Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Demensie: Mouton geloof vir sy openhartigheid
Jannie Mouton, voorsitter van die beleggingsmaatskappy PSG. Foto: Stefan Els

Blyke van simpatie, maar ook bewondering, het Woensdag ingestroom nadat Jannie Mouton aangekondig het hy het ’n vroeë vorm van demensie.

Die “Boere-Buffett”, een van Suid-Afrika se kleurrykste en suksesvolste sakelui, het in ’n openhartige brief op die JSE se nuusdiens, Sens, aangekondig sy korttermyngeheue word aangetas – onder meer sy vermoë om name te onthou – en hy kom soms “gedisoriënteerd” voor.

Mouton het ook aangekondig sy simptome word behandel, maar daar is in oorleg met PSG se direksie besluit hy moet vir eers aanbly as nie-uitvoerende voorsitter van die groep.

Lees sy volledige brief hier.

Mouton sr. skryf onder meer: “PSG is my lewe en ek het myself toegewy aan die maatskappy vir die afgelope 22 jaar. Ek is ongelooflik trots op die ondernemings wat ons oor die jare heen staangemaak het, soos Capitec, PSG Konsult, Curro, Zeder en al die ander beleggings vir die toekoms. Daar is soveel geleenthede waaraan die PSG-span werk op die oomblik.

“Ek is ook trots op die positiewe bydrae wat ons tot die Suid-Afrikaanse ekonomie gemaak het, en steeds maak. Ek bly glo dat hierdie ’n land vol geleenthede is met baie talentvolle mense.”

Sy openhartigheid en publieke omarming van sy kwesbaarheid is die stoffasie waarvan groot leiers gemaak is.
Kruger van der Merwe, leser

Sy seun Piet Mouton het aan Nellie Brand-Jonker gesê dié brief is uitgereik om ’n “lelike geskinder” in die kiem te smoor. Gerugte is onder meer versprei dat Mouton sr. breinkanker het.

Oor sy pa se toestand sê Mouton jr., uitvoerende hoof van PSG: “Dis nie op die oomblik baie erg nie. Hier en daar vergeet hy ’n naam en herhaal homself ’n bietjie, maar jy sal nou saam hom kan uiteet en niks agterkom nie.

“Hy sal nog baie lank kan funksioneer soos nou. En hy het pille wat help . . .”

Mouton sr., wat 71 jaar oud is, is al jare lank die nie-uitvoerende voorsitter van die groep. Hy het hom reeds verlede jaar in ’n onderhoud met Willemien Brümmer as “semi-afgetree” beskryf, hoewel hy nog elke dag ingaan kantoor toe: “Vir my is dit lekker, ek gaan elke dag kantoor toe, maar ek ry eers negeuur. Elke oggend gaan ek net verby die kantoor van die dametjie wat die boeke doen hierbuite en ek teken ’n paar tjekkies, dié soort van goed. Dan gaan ek kantoor toe, dan vat ek die twee Engelse koerante en lees dit eers en doen daai sudoku’s – dan is dit so tienuur se kant voordat ek iets doen.”

Mouton jr. het die versoek herhaal dat die media hul privaatheid moet respekteer. Sy pa wil nie nou onderhoude toestaan nie.

Mouton sr. het PSG in 1995 gestig en sedertdien het dié groep verskeie slim beleggings gedoen – een van die redes waarom Mouton die “Boere-Buffett” gedoop is. PSG besit onder meer 30,7% van Capitec Bank en 56,4% van die private-onderriggroep Curro.

Daarby het PSG Konsult, die PSG-filiaal wat finansiële advies, versekering en batebestuur doen, in 2014 afsonderlik genoteer.

Talle lesers op Netwerk24 het Mouton sterkte toegewens en dit as ’n dapper en “eerbare ding om te doen” beskryf dat hy openhartig is oor sy siekte.

Kruger van der Merwe skryf: “Sy openhartigheid en publieke omarming van sy kwesbaarheid is die stoffasie waarvan groot leiers gemaak is.”

Koos Grové skryf: “Jannie Mouton, ek haal my hoed af vir jou kommunikasie en jou benadering tot die siekte. Mag jy net vreugde en geluk ervaar in jou pad vorentoe.”

Mouton sr. se sakeryk het vlamgevat nadat hy 23 jaar gelede afgedank is by die makelaarsfirma Senekal, Mouton en Kitshoff (SMK), waar hy ’n vennoot was.

Hy woon op die plaas Klein Gustrouw in die Jonkershoekvallei in Stellenbosch.

Mouton is bekend as ’n groot versamelaar van Afrikaanse letterkunde en kuns.

En toe fire hulle my, sy lewensverhaal soos vertel aan Carié Maas, is in 2011 deur Tafelberg uitgegee.

Mouton is in Carnarvon in die Noord-Kaap gebore.

Oor demensie

Demensie is ’n algemene term wat gebruik word om verskeie siektes en toestande wat breinselle beskadig, te beskryf.

Iemand wat demensie het, het ook nie noodwendig Alzheimer se siekte nie, maar iemand wat Alzheimer se siekte het, het ’n vorm van demensie.

Demensie is nie ’n spesifieke siekte nie, maar ’n term wat ’n wye reeks simptome beskryf en dit is deel van 60% tot 80% van mense wat Alzheimer se siekte het. Vaskulêre demensie kom soms ná ’n beroerte, of ná klomp kleiner beroertes, voor.

’n Ander vorm is demensie met Lewy-liggaampies. Dit dui op die klein strukture (’n tipe proteïene) in senuweeselle en dit lei tot die aftakeling van breinweefsel, volgens die Mayo Clinic. Daar is ander skaarser vorms van demensie.

Die simptome van demensie kan aansienlik verskil, maar die toestand is progressief. Die behandeling is simptomaties.

Volgens die Mayo Clinic is daar middels wat ’n chemiese boodskapper wat betrokke is by oordeel, ’n hupstoot kan gee, asook ander middels wat ’n ander chemiese boodskapper help met geheue en leer. Antidepressante en gemoedstabiliseerders word ook gereeld voorgeskryf.

Meer oor:  Psg Konsult  |  Psg  |  Curro  |  Piet Mouton  |  Jannie Mouton  |  Demensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.