersoek deur Irba gelei, waarna die klagte teen Jordan en Crowther ingedien is.

Irba het beweer dit was onvanpas om ongekwalifiseerde ouditmenings vir die jare 2009 tot 2013 vir die bank en Abil te gee.

Die tugkomitee moes bepaal of die ouditwerk vir 2013 (en vroeër) op onbehoorlike wyse uitgevoer is, veral ten opsigte van die afskrywing van agterstallige verbruikerskuld.

Foutiewe ouditmening

Irba het beweer Jordan en Crowther het die bank se krediethoof, Gustav Raubenheimer, afgeraai om sy kommer oor die bank se afskrywingspraktyke skriftelik aan hulle te verskaf.

Die tugkomitee het tot die gevolgtrekking gekom dat Raubenheimer se getuienis deur interne inligting van die groep weerspreek word en dat Jordan en Crowther nie aan dié klagte skuldig bevind kan word nie.

Op vier van die vyf klagte waaraan Jordan skuldig bevind is, het die tugkomitee gevind sy “gebrekkige ouditwerk” het daartoe gelei dat hy “foutiewelik” ’n ongekwalifiseerde ouditmening in 2013 oor die finansiële state van African Bank en Abil uitgespreek het.

Die vyf klagte waaraan Jordan skuldig bevind is, hou onder meer verband met:

• Die verskil tussen die afskrywingskoste wat op die finansiële state aangedui is en die bedrag wat ’n interne kredietafskrywingsmodel van die groep getoon het. Die bestuur het die verskil tussen die bedrae op verskillende wyses geregverdig. Die komitee het gevind Jordan het nie genoeg ouditbewyse verkry om die regverdigings te staaf nie.

“Dit was onvanpas vir Jordan om te aanvaar dat daar ’n regverdiging vir die volle verskil bestaan. Daar was ’n tekort van minstens R656 miljoen.

“Die gebrekkige ouditwerk het daartoe bygedra dat Jordan verkeerdelik ’n ongekwalifiseerde ouditmening oor die finansiële state vir 2013 uitgereik het.”

• Die afskrywing van lenings wat in ’n vroeë fase van wanbetaling was (tussen 30 dae en 90 dae agterstallig). Die bank se bestuur het in 2013 ’n spesifieke metodologie aanvaar om dié afskrywing te bereken. Die kurator het later die 2013-state met R3,6 miljard heraangegee omdat hy van mening was dat die metodologie wat gebruik is, onvanpas is om die afskrywing op die spesifieke agterstallige lenings te bereken.

Die tugkomitee het bevind dat Deloitte se berekening oor die afskrywings in 2013 gebrekkig was.

Ook hierdie gebrekkige ouditwerk het daartoe bygedra dat hy “foutiewelik” ’n ongekwalifiseerde ouditmening oor die 2013-jaarstate uitgereik het.

• Die bestuur van African Bank se benadering oor in duplum-lenings (waar die agterstallige rente gelyk is aan die kapitaalbedrag) was nie deur die internasionale rekeningkundige standaard IAS 39 ondersteun nie. Jordan moes daarop aangedring het dat die bestuur die fout daarmee in 2009, 2010, 2011 en 2012 regstel.

Volgens die tugkomitee het hy nie genoeg ouditbewyse gehad om in daardie jare sy siening te steun dat African Bank se finansiële jaarstate nie heraangegee hoef te word nie.

“Dit was onvanpas om van 2009 tot 2012 ongekwalifiseerde ouditmenings uit te reik.”

Die tugkomitee het vir 66 dae van Maart 2018 tot Desember 2019 getuienis aangehoor.

Daarna is nog getuienis oor twee dae in Junie vanjaar aangehoor.

Meer oor:  Deloitte  |  Abil  |  African Bank  |  Irba  |  Leon Kirkinis  |  Oudit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.