Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Deloitte praat met JSE oor Sygnia-dwarsklap

Dié berig is ná publikasie bygewerk toe die JSE kommentaar gelewer het.

Deloitte wag vir ’n bevinding van die JSE voordat hy die redes vir die uitval tussen hom en die batebestuursfirma Sygnia sal openbaar.

Deloitte se Londense kantoor. Foto: Getty Images

Yolisa Tyantsi, hoof van korporatiewe kommunikasie en reputasiebestuur by Deloitte, het Vrydagoggend aan Netwerk24 bevestig dat Deloitte nie verder kommentaar mag lewer voordat die interaksie met die JSE oor die saak gefinaliseer is nie.

Die JSE is besig met ’n feitesending om te bepaal wat die ware rede is waarom Deloitte skielik – ná minder as twee jaar as Sygnia se eksterne ouditeur – bedank het.

John Burke, direkteur van uitreiker-regulering van die JSE, het aan Netwerk24 bevestig die JSE moet vasstel of enige van die twee partye vir aandeelhouers gejok het en of daar nie-voldoening aan enige aspek van die Wet op Finansiële Markte was. Na gelang van wat bevind word, kan Sygnia ’n sanksie (gewoonlik net ’n openbare aankondiging) of ’n boete opgelê word.

Burke sê hulle kan nie sê hoe lank die ondersoek gaan duur nie.

Sygnia het Woensdag in ’n Sens-verklaring gesê Deloitte is op 5 Junie ingelig dat die firma ’n ander ouditeur soek en dat die beëindiging van Deloitte se kontrak op 13 Junie op ’n vergadering die direksie se ouditkomitee bekragtig sou word, waarna Deloitte op 11 Junie bedank het.

Sygnia beweer sy direksie het reeds op 21 Mei op ’n direksievergadering besluit om ’n alternatiewe eksterne ouditeur te soek gegewe “onbevredigende interaksie met Deloitte”, maar ook weens die “reputasierisiko wat met die firma verband hou”.

Daarna het Deloitte teruggekap met die volgende kommentaar: “Ons glo (Sygnia se) Sens bevat sekere feitelike onakkuraathede met betrekking tot die omstandighede van ons bedanking. Hoewel Deloitte die hoogste vlakke van etiese gedrag en kliëntevertroulikheid handhaaf, is ons van mening dat dit in dié geval verstandig sal wees om die ware feite te gee. Ons beoog om dit weldra te doen.”

Die reputasierisiko waarna Sygnia verwys, hou waarskynlik met Deloitte se rol as die ouditeur van Tongaat-Hulett verband. PwC doen tans ’n forensiese ondersoek na die suikerfirma se boeke in wat as potensieel ’n tweede Steinhoff beskryf word. Tongaat se aandeleverhandeling op die JSE is Maandag op versoek van die firma opgeskort tot Oktober, wanneer hy na verwagting sy 2019-resultate en herstateerde 2018-resultate gaan uitreik.

Magda Wierzycka, uitvoerende hoof van die batebestuursfirma, was die afgelope weke baie uitgesproke op Twitter oor die rol van private ouditeure. Deloitte was jare lank Steinhoff se eksterne ouditeur terwyl beweerde bedrog oënskynlik onder sy neus gepleeg is voordat dit in die 2017-resultate raakgesien is.

Die bedanking van Deloitte beteken Sygnia is vir die tweede keer in minder as twee jaar op soek na ’n eksterne ouditeur nadat die batebestuursfirma KPMG in Augustus 2017 afgedank het weens sy rol as ouditeur van die Gupta-firma Linkway Trading en ander vergrype by KPMG.

Wierzycka was Donderdag heeldag nie vir kommentaar beskikbaar nie, maar Sygnia het belowe om weldra wel verdere navrae te beantwoord.

’n Opvolg-e-pos met navrae Vrydagoggend is nog nie beantwoord nie. Dis onseker of Wierzycka Donderdag besig was met interaksie met die JSE.

Meer oor:  Deloitte  |  Sygnia  |  Kpmg  |  Magda Wierzycka  |  Ouditfirmas  |  Bedrog  |  Ouditbedryf  |  Ouditeurs  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.