Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Denel: Balju skryf nog bates op

Denel se roerende bates word links en regs deur die balju opgeskryf soos wat Solidariteit die leisels al hoe stewiger neem van wat by die staat se wapentuigvervaardiger gebeur.

Denel
’n Rooivalk-aanvalshelikopter wat deur Denel ontwikkel is. Foto: Denel

Solidariteit sê Donderdag aan Netwerk24 dat die balju ingevolge ’n hofbevel van Maart begin het om by elke afdeling van Denel roerende bates “op te skryf”.

Dit beteken Denel mag nie meer die bates verkoop nie en dit moet opsygesit word vir die uiteindelike opveiling daarvan om R12,7 miljoen in te vorder vir die betaling van agterstallige salarisse aan Solidariteit- en Uasa-lede wat werknemers van Denel is.

Die geld is slegs genoeg om gedeeltes van die agterstallige salarisse vir die periode Mei tot Julie 2020 te betaal, en dek ook nie statutêre aftrekkings soos inkomstebelasting en versekering nie.

Solidariteit het op 4 Maart ’n lasbrief vir eksekusie bekom om beslag te lê op Denel se bates om geld in te vorder vir die gedeeltelike betaling van agterstallige salarisse.

Helgard Cronjé, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, sê Denel wou aanvanklik deur middel van versoeke vir vergaderings en onderhandeling die beslagleggingsproses stopsit.

Maar die balju het “sy ding gedoen”, sê Cronjé.

Solidariteit is nie bewus van watter bates geoormerk is nie, net dat die balju die somme maak en begin het by Denel se Overberg-toetsbaan in die Wes-Kaap.

Maar Cronjé verduidelik dat die proses reeds vrugte dra, al is niks nog amptelik verkoop nie.

Denel se afsonderlike afdelings het nou begin om betalings uit hul eie uit te doen aan werknemers om gedeeltes van die agterstallige salarisse vir die periode van Mei tot Julie te dek.

Daar is egter ’n probleem met hierdie stappe.

“Hulle speel nou speletjies met ons,” sê Cronjé.

Die geld wat nou ingespan word om ou skuld te vereffen, word bloot afgetrek van die lopende rekening wat veronderstel is om tans werknemers mee te vergoed.

Denel is dus besig om opnuut werknemers gedeeltelike salarisse te betaal, net sodat hy ou skuld aan werknemers kan vereffen om hofbevele te probeer nakom.

Skuld bou op

Cronjé verduidelik die ander probleem bly dat Denel nie net vir die periode Mei tot Julie gedeeltelike salarisse betaal het nie.

Dié praktyk duur sedert Augustus voort.

Maar Solidariteit sê die druk wat hy nou uitoefen op Denel begin werk.

“Ons word nou baie betrek by die omkeerplan van die onderneming,” sê Cronjé.

Waar vakbonde aanvanklik uitgesluit is van die proses om die staatsonderneming om te keer, is Solidariteit nou baie diep in die proses verwikkel.

Cronjé sê Denel het nou ’n nuwe omkeerplan geskep.

Die plan lyk volgens hom op die oog af splinternuut, wat mense dalk bekommerd kan maak, maar in sy kern is dit nog baie eenders aan die visie van die voormalige uitvoerende hoof, Danie du Toit.

Solidariteit is vol vertroue dat die plan gaan werk.

Die departement van openbare ondernemings het volgens Cronjé ’n “kombersgoedkeuring” aan Denel verleen vir nuwe vennootskappe en projekte.

En Solidariteit sal help om die plan te bewerkstellig.

Hou die druk vol

Intussen is Solidariteit nie van plan om die druk op die onderneming te verlig om sy huis in orde te kry nie.

Cronjé sê die vakbond berei reeds sy volgende regstappe voor om te verseker dat agterstallige salarisse vir die periode ná Julie óók ingevorder word vir sy en Uasa se lede.

“Ons gaan nie besgee nie.”

Deur die druk op Denel vol te hou, mik Solidariteit daarna dat Denel homself spoedig met Solidariteit se hulp regruk.

Regter André van Niekerk het in Maart uiteindelik sy uitspraak gelewer in die saak teen Denel vir minagting van die hof.

Volgens Cronjé het Van Niekerk nie, soos Solidariteit gevra het, besluit om die Denel-direksie vir ses maande op te sluit weens die versuim om Augustus se hofbevel te eerbiedig dat alle agterstallige salarisse betaal moet word nie.

Maar dit is steeds ’n oorwinning vir die vakbond omdat Van Niekerk nou Denel onder geregtelike hersiening geplaas het.

Dit beteken Denel sal teen die sperdatum van Julie voor die hof moet kom getuig hoe hy vorder met sy omkeerplan en hoe hy sal verseker dat werknemers betaal sal word.

Volgens Cronjé is hierdie soort aanspreeklikheid, asook die hulp van die vakbond, presies wat nodig is om Denel te red.

Meer oor:  Solidariteit  |  Denel  |  Uasa  |  Wapenvervaardiger  |  Vakbonde  |  Staatsondernemings  |  Salarisse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.