Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Denel: Beslaglegging nou al uitweg vir vakbonde
’n 155 mm G5-kanon wat Denel gebou het. Foto: Denel

Solidariteit en die vakbond Uasa sal moet beslag lê op die roerende bates van Denel om die agterstallige salarisse vir hul lede te bekom, sê vakbonde.

Van April tot Oktober skuld Denel al R109 miljoen aan die 1 368 lede van Solidariteit en Uasa wat by die wapentuigvervaardiger werk en die meeste net ’n deel van hul salaris ontvang het.

Denel moes ingevolge ’n vorige hofbevel teen 7 Augustus al sy uitstaande kontraktuele en statutêre verpligtinge teenoor Solidariteit-lede wat in sy diens is, nakom. Dit het die betaling van alle uitstaande salarisse vir April, Mei, Junie en Julie ingesluit.

Die bedrag hiervan is voorheen bereken op sowat R22 miljoen, maar Solidariteit sê dit moes nou herbereken word en sal waarskynlik meer wees.

In die tweede hofsaak teen Denel het Solidariteit die staatsonderneming se direksie direk aanspreeklik probeer hou vir minagting van die hof deurdat die salarisse nie op 7 Augustus betaal is soos die hof beveel het nie.

Dié uitspraak word nou Donderdag verwag.

In werklikheid het Denel net tot Donderdag 3 Desember om agterstallige salarisse vir April tot Julie te betaal as sy direksie die kans op vervolging wil vryspring.

Pam Malinda, woordvoerder van Denel, sê aan Netwerk24 dat die maatskappy egter nie 3 Desember interpreteer as ’n sperdatum vir betaling nie.

Sy regsafdeling is nog besig om te werk aan ’n amptelike antwoord en die maatskappy is dus nog onseker of hy wel sal betaal.

Helgard Cronjé, sektorkoördineerder van lugvaart en verdediging by Solidariteit, verduidelik dat die kanse egter skraal is dat die hof Solidariteit se aansoek vir tronkstraf vir die direksie van Denel sal eerbiedig.

“Ons enigste uitweg is om voort te gaan met die beslagleggingsbevel.”

Volgens Cronjé is dit duidelik dat Denel bloot nie die geld het om te betaal nie.

Maar werkers kan nie vir soveel maande gaan sonder salarisse gaan nie.

“Dit is sleg dat hulle praat oor sperdatums terwyl mense nou al hul huise moet verkoop omdat hulle so min geld het,” sê Cronjé.

Tans word werkers in verskeie afdelings steeds net ’n deel van hul salaris betaal en daar is nog geen sprake van die betaling van agterstallige salarisse nie.

Denel Aeronautics is nou die enigste afdeling wat weer ten volle salarisse betaal. Denel PNP betaal tans net 70%, Denel Land Systems 40% tot 90% afhangende van betaalvlak, Denel Vehicle Systems 60% en Denel Dynamics net 9% van salarisse.

Denel Land Systems skuld etlike miljoene aan Denel Dynamics, wat maak dat dié afdeling net 9% van salarisse kan betaal.

Volgens Cronjé is dié penarie die regstreekse gevolg van Talib Sadik, waarnemende hoof van Denel, se verklaring dat elke afdeling van Denel voortaan vir sy eie finansies verantwoordelik is.

Intussen beplan Solidariteit ’n protesaksie buite Denel se kantore in Pretoria vir Woensdag in ’n poging om die maatskappy te dwing om beter na sy werknemers om te sien.

Donderdag se hofuitspraak oor moontlike minagting van die hof deur die Denel-direksie sal egter nie die vakbond keer om lasbriewe vir beslaglegging op bates te probeer bekom nie.

Solidariteit en Uasa moedig nog deurentyd hul lede aan om aan te hou werk, al word hulle nie ten volle betaal nie.

Meer oor:  Solidariteit  |  Denel  |  Maatskappye  |  Staatsondernemings  |  Beslaglegging  |  Wapens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.