Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Deloitte se onderrok gelig oor Eskom

Duisende ure se werk deur ’n span van 42 mense sonder dat ’n kontrak gesluit is, behoort die gevaarligte helder te laat flikker. Só skryf amaBhungane se Susan Comrie ná haar ure lange onderhoud met Thiru Pillay, besturende direkteur van Deloitte se bedrywighede in Afrika.

Eskom het in Oktober 2019 aangekondig dat hy Deloitte Consulting vir R207 miljoen dagvaar.

Thiru Pillay
'n Foto op Twitter van Thiru Pillay, besturende direkteur van Deloitte se bedrywighede in Afrika.

Jabu Mabuza, voormalige voorsitter van Eskom, sê in ’n beëdigde verklaring inligting wat tot hul beskikking is, wys dat Deloitte “besig was met onregverdige, onbillike, niedeursigtige en niemededingende bedrywighede deur met amptenare van Eskom te vergader voordat voorstelle ingedien is en sonder dat notules daarvan geneem is”.

Mabuza sê verder daar is kontrakte aan Deloitte toegeken al was sy dienste veel duurder as dié van sy mededingers en dat Deloitte die omvang van die kontrakte laat aanpas het tot net onder die boonste prysgrens wat die goedkeuring van die tesourie vereis ingevolge Eskom se prosesse.

Deloitte ontken al die beweringe.

Pillay het aan amaBhungane gesê Eskom probeer net om Deloitte “te boelie” totdat hy bereid is om te skik.

Mabuza beweer onder meer dat “Deloitte bykans R60 miljoen betaal is vir drie weke se werk”.

Pillay sê dit is nie heeltemal waar nie. Hy verduidelik dat Deloitte teen die tyd dat die faktuur betaal is, reeds 35 850 uur se werk gedoen het.

Lwazi Bam, uitvoerende direkteur van Deloitte, het voorheen erken die maatskappy het uit sy eie vir Anoj Singh, voormalige finansiële hoof van Eskom, genader met voorstelle van werk wat gedoen kan word.

Die eerste was in Maart 2016 om Eskom by te staan met sy multi-jaar-prysbepaling wat hy by die Suid-Afrikaanse Nasionale Energiereguleerder (Nersa) sou inhandig.

Tussen April en Junie 2016 het Deloitte ook aan nog vier ongevraagde voorstelle begin werk. Dit sluit in:

  • Die oprigting van ’n kantoor vir die bestuur van resultate (RMO) vir Eskom se finansiële afdeling;
  • Die opstel van ’n aparte RMO vir Eskom se IT-afdeling;
  • Die bekendstelling van SAP se Hana-sagteware aan Eskom; en
  • Hulp met beplanning, begroting en voorspelling.

Bam het voorheen verduidelik Eskom laat toe dat maatskappye hom met ongevraagde voorstelle nader.

Lwazi Bam, uitvoerende hoof van Deloitte Afrika. Foto: Deloitte

Indien Eskom dan wel belang stel om die werk te laat doen, moet hy ’n versoek vir ’n kwotasie aan die mark uitreik om alle mededingers die geleentheid te gee om die werk te kan doen.

Bam het verder verduidelik in só ’n situasie is dit nie ongehoord vir die maatskappy wat die voorstel maak, om die risiko te neem om met die werk te begin selfs nog voordat ’n kontrak gesluit is nie.

’n Kenner wat by ’n ander maatskappy werk en wat anoniem wil bly, sê hy weet van geen maatskappy wat bereid sal wees om die risiko te neem om R59,1 miljoen se werk sonder ’n getekende kontrak te doen nie. Dit is glo wat Deloitte wel gedoen het.

Hy insinueer dat Deloitte bereid was om die “risiko te loop” omdat hy geweet het die kontrak gaan aan hom toegeken word.

Kontrakte ‘van minder as 100 woorde’

Mabuza sê ook in sy verklaring die kontrakte wat Eskom met Deloitte gesluit het, het bestaan uit een bladsy met minder as 100 woorde daarop.

Pillay se verweer is dat daar ’n bladsy heel aan die einde van hul voorstelle is waar die kliënt kan teken of dit aanvaar word of nie.

“Wat wel gebeur, is dat ons byvoorbeeld in gesprek tree met Anoj (die finansiële hoof) . . . oor ’n voorstel en . . . ons voorstel het ’n aanvaardingsblad agteraan . . . Anoj teken dan iets wat basies lui: ‘Ek aanvaar jou voorstel en Eskom is daartoe verbind om ’n kontrak met jou te sluit’.”

amaBhungane wys daarop dat Singh in sommige gevalle nie eens dié blad geteken het nie, maar net die woorde “aanvaar en ooreengekom” daarop geskryf het.

Sean Maritz, voormalige inligtingshoof van Eskom, het glo binne ’n dag die R37,2 miljoen-voorstel goedgekeur om die SAP-installering te doen.

Hy het ook glo die voorstel van die RMO vir die IT-afdeling ter waarde van R19,7 miljoen binne een dag aanvaar.

Maritz het aan amaBhungane gesê sonder ’n kontraknommer kan betalings nie gemaak word nie.

Hy wou nie kommentaar lewer oor hoekom hy die voorstelle aanvaar het nie.

“Ek is nie in staat om enigiets te antwoord wat verband hou met die verkrygingsproses van Eskom nie, want ek is nie tans in sy diens nie.”

Pillay sê Eskom het hulle elke keer gevra om onmiddellik met die werk te begin.

Deloitte se verweer is ook dat hy nie in 2016 geweet het Eskom moet eers die mark nader vir ander kwotasies wanneer ’n ongevraagde voorstel aan hom voorgelê word nie.

– Fin24, verkort. Lees die hele artikel hier.

Meer oor:  Deloitte  |  Amabhungane  |  Eskom  |  Thiru Pillay  |  Lwazi Bam  |  Staatskaping  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.